Die gekwantifiseerde waarde WAT GRAAN SA BIED

Christiaan Vercueil, landbou-ekonoom, Graan SA
Richard Krige, visevoorsitter, Graan SA
Gepubliseer: 2 Julie 2024

33
Alzena Gomes skakelbeampte, Graan SA alzena@grainsa.co.za

Graan SA is ’n produsente-organisasie wat ontstaan het uit produsentegeledere. Graanprodusente het besef dat ’n organisasie nodig is om die belange van die produsent te be­skerm en te be­vorder. Graan SA se missie is om elke produsent so winsgewend moontlik op die plaas te hou deur die mikro- en makro-ekonomiese sfere waarin sake bedryf word te beïnvloed.

Ongeag die visie en missie van Graan SA wat duidelik gekommunikeer word, word gereeld gevra: “Wat doen Graan SA vir my?”

Graan SA is op ’n daaglikse basis besig met aksies om die produsent te bevoordeel. Sekere aksies is groter en ander kleiner, maar elkeen word aangepak met die produsent se volhoubaarheid as oogmerk. Om hierdie vraag duideliker te antwoord, is die waarde van Graan SA in enkele voorbeelde gekwantifiseer.

Graan SA-voordeel vir ’n mielie­produsent as ’n voorbeeld
Die Graan SA-heffing op mielies vir die 2023/2024-seisoen was R4,10/ton. Teen ’n gemiddelde opbrengs van 5,7 t/ha (die oesgemiddeld in 2023/2024), is die heffing R23,37/ha. Op ’n plaas waar 1 000 ha­aangeplant is, beloop die produsent se Graan SA-heffing R23 370 in totaal. Vir hierdie heffingbydrae kry die produsent die volgende voordele (slegs enkele kwantifiseerbare voorbeelde):

DIESELRABAT: Die dieselrabat is die enigste direkte ondersteuning wat produsente vanaf die staat ontvang. Die rabat moet deurentyd ondersteun word om te verhoed dat produsente die voordeel verloor, aangesien dit ’n direkte uitgawe vir die staat is. Die diesel­rabat is R3,66/ℓ wat teruggeëis kan word op 80% van ’n produsent se verbruik.

GRADERING VAN WITMIELIES: In die oorspronklike graderingsregulasies word waterbeskadigde en verkleurde witmie­lies as defektiewe pitte gesien. Navorsing het bewys dat hierdie tipe pitte dieselfde voedingswaarde as normale pitte het. Hierdie pitte word ook meestal vir menslike verbruik gemaal, maar word teen ’n diskonto by produsente aangekoop.

Graan SA het daarin geslaag om hierdie regulasie te verander sodat waterbeskadigde en verkleurde pitte nie as defektief geklassifiseer word nie. Met ongeveer 5% van die oes wat moontlik as WM2’s geklassifiseer sou word, het Graan SA se aksies rakende die herklassifisering binne die graderingsregulasies die produsent R42 750 op ’n 1 000 ha-aanplanting ge­spaar (gegewe ’n 5,7 t/ha-oes teen ’n R150/ton-diskonto).

LEAF SERVICES: Vanaf 2016 het die regering ’n gevolmagtigde aangestel wat namens die regering die gradering van graan in Suid-Afrika sou hanteer. Hierdie “diens” deur Leaf Services sou produsente deur die bank R4/ton uit die sak gejaag het vir alle graan gelewer. Graan SA het hierteen kapsie gemaak en is in 2024 steeds druk besig om hierdie diens teen te staan aangesien Suid-Afrika reeds ’n outonome graderingstelsel in plek het. Daar word verwys na ’n staatsgraderingsdiens in die landswette en daar sal dus nie heeltemal weggeskram kan word van hierdie diens nie. Graan SA se mikpunt is dat hierdie koste nie deur graanprodu­sente gedra word nie, maar deur ’n ander rolspeler in die waardeketting aangesien dit geen waarde vir produsente toevoeg nie. Sedert die 2016/2017-seisoen het Graan SA produsente reeds R635 612 140 in hierdie verband gespaar.

