SA produseer genoeg kos – TOG LY MENSE HONGER

Gepubliseer: 2 Oktober 2024

309
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

Suid-Afrika word volgens die Globale Voedselsekerheidsindeks (GFSI) van 2022 beskou as die nommereenland in Afrika ten opsigte van voedselsekerheid vanweë sy ontwikkelde landbou­sektor, stabiele voedselproduksie en sterk handelsvermoëns. DIE LAND het in die 2023/2024-seisoen sowat 13,1 miljoen ton mie­lies geproduseer, waarvan daar al vir die huidige seisoen byna 700 000 ton uitgevoer is. Hierdie produksievlak is, selfs in ’n droë jaar soos vanjaar, voldoende om in die gemiddelde jaarlikse verbruik van 11,5 miljoen ton te voorsien, terwyl uitvoerkapasiteit steeds gehandhaaf word.

In skrille kontras hiermee is daar miljoene Suid-Afrikaners wat voedselonsekerheid ervaar. Volgens die 2022-sensusopname gaan 25,8% van die bevolking (ongeveer 15,3 miljoen individue) gebuk onder voedselonsekerheid, terwyl 11,4% (ongeveer 6,8 miljoen individue) ernstige voedselonsekerheid ervaar. Kinders is veral kwesbaar, met byna 27,5% (ongeveer 1 760 000 kinders) onder die ouderdom van vyf wat onderwerp word aan voedselonsekerheid. Die implikasie is duidelik: Miljoene mense in Suid-Afrika ly daagliks honger – in meerdere of mindere mate.

Voedselsekerheid staan op twee bene, naamlik sekerheid van toegang tot voedsel en die vermoë om voedsel te bekom. Suid-Afrikaanse landbouers produ­seer voldoende voedsel. Die probleem is dat miljoene Suid-Afrikaners armer geword het met minder vermoë om kos te kan koop – wat hongersnood veroorsaak.

Navorsers by Harvard-universiteit se Growth Lab skryf hierdie Suid-Afrikaanse gebrek aan inklusiewe groei toe aan verbrokkelende staatskapasiteit en ruimtelike uitsluiting. SA se verbrokkelende staats­kapasiteit is welbekend en veral sigbaar in die verval van plattelandse dorpe se infrastruktuur en ekonomie. Ons spandeer egter te min tyd aan die landelike-stedelike verdeling in Suid-Afrika en die gebrekkige beleid en inisiatiewe om die platteland en voormalige tuislande in die groter ekonomie in te sluit.

Plattelandse inwoners het minder ekonomiese geleenthede as stedelinge en weinig word daaraan gedoen. Dié ongelykheid skep sosiale spanning en lei tot desperate misdaad. Ek dink die Suid-Afrikaanse landbou moet meer fokus hierop plaas. Ten spyte van grondwetlike waarborge en inisiatiewe om toegang tot voedsel vir almal te verseker, toon die Suid-Afrikaanse regering ’n onvermoë om hierdie voedselonsekerheid te takel. Verskeie faktore dra by tot hierdie voortslepende probleem.

Grondhervormingspogings word gekniehalter deur ondoeltreffendheid, korrupsie en gebrekkige ondersteuning vir kleinskaalse produsente wat lei tot laer landbouproduktiwiteit en toenemende voedselonsekerheid in landelike gebiede.

Alhoewel maatskaplike toelaes verligting bied, is dit dikwels onvoldoende om behoeftes aan voedsame kos te dek. Dit is ook onverdedigbaar om die staatskas vir maatskaplike toelaes aan te wend weens ’n gebrek aan die implementering van ’n weldeurdagte en verantwoordelike ekonomiese beleid wat werkskepping vir die 33,5% werkloses in Suid-Afrika kan be­vorder. Stabiele werksgeleenthede verhoog huishoudelike koopkrag, verbeter toegang tot voedsel en verminder afhanklikheid van maatskaplike bystand wat gevolglik meer hulpbronne vir ander sosiale dienste vrystel.

Een instrument wat egter verligting kan bring ten opsigte van voedselsekerheid in Suid-Afrika is die meesterplan vir landbou (AAMP). Hierdie plan bied ’n raamwerk vir groei en groter mededingendheid in die landbousektor asook die belofte van meer werksgeleenthede en die stimulering van die ekonomie, danksy verhoogde investe­ring. Graan SA was aktief betrokke by die samestelling van die AAMP deur die lewering van waardevolle insette danksy die organisasie se kundigheid in die graanbedryf. Verskeie rolspelers, insluitende Graan SA, bepleit egter ’n meer markgeoriënteerde benadering as die beste vir ekonomiese groei.

Dit is ’n saak van dringendheid dat daar nie langer voete gesleep moet word om die AAMP te implementeer nie. Slegs deur dryfkrag en doeltreffende implementering sal die potensiaal van hierdie dokument verwesenlik kan word ten einde voedsel­onsekerheid teen te werk.

Die landbou-ontwikkelingsprogram van Graan SA vind direk aanklank by die AAMP se strategiese raamwerk vir landbou-ontwikkeling en groei. Dit getuig van wesenlike suksesse in die implementering van inisiatiewe wat kleinskaalse produsente bemagtig, landbouproduktiwiteit verbeter en marktoegang uitbrei. Deur kapasiteitsbou, mentorskap en samewerkingsinisiatiewe met belanghebbendes, pas Graan SA alreeds die beginsels en doelwitte wat deur die AAMP voorgehou word in die praktyk toe.

Graan SA bly daartoe verbind om binne sy mandaat alles in sy vermoë te doen om voedselonsekerheid in Suid-Afrika aan te pak. Ons erken die uitdagings wat voedselonsekerheid meebring – veral vir kwesbare gemeenskappe – en ons beskou die bevordering van voedselsekerheid as ’n nasionale prioriteit.

Deur voort te bou op die suksesse van ons ontwikkelingsprogram en deur middel van strategiese vennootskappe met lede van die graanwaardeketting, sal Graan SA aanhou om ’n sleutelrol te speel in die volhoubare en winsgewende uitbreiding van voedselsekerheid en die graanbedryf.