Eerste probeerslag BRING GOUD

Gepubliseer: 11 Desember 2024

134

Die Groei vir Goud-opbrengskompetisie het vanjaar heelwat nuwe en eerste inskrywings gelok. Een van hierdie kompetisiegroentjies was Daniël Slabbert, wat die afdeling vir sojaboonverbouing in die oostelike Vrystaat gewen het met ’n opbrengs van 3,71 t/ha.

Slabbert sê die dag toe hy die sojabone geplant het, het hy die omgewing nog nie goed geken nie, maar dat hy in sy hart geweet het dat die grond ’n mooi sojaboonopbrengs gaan oplewer. “En dit het nie teleurgestel nie!”

Hy voeg by dat dit vir hom ’n eer was om die Groei vir Goud-kompetisie se toekenningsgeleentheid by te woon. “Dit het ’n nuwe deur vir my as jong produsent oopgemaak. Die manier hoe Graan SA elkeen ontvang en behandel het, het vir my gewys dat hulle beslis daar is vir elke produsent – groot of klein. Ek het ook besef daar is baie ander produsente by wie ek kan gaan kers opsteek.”

Slabbert boer in die Bethlehem-, Afrikaskop- en Harrismith-omgewings onder die naam Sanctuary Boerdery. Hy is al elf jaar op die plaas, maar dit is slegs die tweede jaar wat hy op sy eie boer.

Hy het direk na skool gaan boer – hy het nooit gaan studeer nie omdat hy geglo het sy toekoms lê op die plaas. “Ek is letterlik uit die laaste matriekvraestel tot binne in die trekker. Ek het nog nooit teruggekyk nie.”

Daniël en Madri Slabbert tydens die Groei vir Goud-opbrengskompetisie se toekenningsgeleentheid.

Slabbert is die vierde geslag op die plaas Sterkfontein waar hy boer met mielies, koring, sojabone en tef asook Wit Brahman-beeste. Hy meen die onderskeie vertakkings skakel mooi in mekaar en dat dit hom help om sy risiko’s te versprei.

Bewerkingspraktyke
Sedert hy begin boer het, het hy nuwe en beter tegnologie in die boerdery ingebring en minder bewerkings gedoen. Hy sê dat hy graag nog meer wil oorskakel na beskikbare tegnologie, maar dat hy dit maar so stelselmatig in sy boerdery inkorporeer.

Slabbert volg minimumbewerkingspraktyke wat bestaan uit ’n diep grondbewerking in die ry en ’n krapbewerking om die saadbed voor te berei, waarna hy plant. In die winter bewei die beeste die oesreste.

Hy probeer so ver moontlik die gewasse in ’n wisselboustelsel verbou, maar dit werk nie altyd heeltemal uit soos hy beplan nie as gevolg van veranderinge in die seisoen. “Ek het nie die vorige seisoen tef geplant nie en derhalwe het ek net mielies en sojabone in ’n 50/50-verhouding geplant.”

Die wenopbrengs is behaal met die Agricol-Don Mario-variëteit DM 5953 RSF. Volgens hom was dit die vyfde jaar wat hy die betrokke va­riëteit geplant het. Hy het 250 ha van dié kultivar geplant uit sy totale sojaboonaanplanting van 1 200 ha. Volgens Slabbert het hy die dieselfde praktyke op al sy sojaboonlande toegepas – ook op die wenblok.

Hy verduidelik dat hy as groentjie onder die wanindruk was dat hy net daardie een blok mag inskryf. “Ek het ander kultivars ook geplant wat net so goed gedoen en selfs beter opbrengste gele­wer het, maar ek het dit nie ingeskryf nie. Nou weet ek van beter en sal nie weer so ’n fout maak nie!”

Die sojabone is van die begin van November tot middel November met ’n John Deere 1755-planter geplant teen ’n plantestand van 250 000 plante/ha in 91 cm-rye. Die wenblok is op 3 April 2024 gestroop met ’n John Deere S660-stroper. (Hy kry kontrakteurs om vir hom te stroop.)

Wanneer hy moet besluit oor nuwe basters of variëteite op die mark, gaan kyk hy na proefuitslae uit die omgewing, maar sê dat hy ook sy eie proewe plant om te kyk watter van die produkte die beste op sy grond presteer. “Ek doen graag my eie proewe en vergelyk dit dan met die nasio­nale proewe of met dié wat by my medeprodusente geplant is.”

Dit is die vyfde jaar wat Daniël Slabbert die Agricol-Don Mario-variëteit, DM 5953 RSF, geplant het. Vanjaar het dit hom op die verhoog geplaas in die opbrengskompetisie in die afdeling vir sojaboonverbouing in die oostelike Vrystaat met ’n opbrengs van 3,71 t/ha.

Uitdagings
Insekskade en min reën het vir die seisoen se probleme gesorg. “Die reën het ’n bietjie laat begin. Op die een plaas was dit besonder droog, maar op die plaas waar ek die sojabone geplant het, het ons darem so ’n paar los buie reën gekry.”

Die wenblok is op swart turfgrond geplant. Omdat hy op verskillende plase boer, wissel die grondtipes tussen leem- en sandgronde. Hy pas presisieboerdery toe en bestuur die grondverskille deur gereeld grondontledings en -karterings te doen. Op grond van elke jaar se ontledings dien hy kalk variërend toe op die lande.

Met plant dien hy Strongarm en Metalla960 toe en volg dit op na opkoms met Roundup. Slabbert noem dat hy dankbaar is dat hy nie nodig gehad het om die afgelope seisoen enige siektebeheer te doen nie. Hy het wel twee keer vir bolwurm gespuit. Hy het ook sy saad behandel met SuperSede, Biosynth STSA en RhizoFlo Professional van BASF.

Slabbert sê dat hy die inligting wat hy in sy boerdery toepas uit verskillende bronne kry. “Ek kry inligting op boeredae, maar ook by maatskappy en by my medeprodusente. Ek lees landboupublikasies en kyk graag Landbouweekliks op die VIA-kanaal. Ek sal ook byvoeg dat ek wonderlike jong produsente om my in die distrik het. Dit is altyd vir my lekker om by hulle te leer en vrae te vra. Ons leer by mekaar.”

In die twee jaar wat hy op sy eie boer, hy het heelwat by insetverskaffers geleer. “As ek terugkyk oor die afgelope twee jaar, besef ek baie van my insetverskaffers het my as jong produsent ’n kans gegee. Ek is uiters dankbaar daaroor want dit het my ’n hupstoot in die bedryf gegee.”

Hoewel dit opwindend was om te wen met ’n goeie opbrengs, is winsgewendheid vir Slabbert belangriker as blote hoë opbrengs.

Sy verhouding met sy gesin is die be­langrikste in sy lewe. “My gesin kom altyd eerste en my verhouding met my werkers is net so belangrik, want sonder hulle kan ek niks doen nie. Ek glo verder daarin om altyd ’n goeie verhouding met my insetverskaffers te handhaaf.”

Hy meen die Here is sy mentor. Wanneer hy raadop is en nie weet watter kant toe nie, gaan sit hy in sy lande en stort sy hart uit teenoor die Here. “Ek praat met Hom en dan vind ek berusting en kry ek duidelikheid oor wat ek moet doen.”

Sy raad aan ander jong produsente sal wees om altyd positief te bly en in jouself te glo.