As bure mekaar aanvat oor wegdrywing van onkruiddoder

Gepubliseer: 3 September 2024

75
Dr Gerhard Verdoorn, bedryfs-en-rentmeester-skapbestuurder,
CropLife SA

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 gee vir elke burger die reg op ’n omgewing wat nie vir hom/haar benadeel of sy/haar ekonomiese aktiwiteite benadeel nie. Dit beteken in eenvoudige terme dat elkeen van ons die reg op ’n gesonde en finansieel volhoubare bestaan het.

Ongelukkig werk die moderne samelewing selektief met hierdie beginsel omdat die meeste mense nie meer die eiendom van ander respekteer nie. Dit is dikwels ook die geval in die landbou dat bure mekaar benadeel tot so ’n mate dat sommige produsente geweldige finansiële skade ly as gevolg van blatante minagting van reëls en regulasies, of bloot onverantwoordelike optrede.

Die groot gevaar van onkruiddoderwegdrywing
Onkruiddoders verteenwoordig meer as 50% van die wêreld se plaag­dodervolume en verskaf vir produsente waardevolle ge­reedskap om ongewenste plante onder beheer te hou. Sonder onkruiddoders sal gewasproduksie moet staatmaak op omgewings­ongunstige landboupraktyke soos skoffelbewerking wat bogrond stelselmatig struktureel aftakel en erodeer. Daar is egter een nadeel aan onkruiddoders, naamlik dat hulle landbougewasse kan beskadig as hulle nie met die gewasse versoenbaar is nie.

Sommige onkruiddoders is selektief vir breëblaar- of grasonkruide en kan met ’n geruste gemoed tussen gewasse gespuit word, maar daar is ’n paar wat totaal onselektief is en alle gewasse sal aantas, byvoorbeeld glifosaat. Indien onkruiddoders gewasspesifiek en teikengerig toegedien word, is daar geen rede vir kommer nie. As onkruiddoders egter wegdryf van die teikenarea of onverantwoordelik weg van die teikenarea aangewend word, kan dit groot probleme veroorsaak.

CropLife SA word gereeld genader deur produsente wie se kosbare kontantgewasse en selfs boomgewasse deur onkruiddoders van bure benadeel is. Die totale skade beloop sewesyfergetalle per jaar en dit op sigself is kommerwekkend. Verder lei dit tot uiters slegte buurmanskap wat regtig skade aan die openbare beeld van landbou aanrig. Opsommenderwys kan sonder twyfel gesê word dat onkruiddoderskade jaarliks ’n groot aantal produsente ’n ernstige knou gee.

Protokol om te volg wanneer ’n buurman se onkruiddoders skade veroorsaak
Die gemenereg in Suid-Afrika plaas die las van skuldbewys op die klaer of benadeelde persoon. Dit is nogal ’n ernstige saak, maar vestig die beginsel van regverdigheid sodat ’n onskuldige persoon nie onregmatig deur valse aantygings benadeel word nie. Wat gedoen moet word om genoegsame getuienis te hê, is die volgende:

  • Neem foto’s of video’s van die spuitoperasie en maak seker dat die beelde duidelik is om aan te dui dat onkruiddoders onverskillig of onwettig gespuit word. As drywing fisies sigbaar is, moet dit so op beeld vasgelê word. Dit is ’n goeie beginsel om ’n persoon as getuie in foto’s en video’s in te sluit ten einde ontkenning van die aksie te betwis.
  • Teken die atmosferiese toestande nou­keurig aan en sluit in (a) die temperatuur;­ (b) die windrigting en windsnelheid, ver­kieslik gemeet met ’n anemometer; (c) die lugvog soos gemeet met die anemo­meter; en (d) enige abnormale weerstoestande soos temperatuurinversies.
  • Probeer ten minste uitvind watter onkruiddoder gespuit is. Hier is nie slegs die aktiewe bestanddeel nie, maar ook die handelsmerk belangrik, want dit kan die benadeelde persoon se saak sterk as ’n onkruiddoder teen die etiket se instruksies gespuit word.
  • Neem foto’s van die gewas wat deur die buurman gespuit is en ook foto’s van die benadeelde se gewas, veral as gewasskade begin manifesteer.
  • Neem so gou moontlik na die gebeurtenis monsters van die benadeelde se gewas en laat dit by ’n analitiese laboratorium analiseer om vas te stel watter aktiewe bestanddeel op die gewas beland het. Die monsters moet verkieslik dadelik gevries word nadat dit ingesamel is voor dit na die laboratorium afgevoer word.
  • Laat ’n professionele assesseerder die finansiële skade takseer as eise teen die verweerder ingestel wil word. Skattings sal nie deur enige party aanvaar word nie.

Kontak dan ’n prokureur ten einde ’n skuldeis teen die verweerder in te stel en voorsien die prokureur van alle inligting wat bekom is. Dit kan nodig wees dat die prokureur spesialiste moet nader vir spesialisopinies en verslae om die skuldeiser se saak te sterk.

  • Oorreed die prokureur om die verweerder te nader vir ’n skikking buite die hof omdat dit vinniger en minder pynlik as ’n volle regsgeding in die hof is. Indien die verweerder weier om te skik, is die enigste uitweg om die saak in die hof te voer, maar wees daarop bedag dat die regs­koste dan eskaleer.
  • Indien die verweerder die onkruiddoder buite etiketvoorskrifte aangewend het, mag die klaer ook ’n ondersoek by die Departement van Landbou se Inspektoraat van Landbou-insette en Beheer aanvra. Dit sterk gewoonlik ook ’n siviele eis as daar ’n formele klag oor ’n misdryf aanhangig gemaak word.

’n Klaer of skuldeiser moet nooit die volgende doen nie:

  • Moet nie die verweerder in die media of openbaar beswadder nie, want dit sal negatief op enige eis inwerk.
  • Moet nie poog om oormatige vergoeding te eis nie, want dit sal die verweerder se regsverteenwoordiger skietgoed gee om die eis ten volle teen te staan.
  • Moet nie vorige seisoene se skades by die eis bywerk nie, want dit kan beteken dat die verweerder alle bewyse daarvoor mag aanvra. Indien dit nie beskikbaar is nie, sal dit die klaer se saak ernstig benadeel.

Indien ’n skikkingsooreenkoms binne of buite die hof bereik word, moet die skuldeiser se regsverteenwoordiger die verweerder skriftelik op terme plaas. Dit beteken dat die verweerder gewaarsku moet word dat enige soortgelyke gebeurtenisse in die toekoms ernstige nagevolge vir die verweerder sal inhou.

Dit is altyd ’n onaangename situasie as bure mekaar oor gewasskade aanvat. Produsente moet met groot omsigtigheid bure se gewasse in ag neem voordat onkruiddoders aangewend word. Vooraf waarskuwing is altyd goed en kan ’n probleemsituasie voorkom. Kommunikeer met mekaar en respekteer mekaar se eiendom en gewasse.