Holistiese benadering kan spilpunt-vogverlies minimeer

Gepubliseer: 2 Oktober 2023

499
Theuns Dreyer, besturende direkteur, Senter360

Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Gewasse onder spilpunt is net soos ander gewasse afhan­klik van die hoeveelheid­ water wat hulle deur hul wortels kan op­neem om te produseer. Om die produksie per millimeter water wat gepomp en besproei word te verhoog, moet ’n holistiese benade­ring gevolg word. Deur aandag aan die hulpbronne, boerderypraktyke en die gebruik van tegnologie te gee, kan die produksie per millimeter water gepomp verhoog word.

Water gepomp moet in opbrengs om­gesit word. Dit is belangrik vir die produ­sent om sy grondsoorte en hul produksievermoë te ken en dit so te bestuur dat produksie geoptimeer word. Presisieboerdery en -besproeiing kan opbrengste maksimeer. Byvoorbeeld, party kolle in die sirkel moet dalk minder water kry en ander meer – dit kan bestuur word.

Vogbewaring
Boerderypraktyke moet ingestel wees om die produksie per millimeter water gepomp te verhoog. Fokus op die beperking van vogverlies as gevolg van verdam­ping, dreinering en afloop. Dit sal dalk beteken dat die grond te alle tye met stoppels bedek moet wees of dat die plante so geplant moet word dat dit die grond vinnig oorskadu. Dit is al meermale bewys dat bedekte grond se waterinfiltrasie baie beter is en verder help die bedekking met vogbewaring.

Vogbewaring is belangrik om die produksie per milli­meter gepomp en besproei te verbeter. Waterdruppels wat op kaal grond val, verdig die grondoppervlak en ’n groot persentasie van die water loop af of verdamp. Produsente se fokus moet gerig wees op presisieboerdery volgens die produksiepotensiaal van die grond. Pas besproeiing hiervolgens aan. As die grond maklik versuip, moet die besproeiing daarby aangepas word. Pas terselfdertyd die bemesting en plantestand aan om die grond se potensiaal te maksimeer en sodoende sal die produksie per millimeter gepomp geoptimeer word.

Senninger se I-Wob-spuit.

Skedulering
Presisiebesproeiing moet so gedoen word dat daar deur die hele groeiseisoen aan die gewas se vogbehoefte voldoen word. Te veel besproeiing lei tot afloop en dreinering. Verskaf dus aan die plant wat hy benodig en baseer die besluit op die onttrekking van vog uit die grond. Dit is hier waar besproeiingskedulering en die gebruik van neutronvogmeters ’n belangrike rol speel. Besproei die gewas effektief met wat hy benodig wanneer hy dit benodig. Die besproeiing moet so gedoen word dat die grondvog in die gewas se behoeftes sal kan voorsien en dat die vog in die wortelsone sal wees soos die gewas dit benodig. Die vog moet met ander woorde nie verby die wortels dreineer as gevolg van oorbesproeiing nie. Gelukkig is die gebruik van tegnologie in besproeiing al algemene praktyk. Neutronvogmeters wat deur ’n professionele skeduleerder gebruik word om die besproeiingskedulering aan te pas is by heelwat produsente standaardpraktyk.

Druppelgrootte
Een van die belangrikste aspekte van besproeiing is druppelgrootte. Te groot druppels lei tot afloop en te klein druppels lei tot wegwaai en verdamping van die gepomp­te water. Die besproeiingstelsel moet die vermoë hê om die water op die grond te sit sonder dat daar afloop is en verder moet die druppel­grootte van so ’n aard wees dat dit nie wegwaai of verdamp nie. Die beste tegnologie moet ingespan word om die druppelgroottes vir die stelsel reg te hou, wat beteken dat produsente sal ag slaan op die spuitpunte of die spuitpakket op die spilpunt.

Spuitpakkette het oor tyd ingrypend verander. Spilpunt­spuit­punte se belangrikste taak is om die druppels op te breek in die ideale druppelgrootte. Te grof het minder verdamping, maar slaan die grond vas met te veel afloop. As die druppel weer te fyn is, waai die wind dit weg of verdamp dit voor dit die grond bereik.

Die Komet Twister-spuitpunt.

Aanvanklik was die meeste spilpuntspuitpunte staties met geen bewe­gende dele nie en kon dit nooit ’n konstante druppelgrootte verskaf nie. Die druppelgroottes het baie gevarieer en het altyd probleme gegee omdat dit uit fyner en growwer druppels bestaan het. Die ideale druppelgrootte lê tussen die uiterstes. Om al die druppelgroottes in die ideale band te kry is ’n onmoontlike taak vir ’n statiese spuitpunt. Met praktiese toetse het swakker pre­sterende statiese spuitpunte verliese van tot 43% getoon en die beter statiese spuitpunte het steeds ongeveer ’n 25%-verlies getoon. Dit het oor jare gelei tot die ontwikkeling van bewegende spuitpunte.

Deurbraak in tegnologie
Senninger het etlike jare gelede met die eerste I-Wob-spuit vorendag gekom. Dié spuitpunt het met die beweging van die verspreidings­plaatjie die druppels gesny in verstommend konstante druppel­groottes en so verdamping en kompaksie albei die nek ingeslaan. Boonop het die beweging die druppels verder geprojekteer, wat die infiltrasie en afloopprobleme van groot spilpunte op die buiterand van die sirkel iets van die verlede gemaak het. ’n Ander groot bydraende faktor was dat hulle met die beweging ’n egalige druppelverspreiding onder die spuit bewerkstellig het. Die voordele was revolusionêr! Die spuite het teen 15 psi (pound-force per square inch) geloop, maar slytasie het geleidelik ingetree wat die spoed van die plaatjie versnel het en sodoende die druppelgrootte laat verklein het wat weer verdamping proporsioneel verhoog het.

