Soms moet produsente trekkers vervang soos wat die tegnologie op toerusting verander en die trekker se effektiwiteit en doeltreffendheid verbeter. Met dit in gedagte, ontstaan die vraag: Hoe kies ’n produsent ’n vervangingstrekker? Moet daar net na die prys gekyk word? Kyk produsente eerder na die brandstofverbruik? Is die handelaarsnetwerk belangrik of ander aspekte ook?
Indien pryse vergelyk word, is dit belangrik om die koste per kilowatt (kW) in rand te vergelyk. Daar is groot verskille in prys per kilowatt tussen trekkers en meer so tussen die grootte van die trekkers. In Grafiek 1 word die prysvergelyking van 327 verskillende trekkers tussen 30 kW en 650 kW getoon. Die trekkers is ingedeel in tweewieldryf, vierwieldryf met oop stasie, vierwieldryf met kajuit en dan trekkers met kruipbande (tracks) wat ook toegerus is met ’n kajuit.
Soos verwag kan word, is daar groot variasie in die koste per kilowatt. Uit die inligting in Grafiek 1 is dit duidelik dat die kleiner trekkers per kilowatt die goedkoopste is en soos die trekkers se kilowatts toeneem, neem die koste per kilowatt ook toe. Die middelslag-vierwieldryftrekkers met kajuite tussen 110 kW en 170 kW se gemiddelde prys is min of meer R22 000/kW. Die groter vierwieldryftrekkers met kajuite tussen 170 kW en 450 kW se koste per kilowatt is sowat R25 000. Kruipbandtrekkers se koste is weer heelwat hoër as die ander groot trekkers.
Die prysverskil van R3 000/kW klink dalk nie te erg nie, maar op die ou end het dit ’n groot impak. As aanvaar word dat albei trekkers 150 kW is, dan is die verskil R450 000 – sonder twyfel iets om te oorweeg. Wanneer kleiner trekkers met groter trekkers vervang word, moet produsente onthou ’n nuwe reeks implemente is ook op die inkopielys.
Belangrike besluite by die aankoop van nuwe trekkers
Hoe nou gemaak om te besluit watter trekker om te koop? Die eerste stap sal wees om te bepaal wat die doel van die trekker is. Moet hy swaar of ligte werk doen of is ’n trekker met massa nodig om byvoorbeeld ’n groot oorlaaiwa te trek? Vir elke tipe werk sal ’n ander trekker dalk die beste wees, maar ’n aanpasbare trekker wat alle werk goed kan doen, word eerder verkies.
Bepaal dus vir die trekker sy volledige stel take en bereken dan die koste per bewerkingsaksie om sodoende die goedkoopste trekker vir al die take te kies. Uiteindelik gaan dit alles oor die koste om die werk te doen (vaste en veranderlike koste saamgetel). Vaste koste dui op die besit van ’n masjien en kom voor ongeag of die masjien werk of nie. Die veranderlike koste van masjinerie spruit uit die gebruik daarvan.
Veranderlike koste
Veranderlike koste word saamgestel uit die herstel en onderhoud asook die brandstofkoste van ’n masjien. Hierdie koste is moeilik om te voorspel aangesien daar aansienlike faktore is wat dit beïnvloed. Die vaardigheid van die bestuurder, die werkstoestande, onderhoud en vele meer beïnvloed die werkverrigting en herstelwerk van ’n trekker. Hoe meer werk die trekker verrig, hoe hoër gaan die herstelkoste wees.
By ’n nuwe trekker word nie soveel herstelwerk as vir ’n ou trekker verwag nie, maar dienste soos deur die vervaardiger voorgeskryf is nodig. Die herstelwerk aan ouer trekkers neem tot op ’n punt toe en dan plat dit vir ’n paar jaar af soos geslyte komponente vervang is – en dan begin die siklus weer van voor af. Die gebruik van ’n gemiddelde herstelwerkkoste per uur vir trekkers los in ’n mate die probleem op. Tans word ’n norm aanvaar waar die herstelwerk oor die trekker se lewe bepaal word op 120% van die aankoopprys van die trekker gedeel deur sy gebruik in uur. In die kosteberekeningstabelle (Tabel 1 en Tabel 2) word hierdie norme gebruik.
Die herstelwerk van implemente word beïnvloed deur die tipe implement, die werk wat hy doen en slytasie. Implementherstelwerk word net soos die van trekkers ook as ’n persentasie van aankoopprys oor die lewensverwagting van die implement bereken. In die kosteberekeningstabelle word ook hierdie norme aangetoon.
Berekening van brandstofkoste is meer ingewikkeld as dié van herstelwerk. Aspekte soos die brandstofprys, drywingsvereiste, die liters gebruik per kW-uur en die persentasie kW gebruik, speel alles ’n rol in die brandstofkoste. Ander aspekte soos die trekkeroperateur en die grondtoestand het ook ’n impak op trekkers se brandstofverbruik. Die nuutste tegnologie in trekkers poog om brandstofverbruik te optimeer en sodoende word heelwat besparings teweeggebring. Produsente wat nuwe trekkers wil koop behoort ’n implement agter die trekker te haak en sy werklike brandstofverbruik te meet.
