Rekordoes uit die Oos-Vrystaat

Gepubliseer: 13 Desember 2023

220

‘n Eerste inskrywing in die afdeling vir mieliever-bouing in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie lewer ’n rekordopbrengs van 14,093 t/ha vir hierdie Oos-Vrystaatse produsent. Hoewel Gerrie Claasen voorheen aan die Weeg-en-Wen-opbrengskompetisie deelgeneem het, is dit die eerste keer dat hy vir dié Graan SA-kompetisie ingeskryf het.

Claasen boer al vir 30 jaar in die Bethlehem-distrik in die rigting van Warden op die plaas Annandale. Waar hy in die verlede koring en mielies geplant het, is hy nou in ’n 50:50-wisselboustelsel met sojabone en mielies. Hy plant nie meer koring nie.

Hy het die prestasie behaal met ’n konvensionele mieliebaster van Pioneer, P2432. Dit is die derde jaar dat hy hierdie baster plant. Gegewe die feit dat dit ’n moeilike seisoen was met uitermate baie reën, is Claasen tevrede met die prestasie van die baster. Die mielies is op 20 Oktober geplant en in Julie gestroop.

Die gemiddelde reënval vir sy plaas wissel tussen 750 en 800 mm per jaar, maar in die 2022/2023-seisoen het hy 1 170 mm ontvang – amper 500 mm reën bo sy langtermyngemiddeld. “Die reën het groot uitdagings meegebring. Ons het gesukkel om klaar te plant. Hoewel die reënval in Oktober hoog was, kon ons nog plant, maar in November alleen het ons 340 mm reën ontvang wat dit met tye onmoontlik gemaak het om in die lande te kom.

“Ek hou daarvan om te boer. Ek boer omdat dit vir my lekker is. Ek is nie behep met prestasie nie, daarom dat ek nie maklik vir kompetisies inskryf nie. Maar tog geniet ek die uitdagings wat die boerdery aan my stel en is dit lekker om te sien dat dit wat ek doen, vrugte afwerp. Boerdery hou ’n mens egter nederig en dit leer jou wat werklike vertroue is. As dit nie vir die genade is wat ons ontvang nie, sal ons niks hê nie. Al doen ’n mens alles perfek reg, sal niks uitwerk as ons nie reën ontvang nie. Daarmee saam glo ek aan goeie beplanning en harde werk.”

Claasen verduidelik dat hy wanneer hy oor ’n nuwe kultivar wat hy op ’n boeredag gesien of oor gelees het besluite moet neem, hy dit eers vir ’n paar jaar op sy plaas sal toets. “Ek wil eers sien hoe die kultivar oor verskeie seisoene op my plaas in my grond onder my bestuursbeginsels presteer. Nie een seisoen is dieselfde nie. Hoewel opbrengs belangrik is, is stabiliteit vir my amper ’n trappie hoër op die rangordelys as dit kom by beoordelingskriteria.”

Hy boer ook met beeste – iets wat goed inpas in sy bestuurstelsel. Na oes wei die beeste op die mielie- en sojaboonlande. “Die beeste is nie so lank op die sojaboonlande nie, maar ek probeer hulle so lank as moontlik op die mieliereste hou. Daarna sit ek hulle terug op natuurlik weiding.”

Claasen glo die bestuur van sy grond is die beginpunt van elke jaar se siklus. Hy ontleed die grond en doen dan aanpassings daarvolgens. Hy fokus veral op die grond-pH. “Hoewel ek nog nie op die volle spektrum van presisieboerdery is nie, spandeer ek heelwat tyd aan my grond. My mikpunt is om nog fyner te bemes en dan wil ek mettertyd graag ook kyk na variërende plantestand binne ’n land na gelang van die grondtipe en die grondgesondheid. Op die oomblik bemes ek variërend.”

Op die gedeelte waar hy die rekordopbrengs behaal het, het hy 170 N, 20 P en 18 K toegedien net voor planttyd. Hy het nie agterna nog ’n topbemesting in die land gedoen nie.

Claasen volg ’n verminderdebewerkingstelsel. Na die mielies sal hy die land met ’n hoëspoeddis bewerk om die saadbed gelyk te maak en oorblywende stokke kleiner te sny. Daarna plant hy in die reste. Na sojabone sal hy wel ’n diep tandbewerking op die ry doen voordat hy mielies plant.

Onkruidbeheer
In sy omgewing het hy nie groot las van siektes nie, maar hy plaas groot klem op onkruidbeheer. “Onkruide wat op die land groei, trek baie vog uit die grond en put jou lande uit. Dit het ’n geweldige impak op jou gewas se opbrengs aan die einde van die seisoen.”

As die lande besonder vuil is, sal hy voor plant ’n algehele bespuiting doen. Hy meen die beeste dra in ’n groot mate daartoe by om die lande skoon te hou. Voor plant sal hy ’n vooropkomsbespui­ting doen en dan sal hy weer net voordat die mie­lies se blaardak toemaak, ’n gerigte bespuiting doen. Hy plant konvensionele mie­lies, maar volg dit op met Roundup Ready-sojabone. Op die sojaboonlande doen hy ’n opvolgbespuiting met glifosaat na opkoms. Hy meen hierdie stelsel werk in sy omgewing om die on­kruid onder beheer te hou.

Sy raad aan jongmense wat pas begin boer het, is om nooit af te skeep as dit by grondontledings kom nie. “Grondontledings is uiters belangrik en vorm die basis waarop jy jou gewas­produksie bou. Verder is my raad aan jongmense om nederig te bly en op die Vader te vertrou.”

Gerrie Claasen het ’n rekordopbrengs van 14,093 t/ha in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie behaal.