Boer met dit waarvoor jy lief is

Gepubliseer: 11 Desember 2024

51

Wouter Heyns het in 1994 by sy pa oorgeneem op die plaas Uplands in die Cradock-omgewing. Vandag boer hy met Merino-skape en beeste asook lusern, gars, mielies en aangeplante weiding.

Vanjaar het Heyns vir die eerste keer aan die Groei vir Goud-kompetisie deelgeneem. Sy besluit om deel te neem het vrugte afgewerp – hy het die eerste plek ingepalm in die afdeling vir mielieverbouing onder besproeiing met ’n opbrengs van 22,813 t/ha met Bayer se DEKALB-baster DKC64-54BR.

“Ek het gesien die spilpunt se mielies was besonders mooi in ’n droë jaar en het toe saam met Cradock Saadverspreiders besluit om in te skryf,” verduidelik hy.

Heyns is nie onbekend met opbrengsprestasies nie. Die afgelope jaar is hy ook aangewys as die Oos-Kaap se Mielieboer van die Jaar: Suidelike Streek met ’n opbrengs van 23,28 t/ha in die 2022/2023-seisoen. Dit was ’n verbetering op sy vorige eerste plek in 2017 waar hy ’n opbrengs van 23,05 t/ha behaal het.

Hy plant net hierdie DEKALB-kultivar op die plaas en sê dat hy geen voorkeurbehandeling op die stuk wat hy ingeskryf het, toegepas het nie. “Alles het dieselfde behandeling gekry. Ek het met stroop besluit watter gedeelte ek gaan inskryf.”

Wouter Heyns

Wisselbouprogram
Heyns glo jy moet boer met dit waarvoor jy lief is en akkerbou is sy groot liefde. Die boerdery fokus 60% op gewasverbouing en 40% op vee. “Vandat ek 30 jaar gelede op die plaas begin boer het, plant ek mielies as deel van my wisselbouprogram.”

Hy sny ongeveer 22 t/ha lusern en verduidelik dat hy ’n vyfjaarsiklus volg in sy wisselbouprogram. “My wisselbouprogram bestaan uit vier jaar lusern wat opgevolg word met een jaar mielies of
weidingsgewasse. Die lusern word opgevolg met mielies en dek­gewasse met die oog op grondgesondheid.”

Die mielies is in die eerste week in November 2023 geplant. Lusern word gewoonlik in Maart of April geplant en hawer en gars in Augustus of September. Die plantestand vir die mielies is 100 000 plante/ha oor al die aanplantings met 76 cm-rywydtes. Hy plant met ’n presisielugdrukplanter. Die mielies is tydens die eerste week in Julie met ’n Case Actual Flow gestroop.

Wanneer hy ’n baster kies, kyk hy grotendeels na opbrengs. “Ons het al met verskeie proewe vasgestel dat sekere variëteite die beste opbrengs lewer in ons omgewing.” Hy doen proewe op sy eie plaas, maar kyk ook na ander proewe in die omgewing.

Onkruidbeheer
Om onkruid te beheer, spuit hy hoofsaaklik Roundup (glifosaat) volgens Cradock Saad se aanbevelings. Omdat hy basters plant wat stapelgeentegnologie bevat, vergemaklik dit sy onkruid- en insekbeheerprogramme. “Die spuitprogram op die stapelgeentegnologie bied beide gemoedsrus teen stronkboorders sowel as tydbesparing in die besige lusernseisoen wanneer die twee gewasse oorvleuel.”

Hy spuit ook Abacus met die oog op plantgesondheid en optimale opbrengs.

Die blok wat gewen het se grond is ’n kombinasie van klei- en leemgrond. Die res van die plaas se lande wissel van sanderige grond tot grond met ’n hoër kleipersentasie. Om te kompenseer vir die verskillende grondtipes doen hulle verskillende grondbewer­kings asook besproeiingskedulering vir elke grondtipe.

Heyns doen jaarliks grondontledings en pas sy bemestingsprogram aan volgens die resultate in samewerking met Cradock Saad. Hy dien hoendermis, kalk en gips toe om die balans in die grond reg te stel. Om die grondkwaliteit verder te verbeter, word die mielie­reste na die oes in die grond ingewerk om koolstofvlakke te verhoog. As topbemesting word ’n mengsel van Cradock Saad gebruik wat stikstof, kalium en swael bevat.

Hy meen egter ’n belangrike deel van sy wenresep is om mikro-elemente tydens planttyd toe te dien – hetsy as saadbehandeling of later in die seisoen deur die spilpunt. Tydens planttyd gebruik Heyns Black Turbograin wat mikro-elemente bevat. Die resultate van die grondontledings wat deur die jare gedoen is, het Cradock Saad en Metson in staat gestel om ’n mikro-elementreeks spesifiek vir die Visriviervallei se grondtipes te formuleer.

Uitdagings
Volgens Heyns was die grootste uitdaging in die 2023/2024-seisoen om by klimaatsverandering aan te pas. “Ons het ’n laat somer gehad, maar omdat ons onder besproeiing verbou, het dit nie so ’n groot effek op ons gehad nie. Die Visriviervallei het egter uitsonderlik hoë hitte-eenhede beleef vanaf laat Desember tot middel Februarie. Temperature het gewissel van 38 ºC tot 42 ºC. Die produ­sente hier by ons het geweldig gesukkel met watervoorsiening in die kanaalstelsels in die Cradock-omgewing weens die hoë temperature. Beurtkrag het die situasie nie makliker gemaak nie. Om water reg toe te dien, het behoorlik kopsere veroorsaak.”

Heyns verduidelik dat sy besproeiingstelsels bestaan uit vloedakkers en spilpunte. Volgens hom hoef ’n vloedakker wat reg bewerk en bestuur word, nie vir ’n spilpunt terug te staan nie.

Vandat hy 30 jaar gelede op die plaas begin boer het, het hulle moeite gedoen om bestaande hulpbronne te optimaliseer en om met die hulp van tegnologie hulle bestuurspraktyke te verbeter.

Heyns meen dat hy in die toekoms steeds in tegnologie sal investeer. “Tegnologie sal altyd die fakkeldraer wees en vir ons die pad wys om te sien waar ons nodig het om te verander.”

Die goue balans tussen opbrengs en winsgewendheid is altyd belangrik en volgens Heyns leer ’n mens dit deur die jare aan. “Ondervinding het my al geleer waar die optimale winsgrens is.”

Sy lewensleuse is om hardwerkend en nederig te wees en om met dankbaarheid te lewe – dit vorm die basis van sukses.