Maak elke skakel in die ketting JOU VENNOOT

Gepubliseer: 2 Julie 2024

386
Dr Tobias Doyer
HUB, Grain SA

Die uitdrukking dat jy net so sterk soos die swakste skakel in die ketting is, is ’n spreekwoord wat direk van toepassing is op die landbouwaardeketting. In Suid-Afrika – waar landbou in eie reg ’n belangrike sektor asook ’n drywer vir groei in die res van die ekonomie is – is samewerking en vennootskappe in die landbouwaardeketting en die algehele bevordering daarvan, van deurslaggewende belang vir die volhoubaarheid en welvaart van dié sektor en vir ons land se voedselsekerheid.

Sodanige verhoudings bevorder die potensiaal van die landbousektor deur kennisdeling, toegang tot gevorderde tegnologie, verbeterde marktoegang en verhoogde finansiering en beleggings. Dit ondersteun ook omgewingsvolhoubaarheid deur kollektiewe, omgewingsvriendelike praktyke, verhoog veerkragtigheid en risikobestuur en bevorder innovasie en navorsing. Verder lei dit tot verbeterde produksiekwaliteit en -standaarde en dra dit by tot gemeenskapsontwikkeling deur werkskepping en ekonomiese groei. Die eindresultaat is ’n produktiewe en winsgewende landbousektor tot voordeel van al die skakels in die waardeketting.

Nog ’n belangrike punt is die rol van regeringsbeleid in die ondersteu­ning en aanmoediging van hierdie tipe vennootskappe. ’n Beleidsomgewing wat samewerking en vennootskappe aanmoedig en ondersteun, bevorder die groei en algehele mededingendheid en volhoubaarheid van die landbousektor. Dit verseker ook dat die man in die straat kos op die tafel kan sit en dat produsente oor die lang termyn winsgewend kan oorleef. Graan SA streef dan ook daarna om deurgaans goeie verhoudinge met beleidmakers te handhaaf. Daarsonder sal ons nie die landbou-omgewing waarin ons moet funksioneer kan beïnvloed nie.

Dit is egter belangrik om bewus te wees van die uitdagings en struikelblokke wat met die bou van vennootskappe gepaard gaan, insluitend die behoefte aan effektiewe bestuurstrukture, die bou van vertroue tussen partye en die hante­ring van kwessies soos magsdinamika. Die enigste manier om dit te oorkom is om deurlopend oor die lang termyn met opregtheid en deursigtigheid aan verhoudings te bou.

’n Hoeksteen
Vir Graan SA is dit noodsaaklik om goeie verhoudings binne die waardeketting as ’n hoeksteen te gebruik waardeur ons lede se saak bevorder kan word. Sodoende kan ons gehoor gee aan ons primêre doelwit, naamlik om volhoubare en winsgewende graanproduksie vir ons lede te bevorder. Goeie verhoudings verg egter ‘n voortgesette proses van wedersydse begrip sodat daar vir al die betrokke partye ’n wen-wen situasie oor die lange duur kan wees.

Hierdie volgehoue strewe van die orga­nisasie na die behoud van goeie betrekkinge in die waardeketting het onlangs goeie dividende opgelewer. Dit is met dankbaarheid dat daar na onderhandelinge ’n ooreenkoms met graanopbergers gesluit kon word waardeur hulle ’n helpende hand uitgesteek het na produsente van sojabone, sonneblom en mielies in droogtegeteisterde gebiede.

’n Reddingsboei is deur veral landbou­besighede aan sojaboonprodusente verskaf deurdat hulle gewillig was om groen sojaboonpitte wat oor die 10%-merk gegaan het, as Graad 1 te klassifiseer. Deur dit te doen, was hulle bereid om ’n finansiële voordeel af te staan wat hulle vir eie gewin kon aanwend.

Dit is ook prysenswaardig dat silo’s wat oor die opbergingskapasiteit beskik het, ingestem het om oorskot klein mielie- en sonneblompitte op te berg. Dit is gedoen met die oog daarop om moontlike markte vir dié pitte te vind om ook in hierdie geval droogtegeteisterde produsente se verliese te temper. Hoewel klein pitte wat deur die sif val, bloot afgetrek word van ’n vrag se massa, het dit tog ’n waarde. En dit is juis hier waar ‘n wen-wen situasie tussen produsente en landboubesighede bewerk­stellig kon word.

Hierdie goeie verhouding tussen graanopbergers en Graan SA is ’n klinkklare bewys van hoe lede in die landbouwaardeketting ooreenkomste kan bereik tot voordeel van almal. As produsente nie kan voortgaan met produksie omrede daar nie voldoende wins verkry is vir bedryfskoste nie, sal die hele waardeketting daaronder ly.

Die bevordering van sterk vennootskappe is dus ongetwyfeld ’n vereiste om kollektiewe veerkragtigheid te verseker in die aangesig van die uitdagings wat die landbouwaardeketting daagliks moet konfronteer. Lede kan egter gerus wees dat Graan SA ’n voorloper is in die toepassing van hierdie belangrike beginsel. Deur sterk, opregte verhoudings te bou en te handhaaf oor die lang termyn kan ons verseker dat ons nie net die huidige uitdagings oorkom nie, maar ook gereed is vir die toekoms.