Deeglike beplanning en evaluasie dra by tot sukses

Gepubliseer: 11 Desember 2024

42

Risiko en blootstelling binne landbou laat net nie meer toe dat ’n produsent roekeloos of onverantwoordelik kan wees nie. Die huidige milieu verg deeglike beplanning. Slegs behoorlike beplanning kan die beste geleenthede skep vir winsgewende boerdery te midde van die uitdagings wat hedendaagse omstandighede bring.

So meen Janna du Rand, wat vanjaar die eerste posisie vir mielieverbouing in die noordwestelike gedeelte van die mie­lieproduksie-area beklee het. Dit is die eerste jaar wat hy aan die Groei vir Goud-opbrengskompetisie deelneem.

“Johan Botes, Pannar se areaverteenwoordiger, het my ingeskryf. Ons loop al ’n lang pad saam en hy is deel van ons strategiese produksiebeplanning,” vertel Du Rand.

Du Rand het die eerste posisie behaal met ’n Pannar-baster, PAN 5R-891BR, wat ’n opbrengs van 9,776 t/ha onder droëlandproduksie gelewer het. “Die afgelope seisoen was oordragvog van kardinale belang. Ons het vir die seisoen 360 mm reën ontvang, waarvan net sowat 220 mm gedurende die produksietyd geval het. Dit is min reën, maar met genade van Bo kon ons steeds ’n goeie opbrengs realiseer.” Hy sê die opbrengs beteken dat hulle 27,1 kg graan/mm reën kon produseer.

Hulle het in die 2023/2024-seisoen sowat 650 ha van die produk geplant – in totaal plant hulle sowat 950 ha mielies. Die blok wat ingeskryf is, is met dieselfde be­stuurspraktyke as die res van die mielie-aanplantings geproduseer.

Janna du Rand, wenner in die afdeling vir mielieproduksie in die noordwestelike gedeelte van die mielieproduksie-area. Dit is die eerste jaar wat hy aan die Groei vir Goud-opbrengskompetisie deelneem.

Du Rand is deel van ’n familieboerdery wat al vir vier geslagte in die Mareetsane-gebied boer. Hy en sy familie boer om die helfte binne die JW du Rand en J&J du Rand Boerderye. Hulle boer op die plase Jakkalsdans en Aldona in die Mareetsane-distrik sowat 100 km wes van Lichtenburg, asook op huurgrond in die Lombaard­s­laagte-distrik.

Mielies, sojabone, sonneblom en grond­bone word binne ’n wisselboustelsel verbou. “Vir my beteken wisselbou nie bloot die afwisseling van mielies met ’n ander gewas nie. Die wisselbougewas moet sinvol in die besigheidstrategie inpas en net soos die
ander gewasse bestuur word sonder dat dit afbreuk doen aan ’n primêre gewas.”

Wenopbrengs
Die blok wat in die kompetisie ingeskryf is, is in die eerste week van Desember geplant. Hulle begin gewoonlik die seisoen deur eer­ste sojabone en sonneblom in November te plant. “Ons probeer om teen einde November reeds die hoë-olie-inhoud-sonneblomme in die grond te kry sodat ons die langer groeiers kan kans gee om hul potensiaal te bereik. Die vroeë sonneblom help ook met kontantvloei later in die seisoen. Wanneer Desember aanbreek, fokus ons op mielies en nog sonneblomaanplantings. Ons kan nog gemaklik tot in Januarie sonneblom plant omdat ons dan nog oor genoeg hitte-eenhede beskik.”

Volgens Du Rand was dit die vyfde jaar wat hy PAN 5R-891BR geplant het. Dit is ook op die meerderheid van die witmieliehektare geplant omdat die baster homself bewys het as ’n goeie presteerder wat konstante produksie gee oor droë én nat jare.

Wat kultivarkeuse betref, sê Du Rand die volgende: “Ek hou van variëteite wat in alle toestande presteer. Omdat dit so warm by ons is, moet die variëteite wat ons plant verdraagsaamheid toon teen hitte. Ons wil ook goeie graangraderings kry in nat én droë jare.”

Voordat hulle besluit om ’n produk op groot skaal te plant, moet dit vir ten minste drie jaar binne hul eie proewe bewys dat dit aangepas is vir hulle grond en omstandighede.

Hoewel hy baie van die Pannar-produkte hou, plant hy ook ander maatskappye se produkte om risiko te versprei.

Al die gewasse word in 90 cm-rywydtes geplant met John Deere 1750-planters. Die wenblok is teen ’n plantpopulasie van 19 500 plante/ha geplant, met ’n mikpunt van ’n plantestand van 18 000 plante/ha.

Volgens Du Rand gebruik hulle John Deere 9660STS- en 9670STS Bullet Rotor-stropers. “Hulle is veelsydig en beskadig nie die graan nie. Boonop is dit maklik om onderdele in die hande te kry en oor die algemeen pas dit goed by ons boerderystelsel en opset in.”

Risikobestuur
In die gebied waar hulle boer, reën dit min. Hulle gee dus besondere aandag aan vogbewaring en -bestuur en probeer om so ver moontlik in die winter reeds die primêre bewerkings af te handel.

