Stories oor rugby en die lewe inspireer

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 April 2024

171

Rassie (Johan) Erasmus is een van daardie mense vir wie jy oneindig lief is óf grensloos haat, maar dié direkteur van SA Rugby is beslis nie iemand wat geen emosie ontlok nie. En gemiddeld is hy definitief ook nie.

David O’Sullivan, bekende uitsaaier en skrywer, wie se topverkoperbiografie oor Erasmus, Rassie: Stories oor Rugby en die Lewe, verlede jaar gepubliseer is, het by Graan SA se Kongres op NAMPO Park oor die boek, maar veral oor Erasmus as mens, gepraat.

Erasmus het op Despatch grootgeword, ’n klein dorpie in die Oos-Kaap, waar hy weens sy pa se drankverslawing vernedering eerstehands gesmaak het. “Dit het ’n groot invloed op keuses gehad wat hy later in sy lewe gemaak het,” het O’Sullivan vertel.

David O’Sullivan het vele humoristiese staaltjies vertel uit die onderhoude wat hy met Rassie Erasmus gevoer het vir sy boek, Rassie: Stories oor Rugby en die Lewe.

Man van die wedstryd
Op sy pittige manier het O’Sullivan staaltjies vertel oor die man wat enersyds al as briljant, maar andersyds as roekeloos beskryf is. So het hy vertel van die 18-jarige Erasmus wat maar, soos vele van sy spanmaats in daardie jare, met Engels gesukkel het. Na wedstryde wou niemand die “man van die wedstryd” wees nie, want dit sou beteken dat hulle in die daaropvolgende TV-onderhoud Engels moes praat.

Na Rory Duncan vir sowat vyf opeenvolgende wedstryde “man van die wedstryd” was, het die spanbestuur voet neergesit en vir Krynauw Otto aangewys.

In die onderhoud is Otto gevra hoe dit voel om voor die reuse­skare te staan terwyl die volkslied speel. Hy wou sê dit gee hom hoendervleis (goose bumps), maar wat toe uitkom, is dat dit hom chickenpox (waterpokkies) gee.

O’Sullivan het ook verwys na die diskoligte waarmee Erasmus die spel gelei het en hoe ander spanne moeite gedoen het om hierdie planne te probeer fnuik.

Misreken
O’Sullivan het vertel dat vele mense verkeerdelik aanvaar dat Erasmus ’n “sosiale vlinder” is. “Eintlik is hy baie gereserveerd en sosiaal onbeholpe. Hy hou nie van groot funksies soos dié nie – dit is waarom ek vandag hier is en nie Rassie nie. Hy is op sy gemaklikste in klein rugbysirkels.”

Instink
Erasmus het ’n ingebore rugby-instink. Hy lees ’n wedstryd anders as sy eweknieë en is in staat om tien bewegings vooruit te bepaal. “Dit is juis om hierdie rede dat hy altyd was waar die bal was. Hy was nie noodwendig vinniger as die res van die spelers nie, maar kon dinge op die veld anders sien.”

Vroeg in sy rugbyloopbaan het Erasmus vir homself ’n kragtige rekenaar en sagteware aangekoop waarmee hy kodering gedoen het om spelpatrone te analiseer. Ook terwyl sy spanmaats ontspan het, het hy ure lank na videomateriaal gekyk om wenstrategieë uit te werk.

Kolisi
Ten spyte van verskeie welslae op en van die veld, meen Erasmus self dat sy grootste bydrae tot rugby in die land sy aanstelling van Siya Kolisi as die land se eerste swart Bok-kap­tein was.