Alle produsente streef daarna om benewens goeie opbrengste ook optimale wins per hektaar te behaal.
Jarelange monokultuurpraktyke het egter op die lange duur nadelige gevolge gehad. Waar siekte- en plaagbeheer aanvanklik makliker was, veroorsaak moeilik beheerbare onkruide en insekte vandag groot kopsere.
Een van die oplossings is om verskillende gewasse in ’n wisselboustelsel in te sluit. Hierdie praktyk dra nie net by tot biodiversiteit en verbeterde grondgesondheid en -kwaliteit nie, maar bied oplossings vir plaagbeheer en is ’n kernelement in die bestuur van verbouingsrisiko’s. Dit vorm een van die hoekstene van volhoubare produksie.
Volgens Hendrik van Staden, eenheidshoof van Syngenta Saad in Suid-Afrika, bied ’n wisselboustelsel die volgende voordele:
- Die beperking van plantsiektes – Grondgedraagde wortelsiektes is ’n toenemende bedreiging vir koringproduksie. Wisselbou kan ’n bydrae lewer tot die beheer van plantsiektes op verskillende gewasse.
- Bestuur van onkruiddruk – Onkruid kompeteer met gewasse vir water, voedingselemente, sonlig en spasie en kan graanopbrengste met tot 20% verminder. Wisselbou maak dit moontlik om verskillende onkruiddoders op verskillende gewasse te gebruik om onkruid te beheer. Nie alleen is dit ’n goeie praktyk om die opbou van onkruiddoderweerstand te verminder nie, maar doeltreffende onkruidbeheer in een gewas beteken dat ’n ander gewas verbou kan word sonder om duur selektiewe onkruiddoders in die volgende seisoen daarvoor te gebruik. Die potensiaal vir die opbou van onkruiddoderresidue in die grondprofiel word ook beperk.
- Verhoogde grondvrugbaarheid – Wisselbou bied die geleentheid om die stikstof wat deur sekere peulgewasse soos sojabone in die grond vasgelê word, te benut. Opbrengs- en proteïenverhogings in koring wat na ’n peulgewas op ’n land geplant word, is al in proewe en die praktyk gedemonstreer.
- Beter winsgewendheid – Die insluiting van ’n peul- of oliesaadgewas in die wisselboustelsel kan winsgewendheid verhoog omdat opbrengste in sekere gevalle verbeter. Volgens ’n publikasie van die Proteïennavorsingstigting dui verskeie plaaslike en internasionale proewe aan dat mielies wat ná sojabone geplant word, ’n opbrengssprong van minstens 10% lewer in vergelyking met monokultuurmielies (Dreyer, 2017).
- Verspreiding van risiko – Omdat dit moeilik is om te voorspel wat ’n seisoen gaan inhou, is dit raadsaam om risiko te versprei so ver dit prakties moontlik is. ’n Wisselboustelsel bied ’n uitstekende oplossing.
Deeglike beplanning van ’n wisselboustelsel is noodsaaklik. “Produksierisiko’s van elke gewas moet steeds in aanmerking geneem word. Dit bly belangrik dat produsente hulle moet vergewis van die fyner verbouingsaspekte van alternatiewe of wissselbougewasse,” waarsku Van Staden.
Hanlie Geldenhuys, rygewaskenner by Syngenta Suid-Afrika, ondersteun hierdie sentiment. “Basiese produksiebeginsels bly belangrik sodat elke gewas se potensiaal optimaal kan realiseer.”
Sojaboonproduksie
Sojabone is een van die belangrikste bronne van olie en proteïen wêreldwyd en oor die afgelope dekade het sojaboonproduksie geleidelik in Suid-Afrika toegeneem.
Die gewas se gewildheid in wisselboustelsels neem toe as gevolg van sojabone se stikstofbindingsvermoë en uitgebreide wortelstelsel. As ’n wisselbougewas herstel sojabone grondgesondheid wat gewoonlik in die volgende mielie- of koringoes se opbrengs sigbaar is, terwyl laer insetkoste en ’n gunstige risikoprofiel sorg dat sojabone winsgewend in eie reg is.