“Hierdie jaar (2023/2024) het die reënseisoen laat begin met sporadiese reënbuie. Boonop was die temperature ook uiters hoog. Ons het van die laaste week in Januarie tot einde Februarie bykans geen reën gehad nie.”

Du Rand meen dat die manier waarop produsente vandag boer hulle in ’n mate meer blootstel aan risiko’s en dat dit geen ruimte vir foute laat nie. “Omdat ons so aan risiko’s blootgestel is, het ek ons praktyke aangepas om na winsgewendheid en produktiwiteit te kyk eerder as om bloot net hoë opbrengs na te jaag.”

Derhalwe maak hulle staat op presisiebeginsels in hulle boerdery. Vandat hy op die plaas aangesluit het, het hulle veral op doeltreffende bestuurspraktyke en proewe gefokus en stelselmatig presisieboerdery begin toepas.

Hulle gebruik die RTX- en sentrale be­stuurstelsel hiervoor en het saad- en kuns­mismonitors op die planters geïnstalleer. Die stropers het opbrengsmonitors op en die data wat so verkry word, word gebruik om probleme te identifiseer en reg te stel. “Ons het ook addisionele tenks met elektriese motors op planters vir die toediening van entings of biostimulante in die voor.”

Grondkarteringskaarte word gebruik om hul grond meer akkuraat te bestuur. Op sekere lande word daar jaarliks grond­monsters geneem en gestuur vir ontleding na verskeie laboratoriums om sodoende die beste resultate te kry. Die grond word dan hiervolgens bestuur.

Du Rand sê hulle het hoofsaaklik Avalon-tipe grond in die boerdery. Op die gedeelte wat ingeskryf is, was die kleipersentasie 6% met ’n keerlaag van 1,5 m tot 2,5 m diep. Omdat dit sandgrond is, word die materiaal op die oppervlak en die bewerkings goed beplan om skaduwee op die grond te kry om verdamping te bekamp en windskade te verminder. Hy verduidelik dat die mate­riaal op die lande die wateropneembaarheid verhoog en verhoed dat waardevolle reënwater wegspoel. Hulle bewei nie die lande nie, doen ’n tandbewerking op die ry en werk die reste ligweg in die grond in.

Saadbedvoorbereiding voor plant in die sandgrond naby Mareetsane.

Grondbewerking en onkruidbeheer
Wat grondbewerking betref, pas hulle aan by die spesifieke land en grondtipe asook die gewas wat geplant gaan word. Op die meeste lande volg hulle egter ’n spoorverkeerstelsel waar hulle slegs ’n tandbewer­king in die ry doen. Onkruid word chemies beheer of met rolstawe. Op die land wat ingeskryf is, is onkruid in die winter met rolstawe beheer. Voor opkoms het hulle Roundup gespuit en dit opgevolg met ’n tweede bespuiting vyf tot ses weke na plant. Omdat hulle vir jare al fokus op onkruidbeheer as deel van hulle praktyke, was die onkruiddruk nie hoog nie, verduidelik Du Rand.

Die gedeelte wat ingeskryf is, is voor plant met 85 kg NH3 (ammoniakgas) behandel. Dit is sowat vier weke voor plant 250 mm diep op die ry toegedien. Saam met plant is ’n 200 kg/ha Omnia-kunsmismengsel bestaande uit 15:10:6(31) met 0,5% Zn, 6% S en 0,1% Br in die mengsel toegedien.

PAN 5R-891BR bevat die Bt-geen wat beskerming bied teen sekere lepidoptera-spesies en die beheer daarvan vergemaklik. Hulle het wel met elke bespuiting Lambda Secure van Villa Crop Protection of Insectido van DVA toegedien om seker te maak dat hulle nie ander insekte wat skade kan berokken, mis nie.

Sy raad aan ander jong produsente is om nie skaam te wees om raad te vra nie. “Kry inligting van maatskappye en bespreek die inligting met landboukundiges of ekonome voordat jy besluite oor aanpassings binne jou boerdery neem.”

Du Rand meen daar is geen beter inligtingsbron as eie proewe nie. “Jy genereer jou eie data en kan nuttige gevolgtrekkings daaruit maak ten opsigte van spande­ring, produktiwiteit, kultivars, bemesting, stand, rywydtes, spuitprogramme en dies meer. Dit is ook moontlik om die inligting oor jare te versamel en daaruit kan tendense opgetel word.”

Hy meen hy is bevoorreg om saam met sy ouers te kan boer. Van hulle leer hy ongelooflik baie. Hy benadruk ook die produsent se afhanklikheid van die natuur en die Here se genade. “’n Mens moet besef dat jy met die natuur werk in ’n omgewing wat die Vader aan jou toevertrou het. Dit is ons verantwoordelikheid om dit so goed as moontlik te bestuur sodat ons iets vir ons nageslag nalaat.”

Ten slotte wil hy medeprodusente bedank omdat hulle kans sien om binne die huidige moeilike omstandighede steeds ’n loopbaan in die landbou te bou. “Hou moed, praat as julle bekommerd is, bly innoveer en onthou om nie drastiese veranderinge in ’n kommersiële boerdery aan te bring nie.”