Volhoubaarheid in onstabiele landbou- en finansiële omstandighede is die fokuspunt waarom Japie Breedt van Bapsfontein se boerderyfilosofie draai. Met ’n lewensuitkyk dat ’n mens jouself altyd moet druk om beter te presteer, is dit geen wonder dat Breedt vanjaar weer die verhoog betree het met ’n eerste plek in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie nie.
Hoewel dit nie die eerste keer is wat Breedt ingeskryf het nie, het hy vanjaar in ’n nuwe afdeling meegeding. In die afdeling vir sojabone wat onder besproeiing verbou word, het hy ’n variëteit van Agri-Seed & Technology (AST), RA660 RR, ingeskryf en gewen met ’n opbrengs van 6,197 t/ha.
Hy plant ’n totaal van 346 ha sojabone bestaande uit ’n pakket van AST-variëteite waarvan 40 ha met RA660 RR geplant is. “Groeilengte is vir my deurslaggewend en daarom kyk ek spesifiek na variëteite met groeilengtes wat in my produksieplanne inpas.”
’n Passie vir boerdery
Sy passie vir boerdery is duidelik te sien in sy sukses. Benewens die feit dat dit vanjaar die vyfde keer is wat hy aan die kompetisie deelneem, is dit nie die eerste keer dat hy op die wenpodium gestaan het nie. “Boerdery is my groot passie en hoewel ek dit as my roeping sien, moet dit ook winsgewend wees. Daarom skryf ek in. Ek wil myself teen ander produsente toets. Vanjaar was dit vir my belangrik om te sien hoe my besproeiingbestuurspraktyke opweeg teen die praktyke van ander besproeiingsprodusente.”
Hoewel opbrengs belangrik is, bly winsgewendheid die fokus. Hy verduidelik dat hy spreiblaaie het vir elke gewas wat verbou word. “As die graanpryse laag is, bly opbrengs die troefkaart. Dit moet wel finansieel sin maak, veral in ag genome die voortdurende styging in insetkoste.”
Hoewel hy vooraf besluit het watter blok hy gaan inskryf, het hy steeds sy standaardbestuurspraktyke gevolg.
As derde geslag Breedt, boer hy sedert 2008 op die plaas Bronkhorstfontein naby Bapsfontein, wat hy by sy pa huur. Vandat hy begin boer het, het hy toenemend meer gefokus op presisieboerdery. Hy doen ook elke jaar proewe om nuwe idees te toets teen die praktyke wat hulle reeds volg. Sy oogmerk is om voortdurend te verbeter en om veral water nog meer doeltreffend te bestuur.
Hy plant vroeg in die seisoen wanneer die grondvog voldoende en die grondtemperatuur bo 10 ˚C is. Hy het 472 mm reën op die betrokke plaas in die 2023/2024-seisoen ontvang en doen moeite om die vog en die uitwerking daarvan op die gewasse noukeurig te meet. Hierdie fokus is veral van toepassing op sy droëlandproduksie.
Die saaiery is die hoofvertakking van die boerdery en hy verbou geelmielies (60%) en sojabone (40%). Sy wisselboustelsel is gebaseer op rotasie, waar hy jaarliks die lande tussen sojabone en mielies afwissel. Hy sal wel soms koring onder spilpuntbesproeiing plant as die weervooruitsigte gunstig is vir koringverbouing.
Hy boer ook met vee, wild en avokado’s op ander plase. Die wenblok asook van die ander aanplantings is op 14 September 2023 aangeplant met ’n John Deere-planter wat toegerus is met Precision Planting se uitmeeteenhede. Hy het op 15 Maart 2024 met ’n John Deere S780-stroper, toegerus met ’n 30 voet-Flexible Draper-stropertafel, gestroop.
Sy sojabone word in rywydtes van 76 cm geplant teen ’n plantpopulasie van 180 000 pitte/ha om te verseker dat hy 160 000 plante/ha realiseer. “Ons het probeer om enkelsaadplasings (singulation) in sojabone so na as moontlik aan 100% te kry. Ons het dit nie heeltemal reggekry nie, maar uitgekom op 97,5%. Ek stel my hierdie plantdigtheid ten doel omdat die sojaboonplant se sytakke dan vir my meer nodes gee en meer nodes beteken meer peule en meer pitte. Die risiko’s verbonde aan hierdie lae stand word verlaag deur die feit dat ons water kan toedien om te help met opkoms.”
Presisieboerdery
Breedt is ten volle toegespits op presisieboerdery. “Elke aspek van die boerdery word presies gemeet en deeglik in praktyk uitgevoer. Alles in boerdery gaan oor presisie en tydsberekening. In ’n plant se fisiologie gebeur sekere dinge op sekere tye en daarom benodig die plant spesifieke dinge op spesifieke tye. As daar nie genoeg vog of voedingstowwe op sekere kritieke stadiums in die plant se ontwikkeling beskikbaar is nie, kan dit nie optimaal ontwikkel nie,” verduidelik hy.
