Hou dit eenvoudig

Gepubliseer: 11 Desember 2024

224

’n  Merkwaardige opbrengs van meer as 16 t/ha het aan Jannie Schoeman die eerste plek besorg in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie vir mie­lieproduksie in die oostelike Hoëveld. Schoeman, van Sancor-boerdery suid van Middelburg, het dié uitstekende opbrengs behaal met ’n Pannar-baster, PAN 3R-573R.

Dit is die tweede jaar dat Schoeman aan die kompetisie deelneem. Hy skryf in wanneer die seisoen dit toelaat en die opbrengs van so ’n aard is dat hy voel dit is die moeite werd. Verder is dit ook goed om te sien hoe ’n mens presteer teen ander produsente uit ander omgewings, al is die verbouingstoestande anders, meen hy.

Fokus op opbrengs
Wanneer hy ’n produk kies, speel opbrengs die grootste rol. “Ons is altyd op die uitkyk vir betroubare kultivars wat vir ons ’n goeie opbrengs gee en die stabiliteit bied wat ons jaar na jaar benodig. Natuurlik moet daar nie opsigtelike swak eienskappe wees nie.”

Volgens Schoeman is PAN 3R-573R ’n uitstekende keuse vir die hoëpotensiaalgronde van die oostelike produksiegebiede. Hoewel hulle vir siektes spuit, beskik die baster oor goeie algemene siektetole­ransie en staanvermoë. Hy plant hierdie produk sedert dit kommersieel beskikbaar is. In die 2023/2024-seisoen het hy 300 ha geplant en in die 2024/2025-seisoen het hy dit vermeerder na 400 ha.

Wat reënval betref, het hulle gedurende die eerste helfte van die seisoen goeie neerslae gekry, maar vanaf middel Januarie 2024 het die reën weggebly. Volgens Schoeman is vogbeskikbaarheid ’n groot uitdaging gedurende kritieke tye in die gewasse se groeistadiums.

Jannie Schoeman word gelukgewens deur Derek Mathews, voorsitter van Graan SA.

“Ek kyk al hoe meer na ultrakort groeiers vir ons boerdery en heel moontlik gaan ek volgende jaar net twee ultrakort basters plant. Met die midsomerdroogte in Februarie en Maart help dit as die mielie reeds verby die meeste sensitiewe groeistadiums ontwikkel het. Ek hoop om die risiko van ’n midseisoendroogte so te buffer.”

Die wenblok is op die plaas Roodepoort geplant en volgens Schoeman het hy dié blok presies dieselfde behandel as die res van sy mielie-aanplantings. Die mielies is op 30 September 2023 geplant en gedurende die tweede week van Mei 2024 gestroop.

Saaiboerdery
Schoeman het in 2008 by sy pa, ook Jannie Schoeman, op die plaas aangesluit. In die boerdery word daar net sojabone en mielies geplant – daar is nie ’n veekomponent nie.

Die saaiboerdery word volgens presisieboerderybeginsels bedryf. Die totale plaas en al die grond is geklassifiseer en wanneer hulle plant, word tien jaar se stroperdata saam met die grondkarte­rings en -ontledings gebruik om die grond optimaal te bestuur. Hulle plant die mielies variërend en die digtheid wissel tussen 40 000 en 70 000 plante/ha.

Kunsmis en kalk word ook variërend toegedien, hoewel hulle van tyd tot tyd kalk eweredig teen die benodigde vlak sal toedien as dit nodig sou wees.

Volgens Schoeman doen hulle konvensionele grondbewer­kings. “Ons sal ’n tandbewerking doen nadat ons gestroop het, waarna ons kalk variërend strooi. Indien dit nodig is, sal ons een keer in die winter die lande skoon spuit. Voor planttyd berei ons die saadbed voor waarin ons dan plant.”

Hy plant net Roundup Ready-mieliekultivars met die oog op hulle onkruidbeheerprogram. Hy pas chemiese bekamping van onkruid toe en begin voor planttyd met sy spuitprogram sodat die planters die produk in die grond kan inwerk.

Op die mieliegedeelte volg daar weer ’n opvolgbespuiting teen die vier- tot sesblaarstadium, wat so min of meer 36 dae na plant is. Dit word later met ’n swambespuiting opgevolg. Dieselfde geld vir die sojaboonaanplantings, waar hulle vier tot ses weke ná opkoms spuit en dan weer vier tot ses weke ná die eerste opvolgbespuiting.

Die internet is vir Schoeman ’n groot bron van inligting – hy kyk graag na wat produsente in die VSA doen. Verder is hy nou betrokke by die plaaslike boerevereniging waar die groep fokus op proewe wat jaarliks probeer om die vraagstukke van boerelede te takel.

Schoeman hou sy boerderyfilosofie eenvoudig. Hy sê hy baseer dit op die Engelse spreekwoord wat lui: “Keep it simple, stupid.” “Wanneer ’n mens die basiese dinge reg doen, kan jy reeds groot sukses behaal.”

Sy pa asook die onafhanklike landboukundige Pethri van der Linde van Middelburg tree vir hom as mentors op. By hulle kan hy enige tyd gaan aanklop vir raad of om idees te toets.

Hy sê hy is huiwerig om raad aan ander produsente te gee omdat elke produsent se omstandighede en bestuursbeginsels verskil. “Ek sal hulle wel vertel wat ek doen of van dinge wat vir my goed gewerk het, maar ek sal hulle ook aanraai om dit eers op klein skaal te toets.”