Wat Graan SA se sorghumproewe vir 2023/2024 onthul

Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom, Graan SA
Gepubliseer: 3 September 2024

87

So aan die vooraand van ’n hele dekade se sorghumproewe, word daar nie net gekyk na die 2023/2024-seisoen nie, maar ook na die vorige agt seisoene op sekere van die lokaliteite.

Graan SA se sorghumproefprojek vind plaas in samewerking met sorghumsaadmaatskappye (Agricol,­ Lima Grain Zaad, Corteva, AGT Foods Africa en Advanta) en produsente. Die doel van die projek is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie in Suid-Afrika te bevorder deur die aanpasbaarste kultivar vir elk van die produksiegebiede te identifiseer.

Seisoen 9 se lokaliteite
Die beplanning was om die afgelope seisoen vyf strookproewe aan te plant, maar slegs vier het suksesvolle resultate gelewer. ’n Opsomming van die seisoen se beplande lokaliteite en of dit suksesvol gestroop is al dan nie, word in Tabel 1 aangedui. Die vier lokaliteite waar proewe suksesvol gestroop is, se resultate word in hierdie artikel bespreek.

Kultivars en kontrole
Kultivars wat kommersieel beskikbaar is sowel as potensieel “goeie” kultivars wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, word in die proewe ingesluit. Wanneer die resultate in die artikel van nader bekyk word, is dit opmerklik hoeveel nuwe kultivars die afgelope klompie seisoene in die proewe ingeskryf is. Corteva se Pan 8816 is as kontrole in Mpumalanga (Standerton) gebruik, terwyl Lima Grain Zaad se Mr Buster as kontrole in Limpopo gebruik is en Agricol se NS 5511 in Noordwes (Ottosdal). Die koëffisiënt van variasie (KV) dui die statistiese korrektheid van ’n proef aan. ’n Waarde laer as 15 word as statisties goed beoordeel.

Resultate vir die 2023/2024-seisoen
Strookproefresultate kan gebruik word om die beste kultivars met die regte eienskappe te identifiseer en sodoende die aanpasbaarste kultivar vir die omgewing aan te plant. Die tabelle verskaf die opbrengs per kultivar, gemiddelde opbrengs per gebied en elke gebied se KV.

Mpumalanga (Standerton 1)
In Tabel 2 word die opbrengsdata vir Standerton vir die 2023/2024-produksieseisoen aangetoon. Die saadmaatskappye het in totaal tien kultivars in die Standerton-proef ingeskryf, waarvan vier vir die eerste keer in dié proef aangeplant is. Die Gibson-kultivar wat deur AGT Foods ingeskryf is, het die jaar die hoogste opbrengs van 7,05 t/ha behaal. ’n Gemiddelde opbrengs van 6,17 t/ha is vir die proef behaal.

Die opbrengsdata vir kultivars wat langer as twee jaar in die Standerton-proef ingesluit is, se gemiddeldes word in Tabel 3 aan­getoon. Kultivars wat slegs een seisoen in die proef ingesluit was of nie meer kommersieel beskikbaar is nie, is nie in die tabel inge­sluit nie. Kultivars wat wel nog in ’n toetsfase of goeie “potensiële” kultivars is, se resultate is ingesluit. Die gemiddelde strookproef­opbrengs (t/ha) sowel as KV kan per seisoen vergelyk word. Agricol se Enforcer en Corteva se Pan 8816 is die enigste twee kultivars wat sewe jaar in die proef ingeskryf was. Die kultivars wat twee, drie en vyf jaar in die proef ingeskryf was, se gemiddeld is ook bereken. Dit is opmerklik dat die “nuwe” kultivars wat die afgelope twee seisoene ingeskryf is, goeie potensiële opbrengste lewer.

