Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Graan- en Oliesadehandelaars (SACOTA) is die mees prominente vereniging van handelslede wat in Suid-Afrika en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-streek (SAOG) werksaam is. Dié organisasie se visie is om deur die uitbreiding van sy aktiwiteite ’n invloedryke en gerespekteerde rolspeler in die graanbedryf en landbousektor van Suider-Afrika te wees.
Dit is belangrik vir die organisasie om proaktief bewustheid onder sleutelrolspelers te verhoog, insluitende regerings, handelaars, finansiële instellings, produsente, meulenaars en ander verwerkers asook nieregeringsorganisasies. Oor dié organisasie se rol in die toekoms sê dr André van der Vyver, wat sedert Januarie 2022 die pos van uitvoerende direkteur vir SACOTA beklee, die volgende: “Dertig jaar ná 1994 is daar opnuut ’n besef dat die privaat sektor en die regering moet saamwerk. Die een kan nie sonder die ander voortbestaan nie en nog minder aan verwagtinge voldoen.”
Net so probeer SACOTA die belangrikheid van uitvoere in surplusjare by bedryfsorganisasies en regeringsinstansies tuisbring. “Dit is belangrik om te besef dat wanneer jy ’n surplus produseer, jy dit winsgewend moet kan uitvoer – al is dit net die areas geografies na aan die uitvoerhawens. As jy dit kan regkry, is daar eindelose potensiaal vir die landbou en die ekonomie om te groei en werk te skep. Vanjaar is moeilik, maar die graanbedryf kan tog dankbaar wees dat daar nog geredelik graan beskikbaar is vir die plaaslike mark en om aan Afrika-lande te verskaf. Suid-Afrikaanse verbruikers kan veral ook dankbaar wees oor die vrye mark en – al is pryse hoog – dat graan ingevoer kan word, anders sou dit nog duurder gewees het of selfs onbekombaar.”
Vir dr Van der Vyver is samewerking só belangrik dat hy sedert sy aanstelling amper drie jaar gelede, SACOTA se leuse aangepas het na “Together we can achieve more” oftewel “Saam kan ons meer bereik”. Aangesien landbouprodukte en die vloei en verhandeling daarvan wêreldwyd reëls en vereistes het, het SACOTA as ’n organisasie ’n belangrike rol om te vervul om saam met die regering die beste moontlike ekonomiese en vryehandelsklimaat te skep tot voordeel van sy lede, landbou en die land as geheel. “Al drie (lede, landbou en die land) is belangrik, anders is dit nie volhoubaar nie,” sê hy.
’n Loopbaan met vele hoogtepunte en min laagtepunte
Landbou was van ’n jong ouderdom af vir hom ’n trekpleister. “Ek het geweet my pa gaan nie vir my ’n plaas kan koop nie, toe het ek maar landbou-ekonomie gaan studeer,” vertel hy oor die ontstaan van sy belangstelling in landbou. Hy het in die stad (Pretoria) grootgeword, maar van die familie het plase gehad en kuiertjies op die plaas het sy belangstelling in landbou aangevuur. Hy het egter toe reeds besef dat hy by die graanbedryf betrokke sou wees en nie aan die produksiekant nie.
Dr Van der Vyver het in 1985 sy graad in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Met sy meestersgraad (wat hy in 1987 afgehandel het) het sy fokus na graan verskuif. Sy tesis het gehandel oor die potensiaal van ’n mielietermynmark vir Suid-Afrika. “Beheerde bemarking onder die Mielieraad was toe nog in volle swang en die konsep van ’n vrye mark het nie goed afgegaan nie,” onthou hy.
Sy loopbaan het by die Departement van Landbou begin, waar hy in graanbemarking gespesialiseer het. In die vroeë 1990’s het hy gedien as die Suid-Afrikaanse landbou-attaché in Washington DC in die VSA. Hierdie aanstelling in ’n vroeë stadium van sy loopbaan is een van die vele hoogtepunte wat vir hom uitstaan. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1992 het hy sy PhD in landbou-uitvoere suksesvol afgehandel.
Nog ’n hoogtepunt van sy loopbaan is toe hy met die deregulering van beheerde bemarking na ’n vryemarkstelsel deur die destydse Tiger Oats (nou Tiger Brands) se meule-afdeling aangestel is om ’n aankoopafdeling vir witmielies en koring te vestig. Die vroeë 1990’s was dan ook die tyd waarin hy die grootste verandering in sy loopbaan in die graanbedryf ervaar het, toe sanksies teen Suid-Afrika opgehef is en die oorskakeling van beheerde bemarking na ’n vryemarkstelsel plaasgevind het.