’n Volgende massiewe deurbraak was die bekendstelling van die Komet Twister-spuitpunt. Dit funksioneer op ’n soortgelyke beginsel as die Senninger I-Wob, máár:

  • Slytasie is min, wat veroorsaak dat die druppelgroottes nie ver­ander nie.
  • Die Komet Twister loop teen 10 psi, maar ook teen 6 psi wat die elektrisiteitrekening verlaag.

Senter360 was oor die laaste paar jaar betrokke by verskeie vergelykende toetse van verskillende spuitpuntpakkette en watertoe­dieningsmetodes vir spilpunte. Vir Senter360 is dit belangrik om die nuutste tegnologiese veranderinge in die mark te toets om sodoende die beste aan hul kliënte te bied. Die mikpunt is om al die water gepomp effektief in die grond te kry sodat die gewas kan produseer.

Die meeste van die toetse waarby Senter360 betrokke was, is gedurende Augustus tot Oktober gedoen omrede dit die tyd van die jaar in die somersaaigebied is wanneer dit die moeilikste is om te besproei. Dit is reeds aan die warm kant, gewoonlik is die lug droog en die wind kan ook baie waai. Vir die toetse was die spuitpunte almal op ’n standaardhoogte van 2,3 m bo die grond gestel. Die millimeter water gepomp en die millimeter water deur die spilpunt neergesit word teen die millimeter water in die grond gemeet ver­gelyk om die verlies te bereken. Die vog in die grond word met ’n neutronvogmeter gemeet. Onthou: Hoe meer water in die grond, hoe beter is die kans op ’n goeie oes.

Toetsresultate
Oor tyd is die volgende waargeneem:

  • Nuwe statiese spuitpunte op hangpype gemonteer het op die swakste 43%-verliese getoon en op die beste ongeveer 25%-verliese.
  • Met die nuwe I-Wob-spuite met 15 psi-reguleerders kon ongeveer 95% van die gepompte water in die grond gemeet word, maar hoe meer slytasie die spuite gehad het, hoe minder water het in die grond gekom (tussen 80% en heelwat minder).
  • Met nuwe Komet Twister-spuite wat met 10 psi-reguleerders toegerus is, word redelik konstant 97% van die water in die grond gemeet.
  • Met nuwe Komet Twister-spuite wat teen 6 psi werk, word gereeld tussen 99% en 100% van die water gepomp in die grond gemeet.
  • Toetse met Dragon Line (ook ’n tipe LEPA-drupperpyp (low energy precision application) wat gesleep word) is soortgelyk aan die 6 psi-Komet Twister in effektiwiteit. Waar die spasiëring nie baie naby was nie, was die verspreiding strepe­rig. Energiekoste is dieselfde as die 6 psi-Komet Twister (dit is die reguleerder met die laagste druk beskikbaar). Die aankoopkoste en instandhouding van hierdie stelsel is besonder hoog.
  • Tradisionele LEPA-stelsels waar die gewas in rye in die rondte geplant word, werk goed. Sommige werk op 10 psi, ander met 6 psi. Tradisionele LEPA-stelsels bestaan uit horisontale straalspuite wat so laag as 300 mm van die grond loop en onder die gewas inspuit waar gewasse in rye in die rondte geplant is.
  • Die tweede tradisionele LEPA-stelsel maak gebruik van bubblers of “kouse” as verspreider. Laasgenoemde sleep op die grond tussen die gewasse wat in rye geplant word. Dikwels word bakkies in die rye met implemente gemaak om die water op te vang sodat dit nie wegloop nie – dit is eintlik ’n beheerde vloedbesproeiing­stelsel. Effektiwiteit is wel hoog.
  • Die alternatiewe LEPA-stelsel is effens minder effektief waar daar nie in rye in die rondte geplant word nie en die spuite net bo die gewas gebruik word. Verliese as gevolg van swak of te fyn druppels word beheer deur die spuite laag bo die gewas te installeer en naby mekaar te spasieer. Grondseëling en afloop as gevolg van uiters hoë toedieningstempo’s is egter ’n probleem. Dit is ook die rede dat die spuite op booms gesit word wat dubbel rye spuite weerskante van die struktuur hang om die bandwydte te vergroot en die hoë toedieningstempo so te probeer verlaag. Dit alles maak dit ’n duur opsie. Alhoewel dit heelwat beter as die statiese spuitpunte is, kom dit glad nie by die holistiese prestasie van die Komet Twister nie.

Die aanwending van die stelsel sal bepaal watter stelsel die beste is. Van al die spilpuntwatertoedieningsmetodes waar totale opper­vlakte besproei moet word, is die Komet Twister eenvoudig die beste. Vir gewasse soos mielies, koring, lusern, aartappels en talle meer is die Komet Twister met 6 psi-reguleerder die beste produk. Vir gewasse wat in die rondte geplant word en waar die hele oppervlakte nie noodwendig besproei moet word nie, kan die LEPA-stelsels met een of ander verspreider dalk die beter keuse wees.

As produsente die millimeter water gepomp in die grond wil kry en die koste so laag as moontlik wil hou, moet hulle holisties na die prentjie kyk. Dikwels is goedkoop koop dalk duur koop.

Kontak Theuns Dreyer by 082 564 5955 of Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.