Volgens Geldenhuys is die volgende vier aspekte belangrik by sojaboonproduksie:
- Beskerm die saad – Saadbehandeling beskerm die ontkiemende saad en saailing uit die staanspoor. Dit verseker behoorlike ontkieming, goeie wortelontwikkeling en groeikragtige saailinge wat help om ’n eweredige stand te realiseer.
- Onkruidbeheer – Onkruid kompeteer met gewasse vir lig, water en voedingstowwe en kan sojaboonkwaliteit en opbrengs beduidend verlaag.
- Insekbeheer – Insekplae, vernaam grondinsekte, kan groot skade aanrig – veral aan die begin van die seisoen. Bolwurm later in die seisoen kan graangehalte benadeel.
- Siektebeheer – Wanneer sojaboonplante begin blom, kan veral siektes wat fotosintese belemmer die plant en opbrengs nadelig beïnvloed.
Wat sê sojaboonprodusente?
Danie Bester
Danie Bester boer buite Balfour in Mpumalanga en plant reeds sedert 2003 sojabone. Die afgelope klompie jaar het hy verskeie kere met die louere weggestap in die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie in beide die mielie- en sojaboonafdelings in die oostelike Hoëveld.
Bester produseer sojabone en geelmielies onder droëlandtoestande in ’n geenbewerkingstelsel. Hy plant 55% mielies, 45% sojabone en elke tweede jaar sonneblom wat ’n gedeelte van die sojaboonhektare vervang. Verder plant hy sy mielies en sojabone in ’n tweejaar-wisselbousisteem met geen oorlêlande nie. Hy plant wel dekgewasse tussen seisoene as die tyd en seisoen dit toelaat. Na strooptyd bewei die beeste die oesreste, maar hy maak seker dat daar genoeg materiaal op die lande oorgelos word. Afhangende van die hoeveelheid sonneblom wat hy in ’n seisoen plant, plant hy gemiddeld tussen 500 en 700 ha sojabone.
“Ek glo nie in monokultuur nie en volg ’n herlewingsbenadering. Sojabone pas uitstekend in my wisselbouprogram en stel my ook in staat om winterdekgewasse te vestig,” verduidelik Bester. Hy voeg by dat sojabone ’n belangrike rol in sy wisselboustelsel speel en dat ’n mens nie die voordelige uitwerking daarop op mielies moet miskyk nie.
Hy meen nuwe kultivars, tegnieke, produkte en bewerkings moet eers op klein skaal op die plaas getoets word. “As dit werk, kan dit met aanpassings op groter skaal geïmplementeer word. Ek vergelyk jaarliks die opbrengs van verskillende kultivars op verskillende grondtipes en lande. Hierdie vergelykings wys tekorte uit wat reggestel kan word.”
Sou hy knelpunte moet uitwys as dit kom by die verbouing van sojabone, meen hy die gewas kan nie hittestres goed hanteer nie. “Sojabone kan natter toestande goed hanteer, maar hitte en droogte is sy swakplek. Die midsomerdroogte bly altyd vir ons ’n groot uitdaging. Maar soos alles in boerdery, moet ’n mens weet hoe om by die omstandighede aan te pas. Om vog te bewaar is die beste oplossing. Daarom doen ek geenbewerking.
“Water- en grondbestuur is noodsaaklik om ons deur moeilike seisoene te dra. Minimumbewerking is reeds gefokus op die opbou van die grond en vogbewaring. Genoeg organiese materiaal en die regte verhouding tussen die mikro-elemente dra daartoe by dat die plante die sonlig beter kan benut en deur fotosintese in opbrengs kan omsit.”
Bester plant sy sojabone in rye van 0,76 m wyd teen ’n plantestand van 220 000 plante/ha.
