Groot planne vir die toekoms van sorghum in SA

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 5 Junie 2024

167

“Ek is positief oor die toekoms van die sorghumbedryf in Suid-Afrika in ag genome die werk wat deur die hele bedryf gedoen word.” So het Willem Groothof, Graan SA-raadslid en voorsitter van die Sorghumwerkgroep, onlangs gesê tydens ’n kultivardemonstrasiedag op Hamburg, sy plaas net buite Settlers in Limpopo.

Hy het daarop gewys dat dit net so belangrik is om nuwe kultivars op die mark te plaas as om ’n pyplyn van nuwe produkte daar te stel sodat daar ook iets vir die toekoms is. “As ons na die nuwe kultivars kyk wat geplant is en ook in ag neem wat nog in die pyplyn is, maak dit my opgewonde.”

Aangesien kultivars verskil in aanpassingsvermoë onder verskillende verbouingstoestande, is dit nodig om demonstrasieproewe aan te plant sodat produsente kan sien hoe die verskillende kultivars in hul omgewing presteer.

Al die rolspelers in die sorghumsaadbedryf het aan die demonstrasiedag deelgeneem en die produsente toegelig oor die huidige en nuwe kultivars wat eersdaags op die mark gaan wees. Dit bly belangrik om multijaardata te gebruik wanneer kultivars gekies word vir ’n aanplantingspakket, meen Groothof. Hy het verder gesê: “Dit is belangrik dat ons die mark ontwikkel en sorghum weer terugkry in die huisvrou se inkopiemandjie.”

Graansorghum is ’n uitstekende alternatiewe gewas vir die somergraanproduksiegebiede as gevolg van sy droogteverdraagsaamheid – veral op marginale en swaarder gronde.

Sorghumgroepering-inisiatief
Volgens hom is die Sorghumgroepering-inisiatief (SGI) wat onlangs in die lewe geroep is, ’n groot tree in die regte rigting. “Deur die inisiatief werk die hele bedryf saam om weer ’n vars fokus op die gewas te plaas. Dit is ’n groot voorreg om deel hiervan te wees en die demonstrasiedag is een van die inisiatiewe wat in die groter prentjie inskakel,” het hy aan die boere genoem.

Hy het daarop gewys dat die SGI tans betrokke is by die volgende projekte:

  • Die evaluasie van kiemplasma;
  • ondersoeke na alternatiewe metodes om die rooibek-kwelea te beheer;
  • ’n sorghumbewusmakingsveldtog;
  • die ontwikkeling van ’n verwerkingsaanleg; en
  • ’n analise van die sorghumwaardeketting.

In die politieke arena word ook baie werk gedoen om sorghum van BTW vry te stel. “Die feit dat sorghum nie vrygestel is van BTW nie, het die bedryf skade berokken omdat die graan nie op gelyke voet met ander grane kan meeding om die verbruiker se beskikbare beste­ding nie. Ons is seker dat verbruik weer sal toeneem indien ons slaag in die aansoek om vrystelling.”

Navorsing
Groothof het verder daarop gewys dat die Plantpatologie-afdeling van die Universiteit van die Vrystaat (UFS) besig is met ’n studie oor die status van siektes wat ’n impak op sorghumverbouing het. Hierdie navorsing word ondersteun deur die Sorghumtrust en die Nasionale Navorsingstigting.

“Die doel van dié navorsing is om te bepaal watter siektes die meeste voorkom, waar dit voorkom en wat die impak daarvan is. As uitvloeisel van die studie sal daar gepoog word om praktiese advies aan produsente te gee oor hoe om die siekterisiko’s te mitigeer.”

Plaagbeheer
Verder het hy verwys na die geweldige skade wat deur rooibek­kweleas aangerig word. “Dit is ’n groot probleem. ’n Swerm kweleas kan maklik uit ’n miljoen voëls bestaan wat tot soveel as 20 ton graan in ’n dag kan vreet.”

Volgens hom het dié plaag die afgelope seisoen sowat 30% van een van sy sorghumlande in die Codrington-omgewing in Limpopo verwoes. “As ’n mens die koste van die verlies aan opbrengs bereken, is dit noemenswaardig.”

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling is verantwoordelik vir die bestuur en kontrole van rooi­bek-kweleas en implementeer twee metodes van kontrole, naamlik lugbespuitings en die gebruik van vuur om die swerms uit te wis. Hy het daarop gewys dat ander metodes tans ook ondersoek word.

Willem Groothof en Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, gesels met die sorghumprodusente wat onlangs die demonstrasiedag op Groothof se plaas, Hamburg, naby Settlers bygewoon het.