In 2023 het Graan SA ’n heffingsinkomste van R31,5 miljoen gerapporteer, wat R1,6 miljoen meer is as waarvoor daar begroot is. Die finansiële bydrae verteenwoordig slegs 30% van die nasionale oes, maar wel 70% van die graanprodusente in die land.
Volgens Richard Krige, visevoorsiter van Graan SA wat die statistieke aan Kongres voorgehou het, moet die vraag gevra word of Graan SA steeds kan aandring op ’n plek om die onderhandelingstafel as die organisasie slegs 30% van die oes verteenwoordig. Dit is belangrik om seker te maak dat die persentasie verhoog – dit is die verantwoordelikheid van elke lid van Graan SA. So ’n verhoging kan dan aanleiding gee tot ’n verlaging in die heffingspremie.
Krige is wel oortuig dat Graan SA goed op dreef is om ledegetalle en die heffingsinkomste te laat groei. ’n Voorbeeld hiervan is die 25%-groei in direkte fakturering vergeleke met die vorige jaar. Dit is ook deur Kongres goedgekeur dat die minimum bydrae met ’n R100 verhoog tot R1 100.
By Kongres in 2022 is die voorstel aanvaar dat die heffing jaar op jaar verhoog word om stelselmatig tot by 0,12% van die onderskeie kommoditeite se waardes oor die volgende paar jaar uit te kom. Daar is egter vanjaar ’n stemming gehou en Kongres het besluit om die heffing per kommoditeit dieselfde as in 2023 te hou (Tabel 1).
Agente
Krige het die rol van agente uitgelig wanneer dit kom by die invordering van die Graan SA-heffings. Produsente is aangemoedig om in gesprek te tree met graankopers rakende die heffings en seker te maak die heffings word deur die kopers wat as vorderingsagente by Graan SA gelys is, verhaal. Alternatiewelik kan produsente die markdeelnemers wat nie as vorderingsagente by Graan SA gelys is nie, aanmoedig om dit wel te doen, of die Graan SA-bemarkingspan in kennis stel van hierdie agente om in gesprek met hulle te tree. Kongres is meegedeel dat Senwes die meeste heffings vir somergraan ingesamel het, met SSK wat die grootste insamelaar vir heffings op wintergrane was.
Graan SA-heffings in perspektief
Om die koste van die Graan SA-heffing in perspektief te plaas, het Krige daarop gewys dat die waardeproposisie wat die organisasie bied daarop neerkom dat produsente R47,45/ton spaar op somergewasse wat op 100 ha aangeplant word. Vir koringaanplantings op ’n 1 000 ha is die besparing R110,64/ton. Dit is in ag genome die besparings weens Graan SA se onderhandelings rakende die dieselrabat, gradering, Leaf-dienste en kunsmismonitering.
Krige het sy dank uitgespreek teenoor lede vir hul getroue bydrae tot die organisasie en hulle die nodige gerusstelling gegee dat die fokus steeds daarop is om graanprodusente in Suid-Afrika van diens te wees. Hy het Streek 21 uitgesonder waar heffings-bydraes jaar op jaar met 52% gegroei het. Raadslid vir die streek, Pierre van Zyl, het die hulp van Graan SA-bemarker Lombard van Dyk ingeroep om die taak te vergemaklik. Produsente word aangemoedig om die bemarkers te skakel indien hulle hulp in hul streke nodig het (Tabel 2).