Danus van Zyl boer op die plaas Doringfontein naby Leeudoringstad. Hy het drie jaar gelede by sy pa, Kobus van Zyl, op die plaas aangesluit en saam boer hulle onder die besigheidsnaam DVZ-boerdery. Hy is die vierde geslag Van Zyl op die plaas.
Dit was die eerste jaar wat hy – op aandrang van hulle Agricol-agent, Johan Bonthuys – aan die Groei vir Goud-opbrengskompetisie deelgeneem het. Van Zyl meen as die sonneblom in die komende seisoen so mooi lyk, sal hy weer inskryf. “Ek dink hierdie kompetisie stel ’n mens bloot aan die praktyke wat produsente in ander gebiede volg en skep die geleentheid om met mekaar daaroor te gesels. Ek kan sien wat werk by ander produsente en kyk hoe ek dit moontlik in ons boerdery kan toepas in die toekoms.”
Van Zyl het die eerste plek behaal in die kategorie vir sonneblomolie. Hulle het ’n opbrengs van 4,147 t/ha en ’n olie-opbrengs van 1,93 t/ha behaal met ’n Agricol-baster, AGSUN 5270, en ’n oliepersentasie van 46,6% gerealiseer. Hierdie 4,147 t/ha-opbrengs het ook aan hom die derde posisie besorg in die afdeling vir sonneblomopbrengs.
Die afgelope seisoen het hulle vir die eerste keer die sonneblomgraan se olie-inhoud laat toets. Van Zyl is oortuig daarvan dat die toekoms van sonneblomproduksie nie net in opbrengs lê nie maar ook in olie-inhoud.
Hulle pas wisselbou toe in ’n vierjaarsiklus met mielies, grondbone en sonneblom. Hulle het hul totale sonneblomproduksie van 32 ha met AGSUN 5270 gedurende die laaste gedeelte van
November geplant en gestroop in Mei. Die rywydtes was 91 cm en die plantestand 48 000 plante/ha met die hoop dat hulle ’n stand van 45 000 plante/ha sou realiseer.
Midsomerdroogte
Soos die res van die somergraanproduksiegebied het hulle ook ’n midsomerdroogte beleef wat stremming op die plante geplaas het en groot uitdagings gestel het. Die totale reënval op die plaas vir die hele jaar was 320 mm en vir die produksieseisoen het hulle 278 mm ontvang.
“Sonneblom moet nie meer gesien word as ’n afskeepgewas wat laat in die seisoen geplant word wanneer die planttyd uitloop nie. Wanneer sonneblom op die optimale planttyd geplant word en soos ander gewasse bestuur word, kan dit vroeg in die stroopseisoen met finansiële voordeel gestroop word. Ons werk daaraan om sonneblom vroeg in die seisoen te plant, sodra toestande dit toelaat. Ons wil graag elke jaar ons opbrengs verbeter.”
Die aanpassingsvermoë van ’n kultivar is vir die Van Zyls een van die belangrikste eienskappe waarop gefokus word as dit kom by kultivarkeuse. “Ons het sandgronde wat die graanproduksie ’n bietjie meer ingewikkeld maak. Wanneer ’n kultivar geplant word, moet ons weet dat dit sal kan oorleef in ons warm en sanderige toestande.”
Hulle het ook ’n veekomponent wat bestaan uit ’n kommersiële bees- en skaapkudde. Die vee bewei die oesreste in die winter en die res van die stoppels word op die lande gelos.
’n Kontrakteur word gebruik om met die grondvoorbereiding te help. Die lande word 550 mm diep op die ry met ’n tandimplement bewerk. Die saadbed word dan voorberei en skoon gehou van onkruid. ’n Grasdoder asook piretroïed word agter die planter toegedien. Vir deurlopende onkruidbeheer word van werkers asook meganiese praktyke gebruik gemaak.
“Ons ontleed jaarliks die sonneblom- en grondboonlande en doen dan regstellings. Die lande waarop daar mielies was, word nie ontleed nie.” Die sonneblomlande het topbemesting ontvang en kalk is variërend toegedien in ooreenstemming met die grondkaarte.
Van Zyl verduidelik dat hulle vir 3 t/ha bemes – die langtermyngemiddeld vir hulle gebied. “Ons gee nie addisionele bemesting nie en doen ook nie buitensporige dinge met die oog op rekordoeste nie. Ons is konserwatief wat ons boerdery betref en hou die uitgawes noukeurig dop. Wanneer meer gestroop word as die langtermyngemiddeld en waarvoor bemes is, sien ons dit as ’n bonus en genade.”
Geïntegreerde plaagbeheer
Volgens Van Zyl behandel hulle nie spesifiek vir Sclerotinia nie. Daar word wel voorkomend of regstellend swammiddels toegedien om Alternaria hok te slaan. Hulle sorg eerder dat hulle plantjies uit die staanspoor sterk en gesond is deur plantvoeding te gee wat fokus op mikro- en makro-elemente. Deurlopende monitering word toegepas op die volledige plantgesondheidspektrum. “As ons sonneblomplantjies gesond is, bied hulle natuurlik weerstand teen die swamsiektes.” Hulle het Mycoblock (strobilurien), Foliam Plus van Bioco en Spata van Bass Agri toegedien om seker te maak die plante is gesond. Op die blom se sterstadium het hulle Brandt Smart KB toegedien as blaarvoeding om pitgewig asook verbeterde translokasie van die swammiddels te bewerkstellig.
Wat insekbeheer betref, is Judo van Villa Crop Protection toegedien om bolwurms te beheer. Insekte word deurlopend gemonitor om die toediening van insekdoders te minimaliseer en so ook die ekosisteem (veral die rol van heuningbye tydens bestuiwing) te beskerm.
Van Zyl verduidelik dat hulle betrokke is by die Helpmekaar-studiegroep in hul area en dat heelwat van die inligting wat hulle in die boerdery gebruik deur die studiegroep se proewe gegenereer is. “Die studiegroep doen bemesting-, stand- en grondproewe in ons omgewing en die inligting wat ons so verkry, is van onskatbare waarde.”
Hy maak baie staat op die aanbevelings van Chris Lubbe van Laeveld Agrochem, Johan Bonthuys van Agricol en Francois Stimie van Dfert. Sonder huiwering sê hy sy pa, Kobus, is sy mentor. “Alles wat ek weet, het ek van hom geleer. My pa bly op hoogte van die nuutste beskikbare tegnologie en het deur die jare besondere kennis opgedoen in die boerdery. Ons doen jaarliks klein verstellings om dinge net nog beter te probeer doen.”
In die toekoms sal hulle graag nog meer van presisietoerusting gebruik wil maak omdat dit hulle kan help om die boerdery selfs meer effektief te bestuur.
Prediker 11:4 is vir Van Zyl ’n herinnering van hoe hy as produsent moet leef: “Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie.” Hy meen jy behoort alles wat nodig is te doen – binne jou vermoë. Verder moet jy op die Here se genade staatmaak. “Ons boer met ’n vaste vertroue in die Here se voorsienigheid en genade.”
Sy raad aan ander jong produsente is om iemand te kry wat hulle vertrou en op daardie persoon se wysheid staat te maak. “Luister na wat ander mense sê en kyk wat hulle doen. ’n Mens weet nie self alles nie.”