Standerton 2
In Tabel 4 word die opbrengsdata vir ’n tweede lokaliteit in Standerton vir die 2023/2024-produksieseisoen aangetoon. Die kultivars wat in dié proef ingeskryf is, verskil van die kultivars in die Standerton 1-omge­wing. Hierdie proef het haelskade gehad die afgelope seisoen, wat die opbrengs negatief geaffekteer het. ’n Gemiddelde opbrengs van 3,72 t/ha is vir die proef behaal.

Sorghumstrookproewe by Standerton.

Limpopo (Settlers)
Dit is die agste jaar dat ’n proef in Settlers aangeplant is. Slegs twee nuwe kultivars is die afgelope seisoen in dié spesifieke lokaliteit ingeskryf. In Tabel 5 word die opbrengsdata vir die 2023/2024-produksieseisoen aangetoon. Die proef is goed uitgevoer en die resultate betroubaar as daar na die KV gekyk word. Lima Grain Zaad se Mr Buster het goed presteer en het vir die tweede jaar in ’n ry die beste opbrengs vir die seisoen gelewer, terwyl Agricol se Enforcer die tweede beste opbrengs behaal het, ook vir die tweede jaar in ’n ry. AGT Foods Africa se Gibson het derde beste presteer vir die tweede jaar in ’n ry. Die KV was 1,16% en ’n gemiddelde opbrengs van 4,85 t/ha is behaal.

Willem Groothof, voorsitter van die Graan SA-sorghumwerkgroep en die Sorghumtrust, staan by die Settlers-proewe.

2023/2024 se nuwekultivar-inskrywings is Advanta se SentinellG en Mr Bazley, AGT Foods se Gibson en Lima Grain se SC XH102.

Die opbrengsdata vir hierdie langtermynproef word in Tabel 6 aangetoon. Kultivars wat ook nog in toetsfase of potensieel “goeie” kultivars is, se resultate is in die tabel ingesluit. Die gemiddelde strook­proefopbrengs (t/ha) sowel as die KV kan per seisoen vergelyk word. Volgens die data is dit opmerklik dat die afgelope seisoen ’n beter seisoen was. Agricol se Enforcer het die hoogste agtjaar- gemiddelde opbrengs met 3,06 t/ha behaal, gevolg deur Lima Grain Zaad se Mr Buster.

Lehau
Dit is die vierde jaar dat ’n proef in Lehau aangeplant is. Die proef het swaar getrek en daar is ’n tekort aan genoegsame reën aangemeld. In Tabel 7 word die opbrengsdata vir die 2023/2024-produksieseisoen aangetoon. Die KV was 4,46% en ’n gemid­delde opbrengs van 2,76 t/ha is behaal. Corteva se PEX 81 (PAN 8951) het die hoogste opbrengs met 3,48 t/ha behaal.

2023/2024 se nuwekultivar-inskrywings is Advanta se SentinellG en Mr Bazley, Lima Grain se SC XH102 en Corteva se PEX 81 (PAN 8951).

Die opbrengsdata sedert die proef in die omgewing aangeplant is, word in Tabel 8 aangetoon. Die gemiddelde strookproefopbrengs (t/ha) sowel as KV kan per seisoen vergelyk word. Die data dui aan dat die afgelope seisoen nie so ’n goeie opbrengs soos laasjaar gelewer het nie.

Sorghumstrookproewe by Lehau.

Samevatting
Baie dankie aan elke individu wat saamwerk om plaaslike sorghumproduksie te bevorder deur dié projek aan te pak. Die projek kan nie plaasvind sonder toegewyde, doelge­rigte produsente en die samewerking en bystand van Lima Grain Zaad, Agricol, AGT Foods Africa, Corteva en Advanta nie.

Die resultate kan op Graan SA se webblad by www.grainsa.co.za onder die graannavorsing-opskrif besigtig word. Graan SA bedank die Sorghumtrust vir hulle finansiële steun waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie.

Kliek op die skakel om na ’n opname van die sorghumproefbesigtiging te kyk.
https://youtu.be/z__8by5tEhg