Die storm

Gepubliseer: 30 Augustus 2024

395

Beste Grootneef

Die verhaal van die storm wat mense se lewens vir altyd verander het, is bykans 2 000 jaar gelede opgeteken. Die reis het begin vanaf Sesarea – toe nog ’n Romeinse kolonie. ’n Belangrike gevangene is deur die destydse goewerneur aan die hoofman oor honderd van die keiserlike wag oorhandig om na Rome te neem. Dit nadat die gevangene hom op die keiser beroep het.

Reeds met die aanvang van die reis het die wind teen die skip gewaai. Die skip het agter om Ciprus gevaar om uit die ergste winde te bly en is toe kuslangs verby Silisië tot by Mira. Daar het die hoofman, met die naam Julius, die gevangenes en die soldate laat oorklim op ’n skip uit Aleksandrië vanaf Egipte na Italië. Steeds met die wind van voor, is kuslangs voortgebeur tot by ’n plek genaamd Mooi Hawens by die stad Lasea.

Intussen het die seisoen vinnig verander en is gewaarsku teen ongure weer wat wag. Die hoofman het egter na oorleg met die skeepskaptein besluit om voort te gaan met die reis.

Met ’n suidewind wat liggies gewaai het, het die skip uit Mooi Hawens gevaar. Maar min het hulle geweet wat op hulle wag. Enkele dae later het die stormwind uit die noordooste, destyds bekend as die Eurakilon, die skip meegesleep die diepsee in.

Agter die eiland Kauda is skuiling gesoek. Die kaptein het die bemanning opdrag gegee om die skip met toue te omgord om die romp te versterk. Die volgende dag het hy opdrag gegee dat die vrag afgegooi word om die skip ligter te maak. Op die derde dag het hy beveel dat alle skeepsgereedskap oorboord gegooi word. Die son en sterre het vir baie dae nie geskyn nie en die bemanning is van alle hoop op redding ontneem. Die skip is al hoe verder die Adriatiese see ingewaai.

Naby middernag op dag 14 het die matrose vermoed dat die skip naby land was. Ankers is oor die agterkant van die skip gegooi. Die belangrike gevangene het almal op die skip moed ingepraat met die boodskap dat niemand onder hulle ’n haar van hul hoof sal verloor nie. Daar was 276 siele aan boord.

Toe dit dag word, is die karige rantsoen onder mekaar verdeel, waarna die kaptein opdrag gegee het dat die laaste ko­ring oorboord gegooi moet word om die skip nog ligter te maak. ’n Onbekende strand kon waargeneem word. Opdrag is gegee dat die ankers van die agterboeg afgekap word en die voorseil is gespan in ’n poging om die skip op die strand te laat loop.

En toe rampspoed. Die voorkant van die skip het aan rotse gehaak met die see wat weerskante verby gebreek het. Die agterdeel van die skip is deur die geweld van die branders uitmekaar geslaan.

Die hoofman het verhoed dat die soldate die gevangenes doodmaak, aangesien sy uitdruklike opdrag was om die belang­rikste van al die gevangenes aan die keiser te besorg. Bevel is gegee dat dié wat kon swem, in die see spring om die land te bereik. Die ander, sommige op planke of stukke skip, het uitge­spoel tot op die strand. Al 276 siele was veilig.

Eilandbewoners het die uitgeputte groep met buitengewone mensliewendheid verwelkom met ’n groot vuur en skuiling teen die koue. Na drie maande op die eiland het die hoofman die kaptein van ’n skip wat by die eiland oorwinter het, oorgehaal om die keiserlike wag en gevangenes na Italië te neem.

Ou Neef, wat sou die gehardste van soldate en seemanne nie alles na dié reis aan vriende en familie vertel het nie? Van die vreemde gevangene wat hom op die keiser beroep het. En hoe hy midde-in die storm almal moed ingepraat het. Kon hulle anders as om te getuig van die man se onwrikbare geloof in sy Skepper?

Soms beleef ons storms op ons lewensreis, ou Neef. Hou egter vas aan die Hand wat redding bied, selfs in die grootste van storms. Onthou, daar word nie ’n ekstra dag tot jou lewe gevoeg om jou ontwil nie – maar om ’n verskil vir ander te maak. Dít het die besondere gevangene met raad en daad gedoen terwyl hy in Rome op die keiser gewag het. Sy briewe dien2 000 jaar later steeds as inspirasie.

Die skrywer van hierdie besonderse verhaal was Lukas. Die gevangene was aan die begin van sy loopbaan bekend as Saulus, voordat hy na Damaskus gereis het.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.