Goeie verhoudinge is soos olie wat die ratte glad laat draai

Gepubliseer: 13 Desember 2023

201

Divan Rossouw is die graangewasafdelingbestuurder op Krantzplaas, een van die plase van die Sitrusrand Boerdery van Pieter Nortjé op Cradock. Hoewel Sitrusrand een van die grootste sitrusprodusente in die Oos-Kaap se Sondagsriviervallei is, staan die graanafdeling geensins ’n tree agteruit vir die sitrus­afdeling nie.

In 2022 was Krantzplaas die wenner van die 30-ton-mieliekompetisie wat jaarliks in die omgewing gehou word met ’n mielieopbrengs van 22,011 t/ha.

Wat die Groei vir Goud-opbrengskompetisie betref, is dit die tweede jaar wat Rossouw ingeskryf het. Vanjaar het hy die eerste plek behaal vir mielieverbouing onder besproeiing met ’n opbrengs van 21,45 t/ha met die DEKALB-mieliebaster DKC 64-54 BR. Hy het 180 ha van dié baster op Krantzplaas geplant en sommer uit die staanspoor geweet watter blok hy vanjaar gaan inskryf. “Omdat ek weet waar die beste potensiële areas op die plaas is, het ek met planttyd reeds geweet dat ek daardie blok gaan inskryf,” sê Rossouw.

Kultivarkeuse
Hulle plant net DEKALB-mielies op dié plaas en dit is reeds die derde jaar wat hulle hierdie bepaalde baster geplant het. “Wanneer ons basters kies, doen ons proewe om te bepaal watter baster inpas by ons produksiemetodes en in ons streek,” verduidelik Rossouw.

Hy het ingeskryf want hy meen dit is goed om hulle opbrengste en praktyke te meet teen die opbrengste wat in ander areas behaal word. “Voortdurende aandag aan die fynste besonderhede is noodsaaklik. Daar is geen blote geluk wanneer dit by boerdery kom nie. As ’n mens ’n fout maak, gaan dit een of ander tyd in die opbrengs wys.” Volgens Rossouw word dieselfde praktyke oor die hele plaas gevolg.

Benewens mielies plant hulle ook koring en lusern. Wat koring en mielies betref, pas hulle ’n hoë-intensiteit-dubbeloes toe (beter bekend as ’n double cropping-stelsel) wat beteken dat hulle in die somer mielies en in die winter koring op dieselfde land onder besproeiing plant. In hierdie verbouingstelsel is die beplanning van al die insette van kardinale belang. Die lusern word elke vyf jaar vervang en oorlêlande vorm deel van hulle wisselboustelsel. Ongeveer een vyfde van die lande word nie met ’n gewas geplant nie. Dié oorlêlande word wel natgemaak sodat die onkruid kan ontkiem en opkom en daarna word dit bewerk in ’n poging om die onkruid op dié manier te bekamp.

Die bestuur van al die insette is op presisieboerderybeginsels geskoei. “In alle fasette van ons graanboerdery spits ons ons toe op presisiebeginsels. Dit sluit in ons grondvoorbereiding, plant, bemesting, bespuitings, stroop asook die hantering en bemarking van die graan.”

“Koring en mielies word verbou in ’n minimumbewerkingstelsel. Wanneer ons koring ná mielies plant, sal ons wel ’n diep skeurtandbewerking doen voordat ons plant.”

Magda en Divan Rossouw tydens die Groei vir Goud-prysoorhandigingsgeleentheid.

In harmonie met die natuur
Volgens Rossouw is sy boerderyfilosofie daarop gebaseer om in harmonie met die natuur te boer en daarmee saam om die uitda­gings wat Moeder Natuur na hulle kant toe gooi te aanvaar en die beste daarvan te maak. “Omdat ons daarin glo om saam met die natuur te boer, is grondgesondheid vir ons uiters belangrik. Ons plant direk in die vorige jaar se oesreste. Die oesreste wat op die lande gelaat word, help met vogbewaring en om wind- en watererosie te bekamp.”

Rossouw sê tong in die kies dat hulle nie ’n veekomponent het nie, maar dat húlle vee die erdwurms in die grond is.

Die gedeelte wat vir die kompetisie ingeskryf is, bestaan uit rivierklei. Die res van die plaas bestaan hoofsaaklik uit rivierklei, sand en ook kalkgronde.

