Wie sou 25 jaar gelede kon droom dat ’n sojaboonopbrengs van meer as ses ton per hektaar in die Vrystaat moontlik is. Dit is presies wat Cobus Grobbelaar, derde geslag op die plaas Single Heart naby Bothaville, vanjaar reggekry het.
Grobbelaar was die wenner in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie se afdeling vir sojabone wat op die watertafelgronde in die Vrystaat verbou word. Hy het ’n opbrengs van 6,124 t/ha behaal met ’n Agricol-Don Mario-sojaboonkultivar, DM 6.8IRR. Die praktyke wat gevolg is vir die wenblok is in lyn met die normale praktyke wat in die hele boerdery toegepas word.
Voorheen het hy aan die Weeg en Wen-kompetisie deelgeneem en was een van die finaliste met ’n opbrengs van 4,4024 t/ha.
Volgens Grobbelaar het hy in 2015 die eerste proewe met dié sojaboonkultivar op die plaas geplant. “Hierdie betrokke variëteit presteer goed in die droër westelike dele van die land en ek wou dit ook uittoets onder ons omstandighede.”
Grobbelaar verduidelik dat hulle daardie tyd net vir vyf jaar sojabone geplant het omdat die gewas hoë onttrekkings van sekere voedingstowwe uit die grond het, soos onder meer kalium en swael. “Tydens die nat jare het ons sojabone teruggebring en ons plant nou weer die afgelope twee jaar dié gewas.”
Die grootste fokus van die boerdery is witmielies, met sonneblom wat ook van tyd tot tyd deel uitmaak van die pakket. Hulle verhuur die weidingsgrond aan ander produsente.
Wat hul wisselbou betref, plant hulle in La Niña-jare sojabone op versuiplande en op die res mielies. In droë jare plant hulle net mielies, of mielies en sonneblom.
Hulle het altesaam 925 ha sojabone in die 2023/2024-seisoen geplant, waarvan 750 ha met DM 6.8IRR geplant is. Die res is verdeel tussen Santa Rosa 660 en K2 Agri 6446.
Kultivarkeuse
Wanneer hy moet besluit oor ’n nuwe kultivar, plant hy proewe op die plaas om dit te toets op hulle grond met hulle produksiepraktyke. Volgens hom bly die hoogste gemiddelde opbrengs oor tyd die belangrikste eienskap van ’n produk. Daarna kyk hy ook na opkoms en staanvermoë.
“Ek plant verskillende maatskappye se kultivars. Sou ek op ’n produk afkom wat goeie eienskappe het en wat aangepas is vir ons omstandighede, sal ek meer daarvan plant. Ek gesels ook met ander produsente in die omgewing om te hoor wat hulle van nuwe produkte dink en gebruik insetverskaffers om my met raad by te staan. Verder kry ek my inligting uit tydskrifte of van die internet af.”
Hulle het vir die seisoen 384 mm reën op die plaas ontvang, met die grootste uitdagings die wisselvallige reënval en rooispinmyt. Volgens hom het die insekskade soos droogteskade gelyk en het sommige produsente dit daarmee verwar omdat dit ’n droë jaar was. “Die insekte het groot skade aan beide mielies en sojabone veroorsaak en ons moes twee keer daarvoor spuit. Die myte suig letterlik die water uit die plante en vermeerder ongelooflik vinnig.”
Grobbelaar verduidelik dat aangesien die grond tot 250 mm water kan stoor, dit nie so maklik is om presies uit te werk hoeveel opbrengs hy per millimeter reën kry nie.
Chemiese grondontledings word elke drie jaar gedoen in samewerking met Sion Agri. Daarvolgens verseker hulle dat hulle die regte tipe kalk gebruik wat hulle variërend op die lande toedien.
Hulle varieer kunsmis per blok asook volgens die seisoen – toediening sal dus wissel afhangende van of dit ’n nat of droë seisoen is. Grobbelaar sê dat hulle op die sojaboonblok wat ingeskryf is, ook 150 kg/ha van Elim se groen korrelkunsmis 1:2:0(16) toegedien het en as blaarvoeding het hulle Smart KB en Smart Cu van Brandt toegedien.
