Goeie beplanningvorm die resep vir sukses

Gepubliseer: 11 Desember 2024

119

Bertie Pretorius van Eurika Boerdery in Newcastle het vanjaar die hoogste opbrengs behaal in die afdeling vir sojaboonverbouing in KwaZulu-Natal in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie.

Pretorius het dié jaar vir die vierde keer ingeskryf. Waar hy verlede jaar die derde posisie beklee het in hierdie afdeling, het hy vanjaar met ’n opbrengs van 4,402 t/ha gewen met die Pioneer-kultivar P64T39R.

Hy neem aan die kompetisie deel omdat dit volgens hom die geleentheid bied om jouself te meet, maar ook te druk om beter te presteer. Opbrengs en prestasie is vir hom belangrik, maar hy beklemtoon dat hy dit altyd balanseer met winsgewendheid deur goeie en deeglike voorafbeplanning en presisieprogramme.

Kultivarkeuse
Dit is reeds die vyfde jaar wat hy hierdie betrokke kultivar plant. “Die variëteit is uiters geskik vir ons area se grond en hanteer stres goed. Ek het P64T39R vir my totale sojaboonaanplanting gebruik.”

Pretorius boer die afgelope agt jaar op die plase Hartebeesbult, Exmoor en Chelmsford met ’n fokus op graan. Mielies, koring en graansorghum word in ’n wisselboustelsel wat bestaan uit 70% mielies en 30% sojabone verbou. Een derde van die lande word dus jaarliks met sojabone geplant. Koring word in die winter onder besproeiing aangeplant.

In die agt jaar wat hy boer, het hy al hoe meer van tegnologie gebruik gemaak en doen hy sy bes om deurentyd op hoogte te bly daarmee. Sy droom is om nog meer te meganiseer met nuwe presisietoerusting.

Bertie Pretorius tussen die sojabone wat hy in Oktober 2023 geplant en in Maart 2024 gestroop het.
Bertie en sy vrou, Sandra.

Die 2023/2024-seisoen
Die afgelope seisoen het vir hom eweredige neerslag gebring teen ’n gemiddelde reënval van 1 300 mm. Die land waarop hy die wensojabone geplant het, het 1 098 mm reën ontvang.

Hy het die gedeelte wat hy wou inskryf vooraf geïdentifiseer, maar sê dat hy dit nie anders bestuur het as die res van die sojaboonaanplantings nie. Hy plant jaarliks vanaf 10 Oktober tot in Desember en het die sojabone met ’n Lemken-planter geplant. In Maart het hy gestroop met ’n John Deere X9-stroper.

Pretorius doen konvensionele bewerking en sy hele boerdery is ten volle gefokus op presisieboerderybeginsels.

Sojabone word in rywydtes van 45 cm geplant teen ’n plante­stand van 200 000 plante/ha.

Wat onkruidbeheer betref, volg hy die program van Farmers Agri-Care. Tydens plant doen hy ’n vooropkomsbespuiting wat hy na opkoms opvolg met nog ’n bespuiting wat twee swamdoders insluit.

Vir siektebeheer dien hy Miravis Neo en Amicor toe soos nodig, hoewel hy die afgelope seisoen slegs Amicor op die wenblok gebruik het. Hy gebruik CoMo Platinum, Apron, Celest en Graphex vir wortelontwikkeling en plantgesondheid.

Pretorius sê sy plase word gekenmerk deur ’n verskeidenheid grondtipes. “Die grond op die plaas is soos ’n Smartie-boks – grond van alle kleure!” Die blok wat ingeskryf is, bestaan egter hoofsaaklik uit sandleemgrond. Hierdie grondverskille bestuur hy deur gereelde ontledings en presisiebemesting. Die wenblok het 300 kg 2.4.9 met plant en 200 kg ureum tydens blom ontvang. Hy strooi ook kalk variërend uit soos aanbeveel.

Eie proewe op die plaas is vir hom ui­ters waardevol, maar hy doen ook proewe in samewerking met die saadmaatskappy. Hy kry nuttige inligting uit die proewe en vul dit aan deur boeredae in die omgewing by te woon.

Die 2023/2024-seisoen was vir hom uitdagend omdat hy fyn moes trap om alles betyds in die grond te kry. Hy het ook onder die hael deurgeloop. Tog bly hy positief. “My boerdery is gebou op geloof. Ek doen my deel en die res is in die Here se hande.”

Pretorius sê hy het nie ’n spesifieke mentor nie, maar dat hy baie by sy skoonpa geleer het saam met wie hy geboer het totdat hy in 2019 oorlede is. Sy ander bron van inspirasie was sy eie pa wat in 2023 oorlede is. Hy probeer om iets by al sy medeprodu­sente te leer.

Sojabone op die plaas van Bertie Pretorius naby Newcastle, die wenner in die afdeling vir sojaboonproduksie in KwaZulu-Natal.

Hoewel hy nie as mentor optree nie, is hy altyd bereid om kennis te deel met iemand wat raad vra. Sy raad aan jong produsente is dat hulle nie moet tou opgooi nie. “Hou aan probeer. As boerdery jou passie is, sal jy wel bo uitkom.”

As hy iets in die landbou-omgewing sou kon verander, sou dit wees om die graanbemarkingstelsel so ’n bietjie te herorganiseer. “Om te kan plant, moet ons as produsente betaal om ons insette op die plaas te kry. As produsent moet ons ook betaal om die produk van die plaas af te kry. Ek sal graag wil sien dat die koper ’n groter gedeelte van die vervoerkoste dra.”

Hy sou verder graag wou hê dat die regering meer ondersteuning aan produ­sente bied, veral daar waar hulle groot finansiële verliese dra as gevolg van droogte of ander natuurrampe.