Elke kultivar het sy eie voedingsbehoeftes om optimale opbrengs te realiseer en daarom is dit deurslaggewend om jaarliks grondmonsters en gereeld blaarmonsters te neem sodat regstellings tydig gedoen kan word. Hy meen verder dat blaargesondheid uiters belangrik is. “Hierdie ontledings vorm die kern van my bemestingskedule vir mielies en sojabone. Ek baat hierby omdat goeie plantgesondheid aan die einde van die seisoen ekstra kilogramme inbring net omdat ’n kultivar reg bestuur is. So mors ek ook nie geld met oor- of onderbemesting nie.”
Hy dien mikro-elemente deur die seisoen toe. “By die sojabone fokus ek op boor en magnesium en sorg ook dat molibdeen en ander nodige elemente op die saad en in die plantvoor bygevoeg word.”
Onkruidbeheer vorm ’n belangrike deel van sojaboonproduksie. “’n Land moet skoon wees van onkruid en tydige bespuitings is van kritieke belang. As ’n mens te laat spuit is die res van die seisoen besaai met probleme. Ek plant mielies na ’n algehele bespuiting wat ek partymaal reeds vroeg in die winter gedoen het om onkruid, veral skraalhanse, te beheer. Na plant volg ek op met ’n vooropkomstoediening. Voordat ek sojabone plant, doen ek ook ’n algehele bespuiting, maar ek verminder die dosisse van die vooropkomsprodukte wat ek gebruik omdat ek gesien het dat die produkte my opbrengs benadeel. Die veiligste produk om op sojabone te gebruik, is glifosaat.”
Hy meen die beperkte hoeveelheid na-opkomsonkruiddoders tot produsente se beskikking is nog ’n knelpunt. “Die huidige sojaboontegnologie maak dit nie moontlik om ander produkte te gebruik nie. Ek voel dít – saam met die beperkte genetiese poel waaruit ons sojaboonkultivars gekies word – plaas ons op ’n ongelyke voet teenoor produsente in die res van die wêreld.”
Bester se raad aan ander produsente wat sojabone oorweeg, is om deeglike navorsing te doen. Hy lig drie punte uit: “Gesels met suksesvolle medeprodusente; maak seker jou grond-pH is reg; en plant die regte kultivar vir jou plaas.”
Hy waarsku ook teen bemarkingsfoefies. “ Daar is heelwat ‘slangolies’ wat bemark word. Spandeer eerder die geld op kalkbemesting en saad van goeie kwaliteit.”
Bester sê sojabone moet nie as ’n afskeepgewas beskou word nie. “Bestuur die gewas reg, dan sal jy die vrugte pluk. Bly by die basiese beginsels, doen die nodige proewe en probeer om foute te vermy. Hoewel ons agter is wat genetika betref, boer ons uiters effektief. As ’n mens na die Amerikaanse opbrengste kyk en dit met ons produksieomstandighede vergelyk, boer ons uitstekend.”
Kobus Louw
Kobus Louw van die plaas Silverton op die grens tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal, het in 2023 vir die eerste keer aan die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie deelgeneem en gewen met ’n rekordopbrengs van 5,743 t/ha. Die gemiddelde opbrengs vir al sy sojaboonlande in die 2022/2023-seisoen was 4,5 t/ha.
Sojabone is reeds die afgelope 14 jaar deel van sy wisselboustelsel. Een van die redes waarom Louw sojabone plant, is die onvoorspelbare mielie-invoere wat graanpryse negatief beïnvloed. Hy meen dit is veiliger om meer as een gewas aan te plant om sodoende ’n beter gemiddelde rand per hektaar te verseker. Ander beweegredes is omdat sojabone help met verbeterde onkruid-, swam- en insekbeheer in ’n wisselboustelsel.
Louw plant jaarliks sowat 150 ha sojabone. Hy volg ’n wisselboustelsel waarin hy tans een derde sojabone plant en die res van die lande mielies. Hy wil mettertyd beweeg na ’n 50:50-verdeling.
