AGRICOL SE GROENDAG fokus op volhoubaarheid

Gepubliseer: 5 Junie 2024

148

Met die tema “Volhoubaarheid in landbou” het Agricol se Groendag, wat op 30 April vanjaar vir die tiende keer by hul navorsingstasie net buite Potchefstroom aangebied is, sowat 350 besoekers gelok.

Die Groendag bied elke jaar aan produ­sente die geleentheid om demonstrasie-aanplantings van ’n verskeidenheid van Agricol se kultivars eerstehands te besigtig. Demonstrasiepersele is deur dekgewas- en weidingspesialiste beman waar produsente vrae kon vra oor somer- en winterweidingsreekse en -mengsels, eenjarige en meerjarige dekgewasmengsels, peulgewasse asook Agricol se uitgebreide akkerboureekse.

Marcell van der Westhuizen van Agricol beantwoord vrae oor die maatskappy se langswenkgrasmengsel, wat ’n diep wortelstelsel van tot 2 m het, asook die sigoreikultivar Rocket Fuel, ’n blaarryke voer van hoë gehalte.
Agricol se Willem Labuschagne brei hier meer uit oor die Bosveld-mengsel wat die beste presteer in gebiede met ’n jaarlikse reënval van sowat 400 mm. Al die spesies in hierdie mengsel is meerjarige soetgrasse wat hoogs smaaklik en verteerbaar is en as hooi en staande hooi gebruik kan word.
Landbouleerders van die Hoër Volkskool in Potchefstroom en Hoërskool Wilgerivier in Frankfort luister hier na Agricol se Hendrik Bloem wat meer oor die Poly Ursus-voerbeet vertel. Dit is ’n goedkoop bron van ruvoer wat al in droë jare die redding van menige veeprodusent was.
Carlo Pelster van Agricol (regs) en Facundo Stella van Don Mario gesels oor DM 53i54 RSF, DM 59i60 RSF en DM 61i63 RSF. Al drie die kultivars bevat Intacta RR2 Pro®-tegnologie en sal in die nuwe seisoen beskikbaar gestel word in die kort, medium- en lang groeiklas.
By die dekgewasse-afdeling het Dawie du Plessis, verkoops­bestuurder by Agricol, gesels oor die belangrikheid van grondgesondheid. In die agtergrond is Agricol se AgriLife Grazer 2 – ’n gevorderde seskomponent-winterdekgewasmengsel wat bestaan uit verskillende eenjarige wintergrane, knolgewasse en peulgewasse.