Een van die groot omwentelinge in die graanbedryf wat vir hom uitstaan, is toe hy as een van die stigterslede op die destydse Safex-landboubestuurskomitee moes help om alternatiewe in plek te stel vir die landboubeheerrade soos die Mieliebeheerraad, wat oornag verdwyn het. Safex is toe as die antwoord gesien. Hy het aanvanklik vir Standard Bank verteenwoordig, maar het later in sy privaat kapasiteit opgetree. Ook dit tel onder die hoogtepunte van sy suksesvolle loopbaan. “Dit was ’n innoverende en dinamiese tyd waar ’n mens groot veranderinge in die graanbedryf gesien het. Mense se verwagting is op die komitee se skouers geplaas en ons wou niemand teleurstel nie.”
Een van die moeiliker tye in sy loopbaan was toe hy die besluit geneem het om sy eie besigheid op die been te bring. “’n Verandering in werksomgewing veroorsaak gewoonlik spanning, maar om van ’n ‘beskutte’ salarisomgewing na een waar jy vir jouself werk te verander, was uitdagend,” vertel hy oor die tyd in 2000 toe hy sy eie firma, Grain Management, gestig het. Grain Management het gespesialiseer in graan- en oliesadeverhandeling, risikobestuur en markontleding en was ook ’n geregistreerde makelaar op die JSE/Safex.
In 2011 het hy ’n deeltydse pos by die Universiteit van Pretoria aanvaar waar hy vir etlike jare in landbourisikobestuur klas gegee het. Met ondervinding in die graanbedryf en die privaat sektor kon hy sy ervaring met nie net die studente nie, maar ook mededosente deel. In hierdie tydperk het hy die konsultasie-afdeling van sy besigheid uitgebrei. Hy het onder meer vir USAID (United States Agency for International Development) geadviseer oor kommoditeitsverhandeling en silosertifikaatstelsels in Malawi, Mosambiek en Zambië, en meer onlangs in Pakistan. Vir hierdie doel het hy saam met ’n toonaangewende sagtewaremaatskappy ’n sagtewarestelsel ontwikkel wat geskik is vir kommoditeits-voorraadbestuur en finansiering.
Die tyd in Pakistan was vir hom ’n besonderse ervaring. “Dit was wonderlik om te sien hoe hulle dink oor graanprodukte,” vertel hy van die twee jaar wat hy daar betrokke was om onder meer ’n kollaterale graanfinansieringstelsel daar te stel. “Die land is geseënd met landboupotensiaal, maar hulle het nie soos in Suid-Afrika kommersiële produsente wat hul jarelange ondervinding met ontwikkelende produsente kan deel nie.” Hy hou steeds die vordering dop en dit is vir hom verblydend om te sien dat dit wat hulle in plek gestel het tot en met 2020, steeds uitgebou word en dat verdere stelsels vir finansiering, bemarking en opberging ontwikkel is.
Gevorm vir sukses
Daar is gewoonlik ’n paar mentors wat bydra tot iemand se suksesvolle loopbaan. In dr Van der Vyver se geval was dit sy pa, jarelange skoolhoof by FH Odendaal in Pretoria, wat ’n groot invloed op sy lewe gehad het. “Hy het altyd in sy medemens geglo en het deur toegewyde werk ’n voorbeeld gestel en vele gemotiveer om na die beste van hulle vermoë te presteer.”
In die graanbedryf het twee persone ’n blywende invloed op sy loopbaan gehad. Die een was Bokkie Strauss, wat die direkteur van bemarking by die Departement van Landbou was en hom as landbou-attaché in die VSA aangestel het. “By hom het ek geleer om altyd wyer te dink as my onmiddellike omgewing.” Die ander mentor in sy lewe is dr Johan van Zyl (hoof- uitvoerende beampte van African Rainbow Capital). “Hy was nie net my PhD-promotor nie, maar is ook ’n vryemarkdenker wat die voordele van innoverende denke in ’n vroeë stadium van my loopbaan by my tuisgebring het.”
Net so hoop hy dat hy ook ’n bydrae gemaak het tot die loopbane van diegene wat vir hom gewerk het in ’n vroeë stadium van hulle professionele loopbane. “Ek het deeltyds klas gegee vir landbou-ekonomie-studente en baie van hulle het verder gegroei en is vandag suksesvol. Ek sou tog wou dink dat ek ’n bydrae gemaak het tot hulle sukses.”
’n Belangrike lewensles wat hy deur die jare geleer het, is dat ’n mens altyd deur goeie en slegte siklusse beweeg. “Deur goed voorbereid te wees, kom jy altyd darem makliker deur die slegte siklusse – al voel dit nie so nie. Die siklus sal weer verander.” Sy lewensleuse is vierledig: Werk hard, leef dankbaar, hou moed en bly glo in die Here.