Saam maak hulle SA beter

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 31 Julie 2024

571

As elkeen net iets kleins doen, kan ons van Suid-Afrika ’n beter plek maak. Só sê Thabo van Zyl, bekende mielieprodusent van Wesselsbron en ’n lid van Graan SA.

Thabo en sy vrou, Ninette, dryf al vir die afgelope tien jaar die Itokisetseng Skool-projek in samewerking met Senwes, waar hy ook in die direksie dien.

Itokisetseng Skool se storie begin reeds in die vroeë jare negen­tig. Thabo vertel dat daar verskeie klein plaasskole in die omgewing was. Die destydse Departement van Onderwys het hierdie skole begin sluit en leerders gedwing om skole in townships by te woon.

Produsente in die omgewing het hul stem dik gemaak omdat hulle gemeen het die verskuiwing gaan gesinstrukture opbreek. Die gevolg was dat die departement Itokisetseng gebou het op grond wat produsente beskikbaar gestel het. Oor tyd kon produ­sente nie meer op die beheerliggaam van Itokisetseng dien nie en, hoofsaaklik weens ’n tekort aan geld, het die skool geleidelik begin agteruitgaan.

Dit is hier waar Thabo en Ninette, ’n veearts, se betrokkenheid by Itokisetseng begin het. Thabo het ’n Senwes-geleentheid bygewoon waar toekennings onder meer aan mense gemaak is wat ’n kursus in vroeë kinderontwikkeling deurloop het. Net hier het hy ’n aha-oomblik beleef en Senwes gevra of hulle nie ook ’n persoon vir Itokisetseng in vroeë kinderontwikkeling kan oplei nie.

Momentum
“Senwes het gesê hulle het ’n groter plan en alles het van daar af momentum begin kry. Ons moes net eenvoudig die hand neem wat Senwes uitgereik het.”

Senwes het aangebied om as deel van hulle korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid die skool nie net met ’n klaskamer en opleidingsfooie vir ’n onderwyseres te help nie, maar ook om ’n groentetuin op die skoolterrein aan te lê om só ’n volhoubare voedselskema vir leerders en koshuisinwoners te verseker.

In ’n poging om ’n volronde kind daar te stel, doen Senwes benewens die vroeëkinderontwikkelingsopleiding aan onderwysers en groentetuine by plaasskole ook sportontwikkeling in samewerking met die krieketunies in die Vrystaat en Noordwes, sê Francois Redelinghuys, bestuurder: Korporatiewe Bemarking by dié maatskappy.

Elmarie Joynt (groepmaatskappysekretaris: Senwes) in Itokisetseng se koolland.

Groen vingers
Hoewel Ninette groen vingers het en lief is vir tuinmaak, het die groentetuin vele uitdagings ingehou. ’n Stuk veld van 1,5 ha op die skoolterrein is vir die groenteprojek gerehabiliteer. Die eerste uitda­ging, vertel Thabo, was dat die Noord-Vrystaat nie noodwendig gunstig vir groenteverbouing is nie.

Ninette het egter vasgebyt en met verskeie groentesoorte eksperimenteer. Op die oomblik is kool een van die staatmakers. Met verloop van tyd is van die wins teruggeploeg in die projek en kon skadunette opgerig en besproeiingstelsels aangekoop word. Tamaties word tans onder die nette geplant en is ’n goeie kontantgewas. Hoewel dit arbeidsintensief is en konstante chemiese bestuur benodig, vaar hul tamaties besonder goed op die mark. Groente wat nie geskik is vir die mark nie, word in die skoolkombuis gebruik.

Ninette van Zyl saam met leerders wat met die koolkoppe spog wat hulle self verbou het.

Om die groentetuingedagte by leerders te laat posvat, het Ninette verlede jaar met ’n koolgroeikompetisie vorendag gekom. Al die hoërskoolleerders het vyf koolplantjies, bemesting en ’n les oor die plant en versorging daarvan ontvang.

Leerders het entoesiasties eienaarskap hiervan geneem en die kwe­kers van die grootste koolkoppe het pryse en geskenkbewyse ontvang wat hulle in staat stel om verdere groente-aanplantings te doen. Hulle beoog om vanjaar ’n klein besproeiingstelsel as prys te bekom om selfonderhoudendheid aan te help.

Al die groente-opbrengs word gedeponeer in die rekening van Thobo-trust wat deur Senwes administreer word. Hierdie geld is al aangewend vir die omheining van die skool, die oordoen van kleed­kamers asook elektriese bedrading.

Van die groenteprojek se produkte onderweg mark toe.

Vroeë kinderontwikkeling
Die klas het in 2018 sy deure geopen. Daar is tans 15 leerdertjies en een onderwyseres. ’n Vriendin van die Van Zyls, Hesté Delport, bied ook weekliks motoriese oefeninge aan vir hierdie leerders, asook dié in graad 1 en 2, om hul fisiese, kognitiewe en sosiale vaardighede te help ontwikkel.

Onderwyseres Selloane Albertina Masinhlane by leerders in die vroeëkinderontwikkelingsklas.
Francois Strydom (hoof- uitvoerende beampte van die Senwes-groep) saam met Thabo van Zyl tydens ’n besoek aan die Itokisetseng Skool.

Model
Volgens Redelinghuys is die Itokisetseng Skool Senwes se loodsprojek. Dié maatskappy beoog om hierdie konsep by meer skole in hul bedie­ningsarea te implementeer.

Thabo meen die sukses van die projek hang daarvan af dat dit gedryf word. “Daar is dikwels mense wat bereid is om ons te help, maar hulle wil nie in beheer wees nie. Dit is belangrik om van meet af te weet dit is nie ’n korttermynprojek nie, maar dit is ons stukkie bydrae om van hierdie land ’n beter plek te maak.”

Meer inligting is hier te kry: www.thobotrust.co.za en wvz@global.co.za