Een van sy grootste uitdagings is die stroopproses, aangesien die humiditeit in sy area besonder hoog is. “Die humiditeit verkort die daaglikse vensterperiode vir stroop geweldig. Dit dou in die oggend wat veroorsaak dat die sojabone te nat is om te stroop. Ons gemiddelde strooptyd is tussen 13:00 en 18:00. Daarna is dit weer te nat om te stroop.”
Die hoë humiditeit en reënval bring ook mee dat swamsiektes ’n groot probleem in die area is. “Die beheer van Sclerotinia is uiters duur en nie effektief nie. Dit is ’n risiko omdat ernstige besmetting van Sclerotinia tot ’n totale misoes kan lei.”
Om produksierisiko’s te versprei en die onvoorspelbaarheid van die weersomstandighede te hanteer, probeer Louw om elke seisoen ’n verskeidenheid variëteite met verskillende groeiseisoenlengtes te plant om sodoende produksie oor kritieke tye te versprei. Dit help dat al die sojabone nie dieselfde tyd blom of peule vorm nie.
Die sojabone word in rywydtes van 0,91 m teen ’n plantestand van 280 000 plante/ha geplant.
Louw doen jaarliks grondontledings. Grondregstellings word na aanleiding van die resultate van die ontledings gedoen en dit bepaal die hoeveelheid asook die lokaliteit van kalk-, kalium- en fosfaattoediening. “Op sojaboonlande strooi ons voor plant ’n 1:2:6-mengsel teen 150 kg/ha uit. Ons bandplaas 250 kg/ha 1:2:6 met plant. Ons vra altyd dat die kunsmisverskaffer vir ons ekstra swael in die mengsel inmeng.” In die spuitprogram word molibdeen en kalium ook ingesluit.
Hy probeer so ver as moontlik geenbewerking toepas, maar doen ’n deeglike skeurtandbewerking indien nodig aangesien hulle ’n groot veefaktor het en kompaksie van grond van tyd tot tyd ’n probleem kan raak.
Verder doen hy ’n algehele bespuiting voor plant om die dekgewasse of onkruide te beheer sodat hy die seisoen met ’n skoon saadbed kan begin. Met plant dien hy ’n vooropkomsonkruiddoder toe. Ongeveer 21 dae na opkoms dien hy ’n na-opkomsonkruiddoder toe saam met insekbeheer vir bol- en snywurms. Afhangende van die swamdruk sal hy tot drie keer spuit om swamme te beheer, veral Sclerotinia wat opbrengs uiters nadelig kan beïnvloed. Hy doen ’n standaardbespuiting vir swamme en daarmee saam dien hy ook ’n blaarvoeding toe. Deel van sy saadbehandeling is ’n biologiese groeistimulant met die oog op verbeterde wortelontwikkeling.
Louw meen plantdatum is een van die deurslaggewende faktore wat sukses of mislukking kan bepaal. “In my ondervinding is plantdatum uiters belangrik. Ek probeer so ver ek kan voor einde November klaar wees met die plant van sojabone, hoewel ek besef dat plantdatum gebiedsgebonde is. Elke produsent moet bepaal wat die beste plantdatum vir sy plaas en omgewing is. Plantestand moet ook volgens jou area reg wees.”
Hy meen die toediening van stikstof is oorbodig aangesien dit oortollige vegetatiewe groei veroorsaak wat tot omval van sojabone kan lei en dan gunstige omstandighede vir swamme skep.
Louw sou graag meer navorsing en proewe in sy area wou sien. “Ek glo hier waar ek boer is van die beste sojaboonverbouingsareas in die land, maar tog word die meeste van die proewe en navorsing in die ander groter saaigebiede gedoen.”
Bron
- Dreyer, J. 2017. Sojabone – ’n outomatiese keuse vir ’n wisselboustelsel. Proteïennavorsingstigting www.prf-pns.co.za/poems/images/projects/0855/pamphlet/1-7-pp-dreyer-y-april-2017-pamphlet.pdf)