KUNSMISKWALITEITMONITERING: Tesame met die Fertilizer Association of Southern Africa (Fertasa), koördineer Graan SA jaarliks ’n kunsmiskwaliteitmoni­teringsprogram waar verskillende kunsmisbronne in die winter- en somersaaigebiede getoets word om te verseker dat kunsmis binne spesifikasies geproduseer word. Volgens wet mag kuns­mis ’n 2%-afwyking hê van die spesifikasies waaronder dit bemark word. Sedert die begin van hierdie projek het afwykings gemiddeld vanaf 4% na 2% gedaal. Gemiddelde kunsmiskoste in Suid-Afrika is R4 900/ha. Die 2%-verbe­te­ring in afwy­king kan dan in randwaarde omgeskakel word na R98/ha en dus R98 000 op ’n 1 000 ha-aanplanting.

Benewens bogenoemde is Graan SA konstant bedrywig met nog projekte en aksies om die graanprodusent te bevoordeel om volhoubaarheid en winsgewendheid te verbeter. Die vraag om eerder te vra, is: “Hoe sou die graan- en oliesade-omge­wing in Suid-Afrika gelyk het as Graan SA nie daar was nie?”

Nog fokusareas van Graan SA

  • Sojaboon- en mielieuitvoermarkte
  • JSE- alternatiewe differensiaal
  • Navorsing
  • Kanolasaadbeskikbaarheid
  • Lededispuutoplossing
  • Paspoortsisteem
  • Vrywaring van invoertarief op trekkerbande.

Indien enige ekstra inligting benodig word, skakel asseblief die bemarker in jou streek.

Invorderingsagente van Graan SA se vrywillige heffing ondersteun die winsgewendheid van die graanbedryf – Richard Krige
Hoe ernstig is jy oor die toekoms van jou kliënt as jy nie die vrywillige Graan SA-heffing wil invorder nie?

Met die streekvergaderings wat in Januarie en Februarie vanjaar aan­gebied is, het goeie gesprekke en waardevolle interaksies met produsente plaasgevind. Notas is gemaak van die punte wat produsente ter tafel gelê het en daar word nou hieraan aandag gegee deur die verskillende spesialiswerkgroepe binne Graan SA.

Een van die punte wat telkens opduik, is die onwilligheid van ver­handelingsagente om die vrywillige Graan SA-heffing in te vorder en as invorderingsagent op te tree.

Daar is verskeie redes wat deur agente voorgehou word, maar nie een wat enige meriete het nie! Die algemeenste een is dat dit die basis waarteen gekwoteer word beïnvloed en kwotasies vir verhandeling gevolglik onmededingend maak. Dit terwyl elke produsent die heffing behoort te betaal.

Graan SA se visiestelling is duidelik: “Om die mikro- en makro-ekonomiese omgewings te beïnvloed om volhoubare en winsgewende plaaslike graanproduksie en ontwikkeling moontlik te maak.”

Hierdie visie word ondersteun met die nodige aksies om nie net produ­sente op grondvlak winsgewend te hou nie, maar ook die hele waardeketting in ’n groot mate te ondersteun. Sonder produsente sou vele mense in die waardeketting nie ’n bestaan kon voer nie. Deur die invordering van hierdie heffing, ondersteun jy eintlik ook die aktiwiteite van die waardeketting en jou eie bedrywighede.

Hoe ernstig is jy oor die bedryf, jou produsente en jou kliënte se toekoms indien jy nie die heffing invorder nie? Produsente moet help om almal te oortuig dat die graanbedryf hierdie hef­fings betaal en invorder tot voordeel van alle produsente en die werksaamhede van Graan SA. Dit sal tot voordeel van die hele graanbedryf wees.

Hoe ernstig is jy oor jou eie en jou kinders se toekoms indien jy dit nie betaal nie?