SONKRAG lewer reeds byna 10% VAN SA SE KRAG

Nicolaas Faure van Schalkwyk, SUNCybernetics
Gepubliseer: 31 Julie 2024

271

Met die toename in krag­onderbrekings, elektrisiteitskoste en die afname van die koste van son­kragprodukte en -oplos­sings, het die kapasiteit van geïnstalleerde sonkragstelsels beduidend toegeneem die afgelope paar jaar.

Van Grafiek 1 en Grafiek 2 kan ’n mens aflei dat daar ’n skerp toename in die aankope en invoer van sonkragverwante produkte was in reaksie op die drastiese toename in kragonderbrekings. Wat verder bygedra het tot hierdie toename in die in­voer van sonkragprodukte, was die regering wat nasionale wetgewing verander het deur die NERSA-lisensievereiste te verwyder. Belastingvoordele is ook aangebied vir verbruikers wat sonkrag laat installeer.

Grafiek 1: SA invoer van sonpanele, litiumioonbatterye en omskakelaars ($ miljard).
Bron: Montmasson-Clair, gebaseer op SAID-data wat van TradeMap & Quantec afgelaai is
Grafiek 2: Beurtkragstatistiek van 2007 tot 2022.
Bron: WNNR
Grafiek 3: Geskatte kumulatiewe totale RTS PV geïnstalleer in Suid-Afrika tussen Julie 2022 en Junie 2023.

Volgens Eskom se eie interne berekeninge en die South African Photovoltaic Association (SAPVIA) se lugfotodatabasis, was daar teen middel-2023 reeds tussen 4 500 mW tot 5 600 mW se sonkrag in Suid-Afrika geïnstalleer. Hierdie geïnstalleerde sonkragkapasiteit is byna 10% van ons land se totale geïnstalleerde kragkapasiteit.

Anders gestel, die totale geïnstalleerde sonkragkapasiteit is ongeveer dieselfde grootte as een Medupi-kragstasie. Die groot verskil tussen die twee is dat dit ongeveer twee jaar geneem het om hierdie indrukwekkende sonkragkapasiteit te realiseer, terwyl Medupi meer as agt jaar geneem het om ten volle aanlyn te kom. Die sonkragkapasiteit van 5 600 mW sal meer as 8 000 GWh se groenenergie opwek, wat tot soveel as 6,8 miljoen ton CO2 se uitlaatgasse sal vermy.

Sonpanele geïnstalleer op ‘n plaas naby Bothaville.

Energiekenners is van mening dat hierdie geïnstalleerde sonkragkapasiteit teen die einde van 2024 sal verdubbel en dat ongeveer 20% van die land se energiebehoefte dan deur sonkrag gedek sal word. Hierdie sonkrag help sonder twyfel om duur dieselbrandstofverbruik deur die dag te beperk. Verder laat die sonkrag ook toe dat Eskom hul hidropompstasies – wat as grootskaalse batterye gesien word – ten volle gebruik. Soos die meeste mense reeds weet, kan sonkrag ongelukkig slegs krag lewer wanneer die son skyn, wat beteken ander vorme van kragvoorsiening sal moet instaan vir die nasionale pieklastye en wanneer die weer ongunstig is.

’n Verdere vooruitsig is dat die Suid-Afrikaanse kragnetwerk op ’n punt kan kom waar netwerkstabiliteit ’n uitdaging kan word indien die integrasie van son­krag nie noukeurig ondersoek en sorgvuldig aangepak word nie. Ons netwerk is redelik verouderd en ongelukkig nie ontwerp vir wisselvallige kragopwekking versprei oor die hele netwerk nie. Dit is dus belangrik dat Eskom en munisipaliteite betrek word wanneer sonkragprojekte geïnstalleer word om sodoende te verseker dat dié projekte nie ander verbruikers wat aan die omliggende netwerk gekoppel is, negatief beïnvloed en benadeel nie.