Vaste koste
Vaste koste kan verdeel word in niekontant- en kontantuitgawes. Niekontantuitgawes sluit aspekte soos waardevermindering en rente op die kapitaalbelegging in. Die rente op kapitaal word bepaal om die geleentheidskoste van die masjien aan te dui. Die kontantuitgawes van die vaste koste bestaan gewoonlik uit versekering en lisensiegelde.
Waardevermindering kom altyd voor en verwys na die verlies of afname in ’n masjien se waarde oor tyd. Die reglynige metode word gebruik om waardevermindering oor die trekker se lewensverwagting te bereken. Om die waardevermindering van trekkers en toerusting as koste per uur te bepaal, word die aankoopkoste minus die skrootwaarde van die masjien en toerusting gedeel deur die lewensverwagting van die masjien. Die gemiddelde lewensverwagting van trekkers word gewoonlik as 12 000 uur aanvaar en die skrootwaarde van trekkers word op 10% van die koopprys aanvaar. In die kosteberekeningstabelle word die verskillende implemente se lewensverwagtinge aangedui.
Om die rentekoste te bereken word die gemiddelde kapitaalbelegging (aankoopprys plus skrootwaarde gedeel deur twee) vermenigvuldig met die rentekoers wat op ’n mediumtermynbelegging verdien kan word. Hierdie bedrag word deur die gemiddelde jaarlikse gebruik van die masjien (wat op 1 000 uur aanvaar word) gedeel om die koste per uur te bepaal.
Die lisensie- en versekeringskoste van masjinerie is ’n kontantkoste waar die ouderdom van die masjien ’n rol speel. Daar is verskeie maniere om lisensie- en versekeringskoste te bepaal, maar daar word algemeen aanvaar dat 1,75% van die gemiddelde kapitaalbelegging die algemeenste koste is.
Om die koste per aksie te bereken word beide die trekker en die implement se koste bymekaargetel. Die trekker en die implement het beide vaste en veranderlike koste. Indien die koste nie saamgetel word nie, kan dit lei tot onderskatting van koste. In Tabel 1 en Tabel 2 word ’n volledige voorbeeld gegee.
Vir die omskakeling van koste per uur na koste per hektaar is dit belangrik om te weet hoeveel hektaar per uur bewerk word. Dit word bepaal deur die werkspoed en werkswydte van die implement asook die landeffektiwiteit. Met die oorweging van ’n nuwe trekker moet hierdie aspek behoorlik getoets word. Haak die implement wat aanbeveel word, laat hom werk en meet die gewerkte oppervlakte oor die tyd. Bepaal die brandstofgebruik per hektaar en maak die som.
Om die koste per uur om te skakel na koste per hektaar kan die volgende eenvoudige formule gebruik word: (R/uur) ÷ (ha/uur) = R/ha. Om die brandstof per hektaar te bereken kan die volgende formule gebruik word: (liter/uur) ÷ (ha/uur) = liter/ha
In Tabel 1 en Tabel 2 word die koste vir 75 kW- en 250 kW- vierwielaangedrewe trekkers met kappies met verskillende implemente aangetoon. Hierdie berekeninge is aan die hand van bogenoemde verduidelikings gedoen.
Tabel 1 is opgestel deur gebruik te maak van Guide to machinery costs en Meganisasiegids en is aangepas na 2024 se gemiddelde nuwe pryse. In Tabel 1 word aangetoon dat ’n 75 kW-trekker 12,51 liter diesel gebruik om ’n hektaar diep te rip. Dieselfde 75 kW-trekker behoort 4,46 liter diesel te gebruik om een hektaar met ’n sesryplanter te plant. Die totale koste om ’n hektaar te dis behoort R421,07 te wees.
Indien die trekker gebruik sou word om te dis, te ploeg, saadbed te maak en te plant sou dit die boerdery R1 676,50/ha gekos het.
Tabel 2, wat die koste vir ’n 250 kW-trekker wat R6 259 547 kos toon, is op dieselfde manier opgestel. Daar is aanvaar dat hierdie trekker nie algemeen vir plant gebruik sal word nie, maar dat die trekker hoofsaaklik swaar werk sal doen.
Uit Tabel 1 en 2 kan gesien word dat die 75 kW-trekker 14,5 liter diesel gebruik om te ploeg, terwyl die groot trekker dan ongeveer 19,36 liter diesel moet gebruik. Die verskil lyk dalk klein, maar oor ’n 1 000 ha raak dit wesenlik.
Produsente moet hierdie syfers vir hul eie boerdery bepaal. Dit maak dus sin maak om ’n demonstrasie-eenheid te kry en vir ’n wyle daarmee te werk sodat die werklike syfers bepaal kan word.
Maak gebruik van kenners wat deur middel van optimeringsmodelle die beste kombinasie van trekkers vir die plaas kan bepaal en gebruik die aanbevelings om die vervanging van trekkers te optimeer.
Verskeie instansies publiseer jaarliks meganisasiegidse. Vir hulp met meganisasiekostebepalings, kontak die landboubesigheid in jou area soos NWK, Senwes, GWK of VKB asook privaat persone wat die kostegidse publiseer.
Vir enige navrae kontak Pietman Botha by 082 759 2991.