PRODUSENTE TREK VOORDEEL UIT HRAC

Prof Juan Vorster, Suid-Afrikaanse Onkruiddoderweerstandsinisiatief (SAHRI), Universiteit van Pretoria
Gepubliseer: 5 Junie 2024

65

Die Herbicide Resistance Action Committee (HRAC) is ’n internasionale liggaam wat deur die landbou­chemiese bedryf gevorm is. Die doel daarvan is om onkruiddoderweerstand in onkruide te beveg en sodoende gewasopbrengste en volhoubare landbou te beskerm.

HRAC vorm ’n internasionale skakel tussen verskillende onafhanklike, streeksgebaseerde lede en bied omvattende inligting asook bestebestuurs­praktyke (BBP’s) rakende onkruiddoderweerstand. Suid-Afrika word verteenwoordig deur die SA-HRAC-komitee wat spesifiek fokus op plaaslike probleme van onkruiddoderweerstand. SA-HRAC bevorder ook die korrekte en verantwoordelike gebruik van onkruiddoders. Verder dien dit as ’n platform vir samewerking tussen verskillende rolspelers in die onkruiddoderbedryf om gevalle van weerstand aan te meld, te ondersoek en sodoende betroubare inligting en advies rakende die bestuur van die onkruide aan produsente te voorsien.

Daar word ook voorsiening gemaak vir werkgroepe binne HRAC wat fokus op spesifieke en dringende probleme. Binne SA-HRAC bestaan daar byvoorbeeld ’n groep wat fokus op Palmer-misbredie (Amaranthus palmeri). Die span bestaan uit lede van die landbousektor asook onafhanklike navorsers en akademici wat hulle toespits op die monitering en bestuur van weerstandbiedende popu­lasies van die onkruid oor die hele Suid-Afrika.

Onkruiddoderweerstand
Die gebruik van onkruiddoders is steeds die primêre en mees ekonomiese manier van onkruidbestuur wêreldwyd.

Onkruiddoderweerstand is die vermoë van ’n onkruidpopulasie om onkruiddodertoedienings te oorleef wat onder normale toestande die onkruid sou doodmaak. Wêreldwyd is daar tans ongeveer 530 unieke gevalle van onkruiddoderweerstand in 272 plantspesies aangemeld (www.weedscience.org). Onkruide het ook die vermoë om weerstand op te bou teen meer as een groep van on­kruiddoders. Daar is populasies van Palmer-misbredie in die VSA wat gelyktydig weerstand opgebou het teenoor ses verskillende on­kruiddodergroepe of meganismes van werking (modes of action). Dit maak dit dus byna onmoontlik en onekonomies om dié onkruid in ’n gewasstelsel deur middel van onkruiddoders te beheer.

Wêreldwyd word onkruiddoderweerstand beskou as een van die grootste uitdagings en bedreigings vir die landbousektor, maar ook al hoe meer in Suid-Afrika. Dit verhoog die kompleksiteit asook die koste verbonde aan onkruidbestuur en kan selfs die keuse van gewasse wat verbou word beïnvloed.

Monitering van weerstand en voorsorgmaatreëls
Wanneer moontlike gevalle van onkruiddoderweerstand deur produsente en chemiese agente waargeneem word, is dit noodsaaklik om dit so gou moontlik aan te meld. Die gevalle kan direk by SA-HRAC, CropLife SA of by die Suid-Afrikaanse Onkruiddoderweerstandsinisiatief (SAHRI) aangemeld word vir verdere ondersoek. Wetenskaplikes verbonde aan verskeie universiteite en die Landbounavorsingsraad (LNR) kan dan die gevalle verder ondersoek deur veldopnames asook versameling van saad- en blaarmonsters vir verskeie biotoetse. Hoe vroeër weerstand in ’n onkruidpopulasie bevestig word, hoe makliker is dit om te bestuur. Sodra weerstand bevestig is, kan stappe gedoen word om die impak daarvan te verlaag. Dit sluit in die implementering van BBP’s wat deur doeltreffende opleidingsprogramme gefasiliteer kan word. Daar is verskeie gevalle waar vroegtydige en proaktiewe bestuur van onkruiddoderweerstand suksesvol toegepas is. Dit is wel uiters belangrik dat daar deursigtige samewerking tussen die produsente, agente en navorsers is om die probleme so gou moontlik op te los en te keer dat dit versprei.

HRAC-onkruiddoderklassifikasie
HRAC is ook verantwoordelik vir die klassifikasie van onkruiddoders gebaseer op hul meganisme van werking en bring gereeld opgedateerde klassifikasiekaarte uit. Voorheen was daar verskillende klassifikasiestelsels wat óf op letters óf op nommers gebaseer was. In 2020 het HRAC Internasionaal met al die verskillende streke ooreengekom om wêreldwyd dieselfde sisteem te gebruik (wat op nommers gebaseer is). Dit is gedoen om onkruiddoderweerstandbestuur wêreldwyd te vergemaklik. In Suid-Afrika is daar dus ’n oorgang van die gebruik van letters na nommers. ’n Voorbeeld hiervan is sintetiese ouksiene soos 2,4-D wat altyd in Groep O was maar voortaan onder Groep 4 sal val.

Die klassifikasie word op onkruiddoderetikette vertoon. Omdat baie aktiewe bestanddele dieselfde meganisme van werking het, gebeur dit dikwels dat wanneer ’n onkruid weerstand teen een aktiewe bestanddeel opbou, dit ook weerstand teen al of die meeste van die ander aktiewe bestanddele in daardie groep sal hê. Deur gebruik te maak van die klassifikasiestelsel kan produsente makliker besluite neem om onkruiddoders uit verskillende groepe te meng of te roteer. Deur te voorkom dat dieselfde groep herhaaldelik gebruik word, is dit moontlik om die ontstaan van onkruiddoderweerstand te voorkom en om weerstand beter te bestuur. Die nuutste klassifikasiekaart kan van HRAC se webtuiste afgelaai word deur op die skakel te klik https://hracglobal.com/tools/2024-hrac-global-herbicide-moa-classification.

HRAC is ’n uiters belangrike platform vir samewerking in die bedryf. Dit is verder ’n uitstekende bron van inligting met betrekking tot onkruiddoderweerstand en weerstandbestuur wat miskien nie genoeg onder die aandag van produsente gebring word nie.

Vir meer inligting kontak prof Juan Vorster (SAHRI) by 079 110 9596, dr Maryke Craven (LNR & HRAC) by 083 366 3662 of dr Gerhard Verdoorn (CropLife SA) by 082 446 8946.