Hy verduidelik dat hulle mikpunt is om so winsgewend as moontlik te boer. “Hoewel ons altyd kyk hoe om te verbeter en hoe om beter opbrengste te verkry, is dit nooit ten koste van wins nie. Daardie ewewig is uiters belangrik en dit kan die verskil tussen sukses en ondergang beteken.”

Die vroeë mielies is gedurende die laaste week van Oktober tot so die middel van November geplant, teen ’n plantestand van 85 000 plante/ha, terwyl die laat aanplantings van middel November tot middel Desember in die grond gesit is teen ’n plantestand van 80 000 plante/ha.

Hulle plant die mielies in rywydtes van 760 mm. “Ons het met ’n 8-ry-John Deere 1750-planter gewerk saam met Cerealis se presi­sietoerusting. Pieter Nortjé, die eienaar, het met John Deere-trekkers grootgeword en is steeds ’n getroue John Deere-kliënt. Ons kry baie goeie diens van die handelaar af en die beskikbaarheid van onderdele maak ’n groot verskil, veral wanneer daar iets breek tydens plant.”

Die mielies is middel Junie met ’n John Deere S660 gestroop.

Onkruidbeheer is ’n belangrike onderafdeling van mielie­verbouing, meen Rossouw. Dieselfde onkruidbeheerprogram is op al die mielies toegepas. “Na opkoms, so min of meer op die vierblaarstadium, spuit ons glifosaat (Roundup PowerMAX) en as dit nodig sou wees sal ons opvolg met ’n Lumax-mengsel.”

Rossouw verduidelik dat hulle Omnia se program volg met plantkorrelkunsmis wat opgevolg word met vloeibare kunsmis deur die spilpunte. Hulle gebruik 200 kg 1:1:1 (29) Orthman-kunsmis en dien 300 kg 1:1:1 (29) saam met die planter toe.

Die program lyk verder soos volg:

  • Met opkoms: kalsiumnitraat, 130 ℓ/ha
  • Twee weke na opkoms: kalsiumnitraat, 130 ℓ/ha
  • Vier weke na opkoms: 240 ℓ 8:1:3, 20 ℓ/ha
  • Ses weke na opkoms: 240 ℓ 8:1:3, 20 ℓ/ha
  • Net voor pluim: 240 ℓ 1:0:0, 18 ℓ/ha
  • Waterblasiestadium: 160 ℓ UAN, 30 ℓ/ha saamgestel as volg: 282 N, 60 P, 80 K

Blaarvoeding vorm ’n belangrike deel van die bemestingsprogram. Gereelde grond- en blaarmonsters word geneem om seker te maak die plante het nie die een of ander tekort nie.

Hy verduidelik dat hulle bemes sodat hulle ’n bepaalde tonnemaat kan stroop. Dit is een van die maniere wat hulle toepas om winsgewend te bly boer.

Volgens Rossouw was hulle grootste uitdaging die afgelope seisoen om die mielies gereed te kry sodat hulle kon stroop. “Die mielies het lank geneem om af te droog.”

Hy wys daarop dat die hele plaas geoutomatiseer is en dat elke spilpunt sy eie pyplyn en pomp het. Van die spilpunte is ook onder gravitasiedruk. Volgens Rossouw het beurtkrag nie so ’n groot uitwer­king op hulle aktiwiteite nie. Hy wys tog daarop dat as hy nog iets kon verander, dit sou wees om glad nie van Eskom afhanklik te wees nie.

Die regte inligting is belangrik. Rossouw sê hy steun op die ondervinding wat hy in die verlede opgedoen het om die regte besluite te neem. Hy verduidelik dat hy verder by sy kollegas aanklop om raad, maar ook nuttige inligting by bure kry en uit die proewe wat hulle plant.

As hy raad aan ander produsente moet gee, veral jongmense wat nou begin boer, sal dit wees om in noue kontak met medeprodusente te bly. “Kyk wat die boere om jou doen en stel vas wat in jou area op jou plaas kan werk of nie.”

Rossouw se droom is dat Suid-Afrikaanse produsente meer sal saamstaan om die land se welvaart en voedselsekerheid te verseker. “Dit is verder vir my belangrik – en gelukkig vorm dit deel van ons kernopset – om lief te wees vir die mense vir wie jy werk, wat vir jou werk en saam met wie jy werk. Wedersydse respek vir mekaar en respek vir die natuur is vir my deurslaggewend en is soos die olie wat die ratte in die boerdery laat draai.”

Rossouw behaal ’n eerste plek vir mielieverbouing onder besproeiing.