SELEKSIEDRUK beïnvloed effektiewe beheer van PLAAGINSEKTE

Gepubliseer: 2 September 2024

73
Dr Astrid Jankielsohn, LNR-Kleingraan

Insekplae is al teenwoordig sedert die begin van landbou en produsente het van die vroegste tye nuwe maniere gesoek om landboukundige plae te beheer. Van die eerste chemiese plaagdoders wat ontwikkel is, was ’n “Bordeaux-mengsel” – ’n kombinasie van koper, sulfaat en kalk. In die vroeë 1940’s het chemiese maatskappye begin om chemiese plaagdoderprodukte te sintetiseer en kommersialiseer.

Hierdie was dikwels breëspektrumprodukte en was aanvanklik uiters effektief. Hoewel effektief, het die negatiewe gevolge van die onbeheerde gebruik van hierdie middels vinnig duidelik geword. Behalwe vir skade aan natuurlike ekosisteme, nieteikenspesies en menslike gesondheid, het plaaginsekte ook vinnig weerstand ontwikkel teen hierdie middels, met die gevolg dat die effektiwiteit afgeneem het. Plaagdoderweerstand ontwikkel wanneer genetiese verande­ring in die teikeninsekplaagpopulasie verlaagde vatbaarheid veroorsaak teen ’n plaagdoder wat voorheen effektief was.

Plaaginsekte
Insekte wat ontwikkel het as plaaginsekte was aanvanklik deel van natuurlike ekosisteme. Met die ontwikkeling van landbou is die natuurlike ekosisteme verander na monokultuursisteme. Hierdie ver­andering in die ekosisteem het veroorsaak dat sommige insekspesies uitgesluit is omdat hulle nie by die veranderde ekosisteem kon aanpas en oorleef nie. Die enkele insekte wat wel by hierdie veranderde sisteme kon aanpas, is bevoordeel deur ’n bron van voedsel, skuiling en afwesigheid van predasie en kompetisie. Met die afwesigheid van faktore wat die populasiegroei van hierdie insekte onderdruk, kon hulle vermeerder, versprei en ekonomiese skade aan gewasse veroorsaak. Dit het gevolglik noodsaaklik geword om meganismes te ontwikkel om die populasiegroei van hierdie plaaginsekte te onderdruk om die gewas te beskerm.

Ten spyte van verskeie beheerpraktyke wat oor tyd aangewend is om insekplae te onderdruk, is hierdie insekte steeds teenwoordig en veroorsaak ekonomiese skade in die landbou. Die rede hiervoor is dat insekte wat plaagstatus bereik het, gewoonlik aanpasbaar is en hulle kan suksesvol aanpas by veranderings in die omgewing. Die beheerpraktyke wat teen plaaginsekte gebruik word, veroorsaak seleksiedruk op die insekpopulasies. Insekpopulasies reageer op die seleksiedruk deur aan te pas, die beheermeganismes te oorkom en die betrokke beheerpraktyk so minder effektief te maak. ’n Voorbeeld hiervan is die beheerpraktyke teen Russiese koringluis (RKL) in die koringverbouingsgebiede van Suid-Afrika.

RKL-weerstandbiedendekoringkultivars
Die beheerpraktyk wat in die droëland-koringverbouingsgebied in die somerreënvalarea (Oos-Vrystaat) toegepas is, is die verbouing van RKL-weerstandbiedende koringkultivars met genetiese weerstand teen RKL. RKL-populasies in hierdie gebied het op die seleksiedruk van die weerstandbiedende koringkultivars gereageer deur nuwe biotipes te ontwikkel wat hierdie genetiese weerstand kon oorkom en suksesvol op die koringkultivars kon voed. Daar is tans vyf RKL-biotipes in die droëlandkoringgebiede in die somerreënvalarea wat ’n gevolg is van die seleksiedruk toegepas deur die verbouing van RKL-weerstandbiedende koringkultivars.

RKL-weerstandbiedende koringkultivars.

Chemiese beheer
Die diversiteit van RKL-biotipes het nooit in die droëlandverbouingsgebiede in die winterreënvalgebied (Wes-Kaap) en die besproeiingsgebiede in die Wes-Vrystaat en die Noord-Kaap ontwikkel nie. In hierdie gebiede kom daar nog steeds net een RKL-biotipe voor. Die rede hiervoor is dat daar nooit koringkultivars met weerstand teen RKL in hier­die gebiede verbou is nie. Daar was dus geen seleksiedruk as gevolg van hierdie betrokke beheerpraktyk op die RKL-populasies in hierdie gebiede nie. Die beheerpraktyk wat hoofsaaklik in hierdie gebiede teen RKL gebruik is, was chemiese plaagdoder. Daar is sommige RKL-populasies wat ’n afname in vatbaarheid toon teen aktiewe bestanddele van plaagdoders wat algemeen in hierdie gebiede gebruik word. Hierdie beheermeganisme het dus ook seleksiedruk toegepas op die RKL-populasies wat veroorsaak het dat die effektiwiteit van hierdie beheerme­ganisme afgeneem het.

Chemiese beheer.

Effektiwiteit van beheerpraktyke teen landboukundige insekplae kan behou word deur die seleksiedruk op die plaag te verlaag. Dit kan gedoen word deur monitering van insekplae in die sisteem en die groeistadium van gewas en deur die potensiële skade op die spesifieke groeistadium van die gewas te bepaal. Hierdeur kan die uiteindelike ekonomiese skade op die betrokke gewas bepaal word. Die betrokke beheerpraktyk moet dan net gebruik word om potensiële ekonomiese skade op die gewas te beperk.