NUWE KURSUS lei BESTUURDERS vir GRAANDEPOTS op

Gepubliseer: 5 Junie 2024

125

Wanneer dit by grootmaatgraanhantering en -berging kom, speel ’n graandepotbestuurder ’n deur­slaggewende rol. So ’n persoon is verantwoordelik vir die meganiese doeltreffendheid van die fasiliteit en die organisering en skedulering van die vloei van graan.

Die eise betreffende risikobestuur, die versekering van die veiligheid van almal wat die fasiliteit betree en die handhawing van die depot se markaandeel is groot. Die persoon wat die rol opneem moet dus behoorlik toegerus en voorbereid wees.

Beroepsertifikaat: Graandepotbestuurder
Sowat ses jaar gelede het Agbiz Grain vir Lizelle Jacobs, direkteur van Mind Alive, gekontrakteer om ’n kurrikulum vir die opleiding van graandepotbestuurders te ontwikkel. Hiermee wou hulle ’n ge­standaardiseerde kwalifikasie wat beroepsgerig en gespesialiseerd is daarstel om toekomstige graandepotbestuurders vir die werksplek voor te berei. Jacobs is al jare betrokke by vaardigheidsontwikkeling in die landbousektor.

Agbiz Grain het ook nou saamgewerk met AgriSETA (Agricultural Sector Education and Training Authority) en die Quality Council for Trades and Occupations (QCTO) om hierdie kwalifikasie in 2024 gereed te hê. Die QCTO het Peritum Agri-instituut geakkrediteer om die graandepotbestuurderprogram vir ’n tydperk van vyf jaar (15 Januarie 2024 tot 14 Januarie 2029) aan te bied.

In April 2022 het die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO) hierdie kwalifikasie amptelik op die Nasio­nale Kwalifikasie­raamwerk (NKR) onder die Beroepskwalifikasie-subraamwerk ge­registreer. Dit is ’n be­langrike mylpaal vir die graanbedryf, aangesien dit ’n gestruktureerde pad vir professionele persone bied om hul kundigheid te verbeter en by te dra tot die sektor se groei.

In Maart vanjaar het Senwes en Peritum Agri die inskrywing van die eerste 13 studente vir die program – tien mans en drie vrouens gevier.

Belangrike uitkomste
Die onbaatsugtige betrokkenheid van Agbiz Grain-lede en hul personeel het verseker dat die kwalifikasie die spesifieke vaardighede hanteer wat deur graandepotbestuurders benodig word. Die leerproses behels kennismodules wat in die klaskamer gefasiliteer word, praktiese aktiwiteite in ’n ge­simuleerde omgewing en voorgeskrewe werks­plekaktiwiteite in ’n werklike werksomgewing.

Na voltooiing van hierdie program sal die leerders toegerus wees om:

  • Die bereiking van operasionele teikens te bestuur;
  • personeel te bestuur en te lei om effektiewe sakebedrywighede te verseker;
  • die gebruik van operasionele hulpbronne te bestuur en te beheer;
  • depotbedrywighede te bestuur vir doeltreffende graanhante­ring en -berging om kwaliteitstandaarde te handhaaf; en
  • graan- en saadgraderingsprosesse effektief uit te voer.

Hierdie kwalifikasie, amptelik bekend as die Beroepsertifikaat: Graandepotbestuurder, is ’n belangrike stap in die verbetering van vaardighede in die graan- en oliesadebedryf. Agbiz Grain is opgewonde oor die positiewe impak wat dit op die bevordering van professionele vermoëns in die bedryf sal hê. Hierdie program vorm nie net toekomstige leiers nie, maar versterk ook die grondslag van die landbougemeenskap.

Vir meer inligting stuur ’n e-pos na annelien@agbizgrain.co.za of besoek peritumagri.com.

Personeel van Senwes en Peritum Agri het op Vrydag 8 Maart die inskrywing van 13 Senwes-studente vir die graandepotbestuurderprogram gevier.
Foto: Senwes