Die boodskap by die negende Wêreldkongres oor Bewaringslandbou (WCCA9) was duidelik: Daar is oorweldigende bewys dat boerderypraktyke volgens die drie beginsels van bewaringslandbou kan lei tot hoërgehalte- en groter opbrengste, verbeterde grondgesondheid, laer insetkoste en ’n kleiner koolstofvoetspoor.
Kongresgangers het van navorsers én produsente van dwarsoor die wêreld gehoor van suksesse in ’n verskeidenheid gewasse, klimaatstoestande en in beide groot- en kleinskaalse boerderye wat dié drie beginsels – minimum grondbewerking, grondbedekking en gewasrotasies gekombineer met diverse dekgewasmengsels – volg. Daar was meer as 142 sprekers en twaalf spesiale sessies by die kongres, wat van 21 tot 25 Julie by die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum gehou is. Verder was daar 40 plakkate oor bewaringslandbou-navorsingstudies asook ’n demonstrasiedag van proewe en implemente by die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Langgewens-navorsingsplaas.
Aanbiedinge by die kongres het getoon hoe ekostelseldienste wat deur groter biodiversiteit op plase, minder insette, verlaagde waterbesoedeling en minder koolstofvrystellings moontlik gemaak word, ook ’n bydrae lewer tot internasionale ontwikkelingsdoelstellings. Tog het sprekers beduidende struikelblokke uitgelig wat breër deelname aan bewaringslandbou ondermyn – onder meer die risiko’s en koste verbonde aan oorskakeling, ’n gebrek aan inligting en steun asook perverse beleidsaansporings wat produsente in sommige gevalle beloon om te volhard met konvensionele ploeggebaseerde stelsels.
Dr Theodor Friedrich, veteraankenner van bewaringslandbou by die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie, was hewig krities oor verskeie sake: groot bedrae navorsingsgeld wat in veral Europa steeds bestee word daaraan om die voordele van bewaringslandbou te ontken; die feit dat wetgewing in sommige lande dit vir produsente bykans onmoontlik maak om volgens bewaringslandboubeginsels te boer; en dat boerderysubsidies op plaasgrootte en kommoditeite gegrond is pleks daarvan om tasbare oplossings soos saad vir dekgewasse te subsidieer. “Wanneer ’n navorser verklaar dat die teorie (van bewaringslandbou) nie kan werk nie, maar produsente bewys dit kan, wie dink julle is reg?” het hy gevra.
Vir hoë én lae reënval
Op die kongres het navorsingstudies uit beide hoëreënvalgebiede soos Indië en Bangladesj asook droë gebiede soos Iran en Suid-Afrika getoon hoe bewaringslandbou meer effektiewe watergebruik, verbeterde grondstruktuur en hoër opname van koolstof en organiese materiaal in die grond bewerkstellig – in proewe sowel as op kommersiële plase:
- Geenbewerkingsproewe by Ottosdal in Noordwes het ’n 52%-toename in mielie-opbrengste tot gevolg gehad vergeleke met konvensionele ploegpraktyke, danksy ’n drie- tot viervoudige toename in waterinfiltrasie wat deur oesreste moontlik gemaak is, nouer ryspasiëring en digter plantbedekking.
- ’n Iranse koring-geenbewerkingsproef het ’n 46%-afname in energieverbruik teweeggebring, sowel as ’n 3,2%-toename in opbrengs, wat gepaard gegaan het met ’n 50%-vermindering in ure arbeid, 44% minder onkruid- en plaagdoders, amper 60% minder brandstof en 15% minder saad vergeleke met konvensionele ploegpraktyke.
- ’n Langtermynproef by intensiewe graan- en rysverbouing met bewaringspraktyke in Bangladesj het verbeterde vlakke van stikstof, kalium, fosfor en swael in die grond teweeggebring, saam met beduidende waterbesparing, laer koolstofvrystellings en kleiner onkruidsaadreserwes.
- In Bergville, KwaZulu-Natal, het die Mahlatini-ontwikkelingstigting onder bestaansboere verskeie bewaringslandbou- en tussenverbouingsproewe gedoen, wat in sekere gevalle die waterproduktiwiteit verdubbel het en mielie-opbrengste met 2 t/ha tot 3 t/ha verbeter het.
’n Aantal voorleggings het ook getoon watter voordele die integrasie van lewende hawe in bewaringslandboustelsels inhou.
Cobus van Coller, ’n graan-en-beesprodusent van Viljoenskroon in die Vrystaat, wat geenbewerkingwisselbou met mielies, sojabone en winter- en somerdekgewasse beoefen, het sedert die integrasie van beeste in sy boerderystelsel die bemestingswaarde daarvan op sy landerye bereken op R6 609/ha.
