Onderwyser se passie vir landbou aansteeklik

Gepubliseer: 12 Desember 2023

569

November se held: Johan Louw

Johan Louw, ’n landbouonderwyser by Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp, is die November-wenner in die Graan SA/John Deere My Hero-reeks. Dit was een van sy oudmatrikulante, Mandie Badenhorst, wat hom genomineer het.

Die wenner in die My Hero-reeks vir November is Johan Louw, ’n landbouonderwyser by Hoërskool Wesvalia.

In die landbouwetenskapklas was daar altyd baie te leer oor landbou, maar ook oor die lewe, vertel Mandie. Dit is hier waar haar liefde vir landbou begin het en vandag – hoewel sy in ’n ander rigting studeer het – hoop sy om binnekort met beeste of skape te boer. Sy beoog selfs om ’n draai in Amerika te maak. “Ek het na my studies op universiteit vir ’n jaar op ’n plaas gewerk en sommer gou besef dat dit my gekose loopbaan moet wees.”

Johan is deur ’n oudleerder, Mandie Badenhorst, as held in die My Hero-reeks genomineer.

Mandie vertel verder van die landbouwetenskapklas se uitstappies en kursusse wat ’n groot impak op haar gehad het. “Ek dink terug aan die inte­ressante Dorper- en graangraderingskursusse. In die klas self was daar altyd die een of ander sakkie kunsmis of landbouproduk om te ondersoek. Mnr Louw het moeite gedoen om ons te wys hoe landbou in die praktyk werk.”

Johan vertel dat sy liefde vir boerdery al kleintyd begin het; beide sy oupas het in die Heidelberg-omgewing geboer. Hy het na skool met ’n onderwysbeurs Landbou op Tukkies gaan studeer. Daardie jare kon jy net by een van die sewe landbouskole klas gee en dit was by Hoërskool Bekker waar sy beroep as landbouonderwyser begin het. Hy het ook vir ’n ruk by die Landboukollege in Potchefstroom, die destydse Pampoenboere, klasgegee.

In 2012 het Hoërskool Wesvalia aansoek gedoen om landbou as vak aan te bied en Johan kon sy loopbaan as onder­wyser daar voortsit. Hy tree in Februarie af en is nie vir ’n oomblik spyt dat hy al die jare in landbouonderrig betrokke was nie. “Ek kan nie sê dat ek landbou en onderwys gekies het nie, dit is vir my so beskik en daarvoor is ek dankbaar. Ek glo vas dat jy nie ’n onderwyser deur studies kan word nie; onderwysers is geroep en gebore om onderrig te gee.”

“Om onderwyser te wees is vir my ’n passie en gee vir my energie. Ek is dankbaar dat ek al die jare kon doen waarvoor ek lief is.”

’n Klas vol matrieks was nog altyd vir Johan ’n geleentheid om inspraak te gee. “Ek dink nie skole berei kinders voor vir die lewe daar buite nie. Daarom is dit belangrik vir onderwysers om iets van hulself te gee. Ja, die leerders moet die akademie onder die knie kry, maar daar is ook geleentheid om hulle op die lewe voor te berei.”

Sy raad aan jong landbouonderwysers – en onderwysers in die algemeen – is om ’n student van jou vak en die lewe te bly. Bly op hoogte van nuwe tegnologie, maar ook van die kind in jou klas se leefwêreld. So kan jy relevant bly en ’n groter rol in die toekoms van daardie kind speel.