Stel visier wyer, meen jong produsent van KZN

Gepubliseer: 13 Desember 2023

233

Na ’n paar jaar van wik en weeg is Kobus Louw van Paulpietersburg in KwaZulu-Natal vanjaar deur sy vrou en saadagent oorgehaal om vir die Groei vir Goud-opbrengskompetisie in te skryf – ’n besluit wat hy nie berou nie.

“Ek dink die opbrengskompetisie van Graan SA is ’n uitstekende inisiatief en ek sal volgende jaar, as die omstandighede dit toelaat, definitief weer inskryf,” meen Louw.

Hy sê as individue is dit vir produsente maklik om in gewoonte vas te val en dat dit nie ongewoon is om tonnelvisie vir ’n bepaalde omgewing te ontwikkel nie. “Hierdie kompetisie maak die wêreld van graanproduksie so ’n bietjie wyer. Ons word aan ander produsente en produksie-omgewings blootgestel. Ek was verstom om te hoor wat produsente in ander omgewings se opbrengste is – dit het dadelik my belangstelling geprikkel.”

Louw meen verder dat dit uiters belangrik is dat produsente altyd na beter moet streef. “Ons is so dikwels net tevrede met wat ons het dat ons vergeet om grense te verskuif. Dit is belangrik dat ons elke dag daarna streef om beter te produseer, nie net wat opbrengs betref nie, maar ook ten opsigte van praktyke. Deur net die regte dinge te doen, kon ek ’n nuwe opbrengsrekord in ons produksie-omgewing opstel. Wie weet waar die opbrengsplafon is? Dit maak my opgewonde om te dink wat nog vermag kan word.”

Hy boer die afgelope twaalf jaar saam met sy stiefpa, Jan van Romburgh, en sy ouer broer, Quintus, op die plaas Silverton op die grens tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Die boerdery se hooffokus is op bosbou en ’n kommersiële beeskudde, met die graanaf­deling wat die ander twee vertakkings ondersteun. Kobus staan aan die stuur van die graanboerdery, terwyl Quintus verantwoordelikheid neem vir die veevertakking.

Jan van Romburgh, Kobus en Quintus Louw.

Nuwe variëteit sorg vir resultate
Louw het vanjaar vir die eerste keer die Agricol-Don Mario-­variëteit DM 68R09 as proef op 20 ha geplant. Dit is juis hierdie blok wat hy vir die opbrengskompetisie ingeskryf het. “Ek het besluit om een van die ouer variëteite wat ek plant te vervang, maar het eers die nuwe produk op kleiner skaal beproef. Die resultate was verblydend.” Hy het ’n rekordopbrengs van 5,743 t/ha op die blok behaal. Alhoewel hy net die basiese beginsels wat hy normaalweg vir sojaproduksie volg, nagekom het, wonder hy nou hoe die opbrengs kan lyk as hy ’n paar aanpassings maak.

Hy het die betrokke land op 25 Oktober geplant en in middel April gestroop. “Die weerpatrone het ons so ’n bietjie rondgegooi gedurende die seisoen. Ons het vroeg in Oktober begin plant, maar vroeg in November was dit so nat dat ons vir ’n tyd nie in die lande kon kom om te plant nie.”

Die gemiddelde reënval in die omgewing is tussen 800 en 900 mm per jaar. In die 2022/2023-seisoen het hulle sowat 1 100 mm reën ontvang. Die hoë reënval het gesorg vir heelwat uitdagings, sê Louw.

“Wat die situasie bemoeilik het, was die verspreiding van die neerslag. Ons het baie reën aan die begin van die seisoen ontvang, maar in Januarie en Februarie het ons gebuk gegaan onder warm temperature met min reën. Hierdie weerstoestande het egter ook voordele meegebring. Waar ons in die begin van die seisoen swamsiektes moes bestuur as gevolg van die reën, het die droër toestande gedurende die blomfase van die sojabone tog gehelp dat ons nie in daardie stadium swamprobleme ondervind het nie.”

Sy gemiddelde opbrengs vir al die sojaboonlande vir die afgelope seisoen (2022/2023) was 4,5 t/ha. “Ek het sowat 140 ha sojabone geplant, maar glo my gemiddelde opbrengs kon hoër gewees het. Ek het twee lande op marginale grond geplant en daar was die opbrengs heelwat laer wat die gemiddeld oor die plaas afgebring het.”

Die sojabone is in rywydtes van 0,91 m geplant teen ’n plante­stand van 280 000 plante/ha.

Hy volg ’n wisselboustelsel waarin hy die afgelope seisoen een derde met sojabone en die res met mielies geplant het. Hy wil mettertyd na ’n 50:50-verdeling beweeg. Op van die lande waar hy ook aanvullende besproeiing het, het hy in die winter koring geplant. “Hoewel koring nie ’n gewas is wat tradisioneel in die gebied geplant word nie, het ek gedink ek wil dit op klein skaal in my sisteem probeer inskakel.”

Hulle plant verder weidingsgewasse wat hulle sny vir hooi om die beeste se voer in die winter aan te vul. Die beeste word toegelaat om ná stroop die mieliereste te bewei.

Louw het die afgelope twee seisoene dekgewasse geplant direk nadat hy die sojabone gestroop het. “Direk na die stroper het ek met ’n fynsaadplanter gevolg om dekgewasse te plant. Die resultate was bemoedigend. Ek wil kyk of ek in die komende seisoen dekgewasse op meer van die lande kan plant. Dit is goed vir die grond.”

Net voor plant het hy die dekgewasse doodgespuit en mielies in die reste geplant.