Hy verduidelik dat stand en kunsmis oor die lande verskil en dat alles van die betrokke seisoen se weervoorspellings afhang. “As ’n La Niña voorspel word, skuif ons van die sandlande se kunsmistoedienings na die lande met ’n hoër kleipersentasie. As ’n El Niño voorspel word, gee ons meer bemesting op die sanderige lande. Ons plantdatums sal ook aangepas word na gelang van die seisoen. Sanderige gronde wat versuip, word vroeër geplant en lande met ’n hoër kleipersentasie word later in die seisoen geplant.”
Grondvoorbereiding
Vir sojabone word die grond voorberei met behulp van Radium se drietandskeurploeg of ’n Agrico T1250-herset-tandbewerker. “Ons werk die grond so diep as moontlik vir die sojabone met die implemente waarvan die tande sowat 850 mm onder die grondoppervlak werk. Die Agrico-implement werk 750 mm diep.”
Hulle doen minimumbewerking in ’n spoorverkeerstelsel. Die saadbed word gelykgemaak met ’n rolstaaf. Dit maak ook sommer van die onkruid dood, verduidelik Grobbelaar. Daarna plant hulle die sojabone. Die enigste ander verkeer op die land is die spuite en stropers.
Die spesifieke gedeelte wat ingeskryf is vir die kompetisie is op ’n Bainsvlei-tipe grond geplant, maar Grobbelaar sê die res van plaas is soos ’n vrugteslaai van verskillende grondtipes. Om hierdie verskillende tipes grond te bestuur, gebruik hy tandimplemente soos Radium se skeurploeg op die dieper gronde en Agrico se skeurploeg op gronde met meer klei en klip. Op die sandgronde gebruik hy ’n rolstaaf en op klipperige lande skoffel hy net.
Hulle het die wensojabone op 6 November 2023 op ’n 720 ha-blok geplant. Die sojabone word vier vingers (70 mm) diep geplant. Op die res van die land is mielies op 12 Desember 2023 geplant. Die sojabone en mielies is met sesry-Massey Ferguson 555- en John Deere 1750-vakuumplanters geplant in rywydtes van 1,54 m (5 voet). Die plantestand was steeds 290 000 plante/ha.
Die sojabone is gestroop met twee Claas Lexion-modelle – 780 en 760 – asook ’n Claas-stroper met ’n Macdon Flex Draper. Die Lexion is aangepas met ’n waaier (impeller) om seker te maak dat die bone nie terugvloei nie. “Hierdie implemente voer die pitte meer egalig wat pitverlies verminder en boonop toelaat dat ons steeds teen ’n spoed van 0,5 km/uur tot 1 km/uur kan stroop.”
Wat onkruidbeheer betref, is Strongarm van Corteva en Metagan van Syngenta op die sojabone tydens plant toegedien. Daarna het hulle twee keer Syngenta se Touchdown gespuit. Die sojabone is ook vir swamme behandel met Miravis en Amistar van Syngenta.
Hulle dien ’n vol dosis Carbodan toe om aalwurms te beheer en plaas dit tussen die pit en die grondoppervlak. Vir snywurms het hulle Karate Zeon van Syngenta na plant en voor opkoms toegedien.
Rooispinmyt is met Agrimec Gold van Syngenta beheer en vir bolwurm het hulle twee keer Ampligo van Syngenta gespuit.
Grobbelaar sê hy gebruik ook Green Liq van Elim teen 4,5 liter/ha. Dit is saam met die sojaboonentstof van MBFi in die voor met 175 liter water/ha toegedien, wat dubbel die standaardbehandeling is. Die sojabone is voor die plantseisoen met MBFi se entstof behandel asook ’n enkeldosisbehandeling met Syngenta se Celest en Apron.
Sedert hy 15 jaar gelede by sy pa in die boerdery aangesluit het, het hulle ’n paar praktyke aangepas. Volgens Grobbelaar het hulle die diepte van die skeurtandbewerkings verander en bewerk hulle nou so diep as moontlik. “Proewe het gewys dat sojabone se wortels in sandgronde tot 2 m diep kan penetreer mits daar geen verdigtingslaag is nie. Al het die sojaboonplant ’n penwortel, is hy ongelooflik gevoelig vir verdigting in die grond.”
