Die meeste van julle weet dat ek in landbou gewerk het tot 2009 en dat ek nou, na 15 jaar, weer terug is. Dit het my in staat gestel om na te dink oor die opvallendste veranderinge wat met verloop van tyd plaasgevind het, naamlik die landbousektor se verhouding met die regering en die veranderinge in kommunikasie en interaksie.
Gedurende die eerste dekade van demokrasie in Suid-Afrika was hierdie verhouding onseker. Die privaat sektor was bekommerd oor nuwe regeringsbeleid, veranderinge in wetgewing en regulasies asook ideologieë oor ekonomiese beleid en implementering. Intussen was die ANC besig om sy bestuurstrategie, uitvoeringstyl en strukture uit te pluis.
Die tweede dekade is gekenmerk deur selfverrykende gedrag. Die landbousektor het die ergste van hierdie era vrygespring, behalwe vir enkele noemenswaardige gevalle. Landbou se kontant is meestal vas in bates met relatief lae vlakke van vrye kontantvloei en bedrywighede met ’n uitgebreide geografiese verspreiding langs sorgsame en oplettende bure – vandaar die noemenswaardige uitsonderings. Ons sektor is tot ’n groot mate beskerm deur Minister Didiza se integriteit en strategiese skerpheid wat ’n gesonde grondslag en leierskap gevestig het. Gelukkig het Suid-Afrika onder President Ramaphosa begin om verby hierdie tipe dinge te beweeg.
Ek bespeur ’n toegewyde vasberadenheid in die landbousektor om dit te omskep in ’n welvarende en inklusiewe sektor. Dit is egter moeilik om sukses te behaal. Ons verstaan wat gedoen moet word, maar die “hoe” bly ’n dinamiese teiken.
Dit is verstommend hoe die gehoor en deelname in die landboupolitieke diskoers gegroei het. Voorspraak en veldtogte het verander as gevolg van sosiale media, toegang tot inligting en moderne kommunikasiemetodes. Inligting is orals en die publiek het meer toegang tot politici en regulatoriese besluitnemers as ooit tevore.
Graan SA se sleuteluitdaging is om suksesvol as voorspraak vir graanprodusente op te tree in hierdie nuwe omgewing deur gebruik te maak van objektiewe waarhede, maatstawwe en vertroue. Voorspraakgroepe gebruik egter vrees, hoop vir ’n beter toekoms en die toeganklikheid van die publiek in hierdie digitale wêreld vol fopnuus. Die regering en regulatoriese besluitnemers moet deur hierdie geraas sif en die ware feite onderskei om die beste besluite vir Suid-Afrika te maak.
Dit is nie wys om onvoorbereid te wees nie, dus sal ons na ’n hoër rat moet oorskakel om effektief te kommunikeer en seker te maak ons boodskap bly voorop in die gedagtes om die beste moontlike besluite vir ons produsente en die landbouwaardeketting te verseker.
Ek geniet altyd die sêding dat ’n kameel ’n perd is wat deur ’n komitee ontwerp is. Net so glo ek dat die nuwe regering van nasionale eenheid dit moeilik sal vind om vinnig besluite te neem en duidelike beleidsrigting te gee. Dit is die realiteit waarbinne ons die volgende vyf jaar sal moet funksioneer.
Dit maak my egter nie moedeloos nie. Dit kan makliker wees vir ons om in ’n veelpartyomgewing die saak van ’n inklusiewe en welvarende landbousektor te bevorder. ’n Veelpartyregering bied ’n platform vir diverse idees en omvattende besprekings wat kan lei tot meer gebalanseerde en inklusiewe beleid wat ’n breër spektrum van die landbougemeenskap bevoordeel.
Minister Steenhuisen, wat nou passievol die verantwoordelikheid vir landbou dra, lei ook die Demokratiese Alliansie in die regering van nasionale eenheid. Landbou sal beslis goed verteenwoordig wees op die hoogste regeringsvlak. Nuwe leierskap sal nuwe energie en denke na die landbousektor en die departement bring.
Dit gaan egter harde werk verg. Ons sal meer diverse groepe moet oortuig van wat ons probeer bereik deur op ’n nuwe vlak van kommunikasie, betrokkenheid en vennootskap met die regering en politieke besluitnemers te werk. Die rede is dat baie mense dieselfde geleentheid het as gevolg van toegang tot besluitneming deur sosiale media, nuus en fopnuus.
Toe bespiegelings oor die samestelling van die nuwe regering ’n hoogtepunt bereik het, het my vriend Elias Barnard vir my Jesus se laaste woorde voordat Hy opgevaar het hemel toe, gestuur.
Handelinge 1:6-8: “‘Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?’ Hy het hulle geantwoord: ‘Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.’”
Ons by Graan SA bly onwrikbaar in ons roeping om ons hemelse koninkryk te dien, maar ook die volhoubaarheid en welvaart van die graanbedryf en die landbousektor in Suid-Afrika, ongeag wie die regering aan bewind is.