Hoewel hulle ’n paar jaar gelede heeltemal oorbeweeg het na ’n geenbewerkingstelsel, het hy tog in die vorige seisoen ’n skeurtandbewerking tot ’n diepte van 30 mm gedoen om die boonste kompaksielaag wat gevorm het, op te breek. “’n Mens neem partykeer ’n besluit en hoewel dit die regte besluit vir ’n betrokke tyd was, is dit soms nodig om jou besluite weer te eva­lueer. Dit is presies wat ons nou gedoen het met ons grond. Ons het besef dat ons tog ons grond in ’n mate moet bewerk. Ons is dus nou meer in ’n bewaringsbewerkingstelsel as ’n geenbewerking­stelsel. As die toestande dit vereis, sal ons in ’n mindere mate sekere bewerkings doen, maar altyd met grondgesondheid as oogmerk.”

Lande moet skoon van on­kruid wees. Louw meen dat jy eerder bietjie kan spaar op bemesting as jy beperk is met die hoeveelheid geld wat jy op insetkoste kan spandeer. “Dit help nie jy dien kunsmis toe en die on­kruid benut die voedingstowwe ten koste van jou gewasse nie. Na­tuurlik moet ’n mens altyd somme maak en seker maak dat dit klop, maar om ’n paar rand op onkruiddoders te probeer bespaar aan die begin van die seisoen en dan op opbrengs in te boet, maak nie sin nie.”

Louw doen ’n algehele bespuiting voor plant om die dekgewasse of onkruide dood te spuit sodat hy die seisoen met ’n skoon saadbed kan begin. Met plant dien hy ’n vooropkomson­kruiddoder toe. Ongeveer 21 dae na opkoms dien hy ’n na-opkomsonkruiddoder toe saam met insekbeheer vir bol- en snywurms. Afhangende van die swamdruk sal hy tot drie keer bespuit om swamme te beheer, veral vir Sclerotinia wat opbrengs uiters nadelig kan beïnvloed.

Hy doen ’n standaardbespuiting vir swamme en daarmee saam dien hy ’n blaarvoeding toe. Deel van sy saadbehandeling is ’n biologiese groeistimulant met die oog op verbeterde wortelontwikkeling.

Op van die lande het hy in die vorige seisoen ook mis gestrooi as aanvulling tot die normale bemesting wat hulle toedien. “Van die lande het addisionele aandag gekort en ek het mis ingekoop om oor die lande te strooi.”

Daar word jaarliks grondontledings gedoen. Regstellings word gedoen na aanleiding van die resultate en bepaal die hoeveelheid en waar in die land kalk, fosfor en stikstof uitgestrooi word. “Op sojaboonlande strooi ons voor plant ’n 1:2:6-mengsel teen 250 kg/ha uit. Ons dien 150 kg/ha 1:2:6 toe met plant. Ons vra altyd dat die kunsmisverskaffer vir ons ekstra swael in die mengsel inmeng.” In die spuitprogram word molibdeen en kalium ook ingesluit.

Omdat sojabone hul eie stikstof bind, dien hulle geen topbemes­ting op die sojabone toe nie. Louw sê hy is besonder puntenerig oor die inmeng van die regte stikstofbakterieë met die saad, daarom hou hy slegs by een verskaffer.

Grondgesondheid is vir hulle uiters belangrik en in die toekoms wil hulle graag meer aandag aan die aspek gee. Op die oomblik is hulle presisietoepassing gefokus op die plant- en strooptoerus­ting. Louw gebruik FieldView om die planter- en stroperdata in te samel en dan gebruik hy die verwerkte data vir sy beplanning vir die komende seisoen. Hy plant ’n variërende plante­stand met behulp van Precision Planting se toerusting.

In die toekoms sal hy graag al die grond op die plaas wil karteer met die oog daarop om kunsmis variërend toe te dien. “Ons het so ’n jaar of wat gelede met presisie­boerdery begin en neem dit stap vir stap. Elke jaar vorder ons ’n bietjie verder. Ons maak seker ons kry eers een aspek onder die knie en soos wat ons kennis vermeerder en daar kapitaal beskikbaar is om te investeer, gaan ons oor na die volgende stap.”

Met ’n rekordopbrengs van 5,743 t/ha wen Louw in die afdeling vir sojabone in KwaZulu-Natal.

Vrae sorg vir kennis en inligting
Louw erken dat hy nie skaam is om vrae te vra as iets hom inte­resseer nie – op dié manier versamel hy heelwat inligting en kennis. “As ek iets sien wat ’n boer doen wat my belangstelling prikkel, sal ek vrae vra om meer te wete te kom. Verder woon ek al wat ’n boeredag is by. Daar is altyd iets wat ’n mens op hierdie dae kan leer. Ek kyk graag video’s op YouTube om te sien wat boere in ander dele van die wêreld doen om probleme op te los, opbrengs hoër te druk en risiko’s te mitigeer.”

Sy raad aan ander jong produsente is om nie te probeer om te vinnig te veel te doen of te haastig te probeer uitbrei nie. Hy meen hulle moet nie afgeskrik word deur die koste om grondgesondheid te verbeter nie. “Begin klein en neem dit stapsgewys. Fokus op een land op ’n slag.”

Wat hy graag sou wou sien, is dat daar meer aandag aan hulle streek spesifiek gegee word. “Ons werk op navorsingsdata wat vir ander verbouingsgebiede saamgestel is. Ons omstandighede, klimaat, reënval en grond is egter anders. Ek sal graag wil sien dat hier by ons meer proewe en navorsing gedoen word ten opsigte van grondklassifikasie en -gesondheid. Maatskappye doen wel produk- en standproewe, maar ek dink daar is soveel meer wat aandag kan kry.”