Wat sou gebeur as alles in Suid-Afrika reg gewerk het? Sou ’n mens dankbaar kon wees as alle dinge altyd gewerk het soos dit moet? Waarom so ’n vraag vra in die huidige politieke en ekonomiese klimaat, sal mense wonder.
Hoe sou dinge tans gelyk het as Suid-Afrika (1) voldoende krag gehad het; (2) die paaie en ander infrastruktuur soos spoorweë in stand gehou is; (3) die regulatoriese omgewing die perfekte klimaat vir die privaat sektor geskep het om besigheid te doen; en/of (4) die hawens voldoende kapasiteit gehad het om alles wat ons kon in- en uitvoer, te realiseer?
Aan die een kant is die feit dat baie dinge in Suid-Afrika nie reg loop nie, positief. Suid-Afrikaanse produsente word dikwels beskou as die beste in die wêreld. Omdat hulle alles kry wat hulle wil hê? Juis nie … die teendeel is waar. Plaaslike produsente kry van die minste ondersteuning in die wêreld en dit is juis wat ons sterk maak.
Net so met ander dinge in die land wat nie werk nie. Dit skep geleenthede; dit laat ons anders dink; dit gee ons deursettingsvermoë. Nóg meer: Dit maak ons dankbaar vir dit wat wel werk.
In die afgelope twee bemarkingsjare het Suid-Afrika meer mielies as ooit in die vrye mark uitgevoer ten spyte van die spoorweë wat nie gewerk het nie; stakings; plundering; vloede en ook onvoldoende hawekapasiteit.
Wat sou die situasie wees as alles gewerk het? Wat sou moontlik wees? Suid-Afrika kan en moet beter presteer. Maar is hierdie nie voorbeelde van wat Suid-Afrikaners so goed maak nie? Laat aanhou en deurdruk, al is die ligte af? Dit is wat ons land hoop gee.
In Suid-Afrika is die uitwys van probleme en die vind van oplossings al vervolmaak, maar as dit by implementering kom, gebeur daar nie veel nie. Onlangse voorbeelde sluit in die nasionale ontwikkelingsplan (NDP); Operasie Phakisa; die meesterplan vir landbou- en landbouverwerking (AAMP) en die pluimveemeesterplan – om net ’n paar te noem.
’n Paar sleutelaspekte wat aandag benodig wat byvoorbeeld in die AAMP uitgelig is, sluit die volgende in:
- Oplossing van beleidsonduidelikhede en die skep van ’n beleggingsvriendelike klimaat.
- Skep van bemagtigende infrastruktuur.
- Verskaffing van omvattende produsente-ondersteuning, ontwikkelingsfinansiering, navorsing en ontwikkeling (R&D) en voorligtingsdienste.
- Versekering van voedselsekerheid, uitgebreide produksie en werkskepping.
- Die moontlik maak van markuitbreiding, marktoegang en verbetering van handelsfasilitering (waaronder die registrasie van chemiese middels, effektiwiteit van Wet Nr. 36 van 1947).
- Verbetering van plaaslike produksie, vermindering van invoer en uitbreiding van landbouverwerking vir uitvoer.
Dit is interessant dat daar vanaf die bedryf se kant met ’n paar sake goeie vordering gemaak is met die planne wat op die tafel is. Indien daar ’n bemagtigende omgewing geskep word vir bedrywe kan baie van die uitdagings reggestel word. Die vraag bly, wat as alles sou werk? Kortliks is die antwoord dat as alles werk, sal Suid-Afrika meer mededingend binne die globale en vryemarkomgewing wees. As mededingendheid verbeter, het dit outomaties ’n positiewe effek op volhoubaarheid.
In landbou-ekonomie en ekonomie leer studente van Porter se diamantmodel vir die mededingendheid van nasies. Hierdie konsep, ontwikkel deur die bekroonde Amerikaanse professor Michael Porter, bied ’n diepgaande blik op die faktore wat die mededingendheid van nasies in ’n wêreldwye ekonomiese konteks beïnvloed.
Die belangrikheid van instellings in hierdie konteks moet nie onderskat word nie. Instellings verwys na die regulering, wetgewing, korporatiewe bestuur en die algehele bestuur van ’n nasie se sake-omgewing. Sterk instellings, wat ’n regverdige, effektiewe en stabiele omgewing bevorder, kan mededingendheid aanmoedig deur ’n positiewe besigheidsklimaat te skep.
Instellings is dus van kardinale belang om die ander faktore in die Porter-diamantmodel te ondersteun en te versterk. ’n Positiewe instellingsomgewing kan die ontwikkeling van faktorvoorwaardes, vraagvoorwaardes en verwante bedrywe aanmoedig, en dit kan ’n gunstige invloed op die ondernemingstrategieë en -kultuur van ’n nasie hê. Kortom, instellings speel ’n sleutelrol in die bevordering van nasionale mededingendheid en die sukses van ondernemings in ’n globale ekonomiese konteks. Gegewe hierdie agtergrond is dit belangrik om seker te maak dat ons instansie werk én effektief werk.
In die afgelope jaar was daar ’n definitiewe tendens met die bedryf wat self inisiatief neem en planne implementeer om effektiwiteit te verbeter, maar ’n mens moet ook in ag neem dat daar sekere areas is waar dit onmoontlik is. Dit is dus uiters belangrik om ’n sentrale vennootskap en gedeelde visie saam met die owerhede te hê om hierdie hindernisse te probeer oorkom.
Net soos ’n produsent teenoor ander produsente mededingend moet wees – plaaslik en internasionaal – is dit belangrik dat die omgewing binne die waardeketting geskep word om mededingend te wees.