Klimaatstoestande problematies vir graanprodusente

Graan SA Kommunikasie
Gepubliseer: 29 Februarie 2024

371

Die weer wat die afgelope seisoen in die wintergraanstreke geheers het en huidige toestande in die somergraanstreke het ’n wesenlike ekonomiese impak op graanprodusente. In die wintergraanproduksiegebied is oormatige reën in sekere areas ontvang wat verliese in opbrengs tot gevolg gehad het en so finansiële druk op produsente geplaas het.

In skrille kontras met die afgelope wintergraanseisoen, ervaar die somergraanproduksiestreke tans droogte. Die uiterste hitte en droë toestande het veroorsaak dat die oes baie vinniger versleg het as wat aanvanklik verwag is. “Ons het groot gebiede gesien waar die skade reeds onomkeerbaar is,” het dr Tobias Doyer, HUB van Graan SA, gemeld. “Ons het ook besproeiingsmielies gesien wat uitdagings ervaar weens beurtkrag asook die hittetoestande.”

Hierdie probleme word ervaar in ’n tydperk waar marges op gewasse soos mielies reeds laag is weens internasionale voorrade en internasionale prysdruk. (https://sagrainmag.co.za/2023/01/25/winsgewendheid-barometers/). Dit maak die hersteltydperk van individuele produsente baie moeilik in ’n uitdagende produksie-omgewing. Graan SA is uiters bekommerd oor die impak van die droogte en marktoestande op graanprodusente. Internasionale mededingers geniet die voordele van gesubsidieerde, bekostigbare alomvattende versekering wat aan hulle ’n mededingende voordeel bied. Soortgelyke plaaslike sisteme sou Suid-Afrikaanse produsente wesenlik kon ondersteun het gegewe die uitdagende produksietoestande.

Produksietoestande word deurlopend gemonitor en ’n kwalitatiewe oorsig rakende produksie word deur Graan SA gepubliseer (https://bit.ly/3SPjSGs). “Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se eerste skatting wat einde Februarie gepubliseer word, gaan belangrik wees om die nasionale toestand te evalueer. Die realiteit is dat daar tans verskeie individuele produsente is wat deur wesenlike verliese in die gesig gestaar word weens die droogte en markte,” sê Derek Mathews, voorsitter van Graan SA en produsent in een van die areas wat groot uitdagings ervaar.

Graan SA simpatiseer met graanprodusente oor die huidige toestande en die skade wat aan hul oeste aangerig word. Die organisasie sal met die nodige rolspelers in gesprek tree en stel verder voor dat produsente wat reeds beduidende uitdagings ervaar het, vroegtydig met hul insetfinansiers skakel om te verseker dat die nodige veranderinge betyds gedoen kan word.