Rekordoes is genade van Bo

Gepubliseer: 13 Desember 2023

301

Casper du Toit het 27 jaar gelede in die Hoopstad-distrik saam met sy skoonpa, At van Rensburg, begin boer. Deesdae boer sy susterskind, JP Olivier, saam met hom op die plase De Rust, Tevrede en Mooiveld. Hy het vanjaar vir die eerste keer ingeskryf vir die Groei vir Goud-opbrengskompetisie in die afdeling vir sojabone wat op watertafelgrond verbou word.

Du Toit het die opbrengs behaal met ’n Agricol-Don Mario-soja­boonvariëteit, DM 6,8iRR. Hoewel hy nie ’n spesifieke blok uitgehou of anders behandel het as die res van die sojabone nie, het hy wel stroopbane gelos en later vir die kompetisie gestroop.

Hy bedryf ’n gemengde boerdery met mielies, sojabone, koring, sonneblom, beeste, wild en pekanneute. Die afgelope seisoen het hy 500 ha sojabone van verskillende maatskappye geplant. Die saai­boerdery vorm die hoofkomponent van die boerdery met die res van die vertakkings wat die graanafdeling ondersteun. Die beeste bewei die mielie-oesreste in die winter.

Só gaan hy te werk
Die sojabone is tussen 17 en 30 Oktober geplant, met 22 Oktober die spesifieke plantdatum van die sojabone wat vir die kompetisie ingeskryf is. Hulle het ’n plantestand van 300 000 plante/ha gerealiseer nadat hulle 50 kg saad/ha geplant het. “Ons plant al ons lande in ’n stelsel van beheerde spoorverkeer waar rye van 3 voet (90 cm) en 5 voet (1,5 m) mekaar afwissel.”

Hy pas wisselbou toe deur die ongeveer 1 000 ha watertafelgrond om die helfte met mielies en sonneblom en/of sojabone te plant, afhangend van die beskikbare vog en die seisoenvoorspel­lings. Breëblaar- en grasgewasse wissel mekaar dus jaarliks af. “Ko­ring plant ek net om versuipte grond te dreineer,” verduidelik Du Toit.

Sy landerye bestaan hoofsaaklik uit leemsand van die Avalon-, Pinedene-, Bloemdal- en Longlands-grondtipes waarvan die keerlaag op ’n gronddiepte van tussen 1,5 en 2,5 m voorkom.

Die boerdery word volgens presisiebeginsels bedryf – hy het in 2006 met presisieboerdery begin. Die inligting wat deur byvoorbeeld stroperdata en grondontledings ingesamel word, word jaarliks ontleed en vorm die grondslag van die besluite wat vir die komende seisoen geneem word.

Hy beklemtoon dat hulle sover moontlik nie ploeg of dis nie. Die maksimum materiaal word as deklaag bo-op die grond gelos – aan die een kant om vog te bewaar, maar ook om wind- en watererosie te bekamp. Hy meen die organiese materiaal is uiters voordelig vir grondgesondheid.

Om onkruid te beheer, gebruik hulle hoofsaaklik Roundup en Panthera. Met plant dien hulle vloeibare kunsmis variërend toe. “Ons het 12 N, 18 P en 24 K (vloeibaar) met plant toegedien asook 4 ℓ/ha Rhizovator en inokulante (Rhizobium) vir stikstofbinding. Op blomstadium is 1 ℓ/ha Molboro X as blaarvoeding gespuit. Vir insekbeheer is Decis, Addition en Coragen gebruik en vir aalwurmbeheer Counter.

Wat reënval betref, het hulle besonder goeie reën gehad in die vroeë lente. “My lande was versuip in die voorseisoen. Ek kon net-net plant. In die eerste helfte van Desember het ons weer oormatige reën gehad, maar daarna was dit droog tot einde Januarie.” Hulle het altesaam 600 mm reën vir die seisoen ontvang. ’n Ander groot uitdaging van die afgelope seisoen was hael wat twee weke na plant en weer twee keer net voor oes geval het. Volgens Du Toit is die totale gemiddelde haelskade wat op die plaas getakseer is 30%.

Du Toit meen dit is belangrik om eie kultivarproewe op die plaas te plant. Op dié manier kan hy waarneem hoe ’n bepaalde produk op sy grond en met sy bestuurspraktyke presteer. Hy kyk verder na proefresultate van ander produsente in die omgewing en hulle woon boeredae by en lees artikels in landboutydskrifte. Gesprekke met verteenwoordigers van saad- en kunsmismaatskappye is ook leersaam.

Sy raad aan jong produsente is om versigtig met geld te werk. “Kyk na finansiële egalisasie oor tyd. Moenie jou winste in een jaar opgebruik nie. Belê in jou boerdery.”

Hy is uiters dankbaar vir die ondersteuning wat hy van sy vrou, Mari, ontvang. “Sy is die een wat sorg dat die boeke klop!” Hy beklemtoon dat samewerking in ’n boerdery deurslaggewend is. “Elkeen het sy werk en saam bereik ons sukses. Ek is net so dankbaar teenoor JP wat soveel werk namens my doen.”

Hy sluit af met erkenning aan die Skepper. “Die oes wat ons hierdie jaar kon afhaal is suiwer genade van Bo. Gedurende die voorafgaande paar seisoene was my situasie redelik hopeloos as gevolg van te veel reën en gepaardgaande versuiptoestande. Ek moet alle eer aan ons Hemelse Vader gee wat ons so ryklik geseën het.”

Met sy eerste inskrywing vir die Groei vir Goud-opbrengskompetisie in die afdeling vir sojabone wat op watertafelgrond verbou word, behaal Casper du Toit ’n kompetisie-rekordopbrengs van 6,133 t/ha.