Om dit te kon doen, moes hulle belê in groter toerusting. Hulle fokus ook meer op gebalanseerde voeding en het verder aangepas sodat hulle chemiese en meganiese onkruidbeheer kan kombineer.
Hulle maak egter seker dat hulle chemiese onkruiddoders van goeie kwaliteit gebruik. “Onkruiddoders maak nie net ongewenste plante dood nie. Die gewas moet ook die chemie verwerk en dit kan ’n opbrengsverlies meebring. Wanneer ’n mens goeie produkte gebruik, is die verlies dalk 50 kg/ha, maar deur ’n verkeerde of swakkwaliteitproduk te gebruik, kan daar maklik ’n ton opbrengsverlaging wees.”
Volgens Grobbelaar sal opbrengs altyd belangrik bly omdat dit winsgewendheid optimaliseer. “Ons gebruik onkruiddoders en bewerkings om die lande skoon te hou. In die meeste gevalle bly die diesel- en chemie-uitgawes dieselfde, maak nie saak wat die opbrengs is nie. Ons dien blaarvoeding en kunsmis toe en varieer die plantestand om die optimale opbrengs te kry. Dit het alles ’n invloed op winsgewendheid.”
Hy beklemtoon egter dat grondgesondheid en spesifiek aspekte soos grond-pH en die status van voedingstowwe in die grond belangrik is om doeltreffende wortel- en plantontwikkeling te bewerkstellig.
“Oorbemesting is net so sleg as onderbemesting of bemesting in die verkeerde verhoudings. Verder is dit belangrik om langtermynweervoorspellings asook die beskikbare vog in die grond mooi dop te hou sodat ’n mens die beste kans het om die maksimum opbrengs te kry sonder om noodwendig oorboord te gaan met bemesting of stand. Aan die ander kant dra bemesting ook weer by tot beter opbrengs. Dit is maar ’n voortdurende opweeg en somme maak om die goue balans te handhaaf. ’n Mens kan nie boer sonder ’n goed deurdinkte plan nie.”
Hierdie benadering volg ook op die goeie raad wat sy pa hom gegee het. “My pa het my geleer om eerste na die grond, dan die gewas, dan die chemie en dan die toerusting, trekkers en stropers te kyk. Eers daarna kom die bakkie en die ander luukshede en gemak. Ek dink altyd aan my pa se woorde: ‘Wil jy blink of wil jy boer?’”
Grobbelaar en sy pa is vennote in die JJ Grobbelaar Boerdery (Pty) Ltd net buite Bothaville. “Ek en my pa boer saam en dit is ’n vennootskap wat goed werk. Dit is vir ons ’n groot voorreg om so saam te kan werk. Ek moet erken dat ek alles wat ek weet van my pa geleer het. Hy is ’n praktiese mens en beskik oor die vermoë om aan te hou verduidelik op sy mooi manier totdat ’n mens verstaan.
Hy meen ook Christen-waardes bly belangrik in die boerdery-omgewing. “Probeer altyd eerlike besigheid doen en hanteer almal met wie jy werk dieselfde. Werk met verskaffers saam met wie jy ’n pad kan stap.
Raad aan produsente
Sy raad aan ander jonger produsente is om by die basiese grondbeginsels van boerdery te bly. “Moenie te veel goed te vinnig verander nie. Wees geduldig. Pas ook op vir te veel mense wat raad gee, want dit kan jou verwar. Moenie te veel goed op ’n slag doen nie. Prioritiseer jou take en veranderinge. Identifiseer die belangrikste twee dinge en maak dit klaar voordat jy oorgaan na ’n volgende aksie of projek.”
Hy vertel dat iemand hom eendag goeie raad gegee het en dat dit iets is wat hy graag met ander deel: “’n Oom het eendag vir my gesê dat ’n mens stoppels en oesreste altyd kan verwyder, maar dat jy dit nooit weer kan terugbring nie.”
Verder meen hy dat kennis mag is. “Lees etikette. Vra hoekom verkoopspersoneel ’n spesifieke aanbeveling maak en redeneer daaroor.”