ORGANISASIES en AGRIBESIGHEDE spring in om paaie te herstel

Louise Kunz, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 31 Julie 2024

120

Die toestand van verskeie paaie in die land – veral in plattelandse gebiede – wissel van swak tot uiters swak omdat die nodige instandhouding nie gedoen word nie. Dit is nie net gevaarlik nie, maar benadeel die groei en voortbestaan van kleiner dorpe en het ook ’n direkte impak op landbou-aktiwiteite.

Op sosiale media word gereeld gesien hoe landbou­besighede, boereverenigings, produsente en hul werkers in veral Noordwes en die Vrystaat moue oprol om paaie meer begaanbaar te maak. Daar word nie net aandag gegee aan provinsiale en munisipale paaie nie, maar landbou-organisasies het ingespring om ook grondpaaie te skraap om te verseker dat produsente se oes veilig by die silo’s kan uitkom. Die padnetwerk is deurslaggewend om die hele voedselproduksieketting doeltreffend te laat werk en te sorg dat eindverbruikers bekostigbare voedsel op hul tafels het.

Só word daar agter die skerms gewerk
In 2021 het Vrystaat Landbou (VL) ’n opname gedoen en ontdek dat produsente in dié provinsie reeds meer as R6 miljoen bestee het aan padonderhoudswerk. In daardie stadium was paaie in die noordoos-Vrystaat in ’n haglike toestand en was daar ’n groep van vyf produsente wat jaarliks meer as R1 miljoen bestee het om paaie begaanbaar te hou sodat hulle hul produkte aan die mark kon lewer.

Benewens boereverenigings wat al self ingespring het, het VL ook deur toegepaste druk daartoe bygedra dat 825 km stukkende paaie na die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) oorgedra word. Volgens dr Jack Armour, kommersiële bestuurder by Vrystaat Landbou, het VL reeds in September 2022, ná Agri SA se mediakonferensie oor die stand van paaie in die land, met SANRAL begin skakel. VL plaas ook volgehoue druk op die regering deur Infrastruktuur-SA wat in die kantoor van die president is en is onlangs gevra om paaieprojekte by die Tesourie se Infrastruktuurfonds in te dien.

In 2022 het VL ook ’n veldtog van stapel gestuur om geld in te samel om produsente by te staan wat noodgedwonge iets moes doen om paaie begaanbaar te kry sodat plaasprodukte op die verbruikers se etens­tafel kan kom.

Lede van Delareyville se boere-unie het moue opgerol en self slaggate gevul op sowat 8 km van die verflenterde R377-pad vanaf Delareyville na Kameel en Stella. NWK Graan het 750 sakkies teer geskenk en binne slegs twee dae is nóg 600 sakkies onder produsente bymekaargemaak. Werknemers van Botselo Mills het ook hand bygesit.
Foto: Vrystaat Landbou

Senwes het in November 2021 met ’n padskraapprojek begin waarvoor twee padskrapers spesiaal aangeskaf is. Die doel van die projek is om grondpaaie na en van silo’s meer begaanbaar te maak vir produsente aangesien onderhoudskoste hoër raak hoe slegter die toestand van die grondpaaie is.

Die twee padskrapers word sedert Januarie 2022 voltyds aan hierdie projek gewy en alle onderhoudskoste word deur Senwes gedra, terwyl die brandstofkoste deur produsente en boereverenigings bygedra word. Dit is werklik ’n spanpoging tussen Senwes en sy produsente.

Volgens Brood Brits, streeksbestuurder by Senwes Grainlink, is daar sedert die begin van die projek reeds 5 500 km geskraap. Twee roetes in die Senwes-bedieningsarea is in Maart vanjaar voltooi, waarna die padskrapers weer van voor af begin skraap het. Daar is ook verskeie plekke rondom Senwes se silo’s en hoofkantoor waar gedeeltes van teerpaaie herstel is.

Senwes het reeds 5 500 km se grondpaaie geskraap.
Foto: Senwes

NWK in Lichtenburg het in 2021 ’n memorandum van verstandhouding met Noordwes se Departement van Openbare Werke, Paaie en Vervoer onderteken, waarvolgens die maatskappy sy hulp aan die regering bied om die provinsie se grondpaaie meer begaanbaar te maak. Nadat die nodige magtiging en vrywaring bekom is, het die maatskappy in samewerking met ander sakevennote begin om aan die grondpaaie na en van NWK se silokomplekse te werk.

Die projek is in drie fases verdeel. Vanjaar was die derde jaar en ses padskrapers is ingespan om ongeveer 1 500 km se grondpaaie in die omgewing van Coligny, Gerdau, Bodenstein, Boschpoort, Ottosdal, Sannieshof en Barberspan te skraap – ’n projek wat na raming sowat R2 miljoen beloop het. Daar is aanvanklik vier skrapers opgekommandeer om die paaie te skraap. Die projek het egter later as verwag begin omdat die paaie baie droog was weens die verlaagde reënval in NWK se bedieningsgebied. Om die tempo te versnel is nog twee padskrapers ingetrek sodat die projekteen 30 Junie vanjaar voltooi kon word.

Hierdie projekte is ’n duidelike bewys dat selfdoen beslis beter is as om net te kla en niks te doen nie.

NWK skenk gereeld teer om slaggate in die sentrale sakegebied van Lichtenburg en ander dorpe te herstel. Verskeie paaie word ook deur NWK se bydraes in stand gehou. In 2023 het NWK 14 ton teer geskenk waarmee verskeie slaggate in Coligny gevul is. Lede van AfriForum en hul spanne het ook gehelp met die projek.
Foto: NWK
’n NWK-padskraper in aksie.
Foto: NWK
Slaggate word op die R505 herstel.
Foto: Vrystaat Landbou