Prof Peter Byck van Arizona State University se School of Sustainability se dokumentêre film, Roots so deep you can see the devil down there, is tydens die opening van die kongres vertoon. Dit het die suksesvolle implementering van ultrahoëdrukbeweiding by ’n aantal produsente in die suidooste van die VSA uitgelig asook hoe grondgesondheid, biodiversiteit, koolstofopname in die grond en waterretensievermoëns drasties verbeter het vergeleke met hul bure.
Navorsing van ASSET Research wat deur die Mielietrust befonds is en wat die veerkragtigheid en risikoversagtingsvermoëns van verskillende wisselboustelsels in somergrane ondersoek het, het gevind dat stelsels wat somer- en winterdekgewasse afwissel met sojabone en winterdekgewasse die grootste risikoversagtingspotensiaal toon.
Onkruiddoders
Onkruiddoderweerstandigheid is egter ook uitgelig as ’n beduidende risiko in bewaringslandboustelsels.
Prof Ken Flower, direkteur van die Australian Herbicide Resistance Initiative, het gewys op navorsing wat toon dat sekere onkruide aangepas het om vooropkomsonkruiddoders te ontduik deur later te ontkiem. Hulle blom dan ook vroeër en gooi saad af om onkruiddodertoedienings aan die einde van die groeiseisoen te ontduik. Hy het gesê die huidige onkruidwetenskappe “ly aan ’n ooraanbod van tegnologiese oplossings” en hoewel hulle spesifieke probleme op kort termyn mag oplos, “vertraag, transformeer en verskuif (dit) probleme op lang termyn, en skep ook nuwes”.
Volgens hom is die oplossing om gewasverbouingstelsels te ontwikkel wat minder afhanklik is van onkruiddoders. Produsente bly ondanks aanmanings oor onkruidweerstandigheid vasgevang in die gebruik van sulke middels weens ekonomiese druk.
Begin by die produsente
Oor hoe om meer produsente te oorreed om oor te slaan na bewaringsboerdery, was ’n paar sprekers van mening dat só ’n oorgang boergedrewe moet wees.
“Mense verander net as die pyn daarvan om dieselfde te bly, groter is as om te verander,” het DF Fyfer, produsent van Vryburg, gesê. Oor sy eie ervarings om oor te skakel na geenbewerkingspraktyke en die integrasie van lewende hawe in sy gewasboustelsel, het hy gesê “jy kan mense nie stoot nie, jy kan hulle net trek, en jy kan hulle net trek deur resultate te behaal”.
Dr Hendrik Smith, programbestuurder by ASSET Research, het gesê resultate van studies oor die oorskakeling na bewaringslandbou steun ’n boergesentreerde benadering wat gebruik maak van bestaande groepe wat deur produsente gedryf word. Dit stel produsente in staat om van hul eweknieë te leer en organiese skakels met die res van die bedryf te vorm om dié praktyke te steun.
’n Spesiale gespreksessie saam met vier Suid-Afrikaanse pioniers van bewaringslandbou – Egon Zunckel van Bergville in KwaZulu-Natal, Andries Botha van Viljoenskroon in die Vrystaat, en twee Wes-Kaapse produsente, Pieter Gildenhuys van Heidelberg en Dirk Lesch van Malmesbury – het dié punt onderskraag. Uit hul onderskeie vertellings oor hulle reis met bewaringslandbou, was dit duidelik dat die implementering van bewaringslandboubeginsels op hul plase gelei is deur hulle unieke omstandighede.
’n Pluimpie vir Suid-Afrika
Prof Johann Strauss, senior navorser by die Wes-Kaapse Departement van Landbou en die kongresleier, het die kongres bestempel as ’n beduidende mylpaal vir Suid-Afrika omdat dit die land se verbintenis tot volhoubare landboupraktyke ten toon stel. “Die kongres het opnuut beklemtoon hoe belangrik dit is om na ons grond om te sien. Sonder dié waardevolle natuurlike kommoditeit, kan ons nie voedselseker wees in ’n veranderende klimaat nie.”
Prof Pieter Swanepoel, hoof van die Departement Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch, meen die kongres was waardevol om bewusmaking van bewaringsboerdery te bevorder in Suid-Afrika en die res van Afrika – en in beide kommersiële en klein boerderye.
“Ons produsente is ook erken as innoverende sleutelfigure by wie navorsers kan leer en aanpas. Daar is klem gelê op die finansiële voordele van bewaringsboerdery en hoe dit winsgewendheid bevorder.” Hy meen samewerking tussen produsente en navorsers is deurslaggewend vir vooruitgang in die praktyk en om struikelblokke soos onkruidweerstand te oorkom.