Die inligting wat deur die jare bymekaargemaak is, word op een platform verwerk in ’n bestuurstelsel vir die boerdery. Hy gebruik die Fieldview-program van Climate Corporation, ’n afdeling van Bayer, en Precision Planting se presisietoerusting. Hy dien kunsmis en kalk variërend toe en plant ook ’n variërende plantestand. Hy skryf self die variërende kaarte. “Data wat omgeskakel is in bruikbare inligting is noodsaaklik. ’n Mens kan geen aspek van ’n boerdery, hetsy dit bemarking, produksie of finansiële bestuur is, afskeep deur met onvoldoende of verkeerde data te werk nie.”
Sy raad aan ander produsente is dat dit die moeite werd is om in goeie presisietoerusting te belê. “Dit wat ’n mens verloor op die lang duur deur nie die toerusting aan te skaf en te gebruik nie, is veel meer as die aanvanklike koste van die belegging. Presisietoerusting is ’n belegging in jou boerdery. Verkeerde en onnoukeurige toediening van bemesting bring onnodige addisionele koste mee wat eintlik as ’n verlies bereken moet word. Ek glo vas daaraan om in goeie praktyke, toerusting en tegnologie te investeer.”
Hy probeer soveel moontlik minimumbewerking doen, maar laat hom lei deur die grond. Die meerderheid van die wenblok bestaan uit redelike swaar Westleigh-grond. Die res van die plaas varieer tussen Westleigh-, Bainsvlei-, Avalon-, Clovelly-, Glerosa- en Katspruit-grondtipes.
Hierdie grondverskille word bestuur deur kennis. “’n Produsent wat sy plaas ken, sal hom volgens die verskille bestuur. Kennis van jou plaas en grond is van kritieke belang.”
Die hele plaas is gekarteer en Breedt doen jaarliks grondontledings. Die bemesting word na gelang van die resultate uitgewerk en kalium en kalk word dan variërend toegedien. Hy strooi voor plant hoender- of beesmis op die lande waar hy mielies gaan plant en kalium op die lande waar hy sojabone gaan plant.
Hy meen die voedingstatus van die grond speel ’n deurslaggewende rol in opbrengs. Aan die begin van die seisoen word bemesting volgens die opbrengspotensiaal van ’n spesifieke land en die kultivar wat op daardie land geplant gaan word, bepaal. Afhangende daarvan, wissel die bemestingspeile tussen 7 t/ha en 12 t/ha. Blaarontledings word jaarliks gedoen en bemesting word daarvolgens aangepas en toegedien. Hy hou sy grond se pH op ’n gemiddeld van 6.
Plaagbeheer word met behulp van sy chemiese agent, Francois Kruger, gedoen en hulle gebruik hoofsaaklik Syngenta-produkte. Wat siektebeheer betref, het hy twee swambespuitings gedoen en sê hulle moes vinnig spring om rooispinmyt te beheer. “Swamdoders vorm deel van my standaardbeheerpraktyke aangesien ek jaarliks, selfs tydens droër jare, positiewe resultate verkry wat dit vir my die moeite werd maak om te spuit.”
Ampligo word standaard teen bolwurm toegedien. Hy gebruik ook Ampligo en Karate op sy mielies, aangesien hy deesdae slegs GMO-vrye mielies aanplant.
Blaarvoedings moet volgens Breedt gebruik word om fisiologiese prosesse in die plant aan te help. “Blaarvoedings moet nie gesien word as voeding nie. Dit is slegs deel van jou gereedskap om potensiaal te ontgin. Dit bly belangrik om eers die basiese beginsels onder die knie te kry.”
Breedt dien ’n biologiese produkmengsel in die voor toe wat aangepas word na gelang van die spesifieke land se eienskappe.
Uitdagings
Sy grootste uitdagings die afgelope plantseisoen was hitte en rooispinmyt.
Breedt glo aan proewe om nuwe kultivars en praktyke te toets en kry baie van sy inligting waarop hy vertrou uit sy eie proewe en navorsing. Hy plant ook proewe met die Fieldview-toepassing om verskillende plantestande en kunsmistoedienings te ondersoek en om te bepaal wat die uitwerking van die hoeveelheid kunsmis, tyd van bemesting asook die metode en plek van toediening op die gewas is. Ander proewe in sy omgewing word ook in ag geneem. “Hierdie inligting is uiters belangrik om te bepaal wat die optimum toedieningsvlak en metode is vir die mees winsgewende opbrengs.”
Dit is vir hom belangrik om die regte kundiges op elke vlak van die boerdery te identifiseer en om hulle kundigheid te tap. Hy maak ruimskoots van hierdie kundiges se kennis gebruik omdat hyself nie oor al die kennis vir suksesvolle, intensiewe boerdery beskik nie. Verskeie mediaplatforms word gevolg en hy bestudeer daardeur ander sojaboon- en mielieprodusente se verbouingspraktyke. Hy evalueer hulle manier van boer en kyk hoe hy van die metodes in sy eie boerdery kan toepas.