ONS LEEF IN ’N NUWE WÊRELD

Gepubliseer: 11 Desember 2024

148
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

Ek is nou amper ’n jaar deel van die Graan SA-span. Om na ’n geruime tyd terug te keer na die landbousektor, is soos ’n familie-Kersfees nadat jy ’n klompie jare weg was. Dit is lekker om almal weer te sien. Aanvanklik merk jy die dinge op wat dieselfde gebly het – en dan begin jy die verskille raaksien. Die oom met sy stout grappies is steeds daar, maar die tieners het intussen grootgeword en is nou bekwame en interessante individue.

Net so het die landbou en die omgewing waarin ons werk die laaste paar dekades wesenlik verander. Die noe­menswaardigste is die regering van nasionale eenheid wat ’n waterskeiding in Suid-Afrika se politieke geskiedenis verteenwoordig. Politiek sal nou meer verantwoordbaar wees as in die verlede, maar ons moet maar gewoond raak aan die chaos en onsekerheid van koalisie­regerings. Ons sal steeds sukkel met uitvoe­ring, maar die regering sal meer as voorheen luister soos wat hulle nader aan kiesers probeer beweeg. Tog is dit alles agtergrondgeraas wanneer jy in die greep van die kosteknyptang verkeer.

Die ekonoom Schumpeter se konsep van kreatiewe vernietiging is sigbaar in die landbousektor in al sy glorieryke kreatiwiteit en die vreesaanjaende afbreek van alles wat nie die mark se maatstaf haal nie. Ek staan in verwonde­ring oor die tegnologiese veranderings van die laaste twee dekades. Rekenaartegnologie het nie net alledaags geword nie, maar ook noodsaaklik. Selfone en sosiale media is orals. Almal, van werktuigkundi­ges tot rekenaarprogrammeerders, gebruik YouTube om idees te kry om hul werk beter te doen. Daar is ook ’n verskuiwing van sosiale media na kunsmatige intelligensie, wat ’n hele nuwe era inlei.

Idees versprei soos ’n veldbrand op sosiale platforms met verbruikers as aktiviste. Voedselpaniek volg vinnig op voedselvrees en verbruikers eis dat ons beperkte reeks chemiese middels verbied word. Kort gelede noem ’n kollega dat ons landbouchemikalieë moet sien as medisyne vir plante. Net soos by medisyne vir mense is daar ’n voorskrif en ’n dosis. As jy nie hierby hou nie, kan die medisyne ondoeltreffend of gevaarlik vir jou gesondheid wees. Dieselfde geld vir landboumiddels en ons moet daardie prentjie met die verbrui­kers
van ons produkte deel.

Ek het op ’n plaas grootgeword en baie jare in die landbousektor spandeer, maar ek het ’n hernude waardering en begrip vir die risiko’s en spanning waaronder graanprodusente werk. Hulle belê jaarliks miljoene in die grond en bid vir ’n goeie seisoen en guns­tige mark. Ek staan verstom oor Graan SA,­ ’n organisasie wat oor tyd deur graanpro­dusente opgebou is. Ek waardeer die verantwoordelikheid om ’n omgewing te skep waarin graanprodusente voedsel vir die nasie op ’n winsgewende en volhoubare manier kan produseer. Graan SA is die hoofkantoor en die belangebevorderingsorganisasie vir alle graanprodusente in Suid-Afrika. Wat ’n groot voorreg!

Ons staan egter voor moeilike tye. Internasionale markte is onder druk, klimaatsverandering lyk eg en regerings en produsente oor die wêreld heen sukkel om die balans tussen bemagtiging en besker­ming deur regulasies en wetgewing te vind.

Na ’n moeilike jaar kan daar egter uitgesien word na die naderende feestyd wat ’n spesiale geleentheid skep vir beide introspeksie en vernuwing. Vir produsente gaan Kersfees nie net oor die viering van saamwees met familie en vriende nie, maar ook oor die dankbaarheid vir die oes en die seëninge van die jaar. As Christene word ons daaraan herinner dat hierdie seisoen ’n spesiale tyd is om na te dink oor die geboorte van ons Verlosser wat gekom het om vrede en hoop na ’n wêreld vol behoef­te te bring. Net soos Hy gekom het om te dien, dien ons graanprodusente ook in hulle strewe om voedsel aan hul medemens te voorsien.

Met ’n nuwe jaar op hande word ons ook herinner aan die veerkragtigheid en vasberadenheid wat die Skepper ons gegee het. Die uitdagings wat ons op die plaas moet trotseer, is nes die uitdagings wat ons in die lewe teëkom. Dit is nooit te groot om te oorkom nie as ons dit met geloof, harde werk en volharding aanpak. Terwyl ons na die toekoms kyk, weet ons dat elke seisoen nuwe geleenthede en uitda­gings bring. Met krag van Bo sal ons voortgaan om die toekoms met moed en hoop te verwelkom, gevul met vertroue dat daar in ons behoeftes voorsien sal word en dat ons deur elke seisoen leiding sal ontvang.

Mag hierdie tyd van die jaar vrede en vreugde in jou hart bring en die nuwe jaar groei en voorspoed vir jou, jou familie en plaasarbeiders.