Graanprodusent van die jaar: ’n Ryk geskiedenis wat oor 22 JAAR strek

Gepubliseer: 1 Oktober 2023

1817
Alzena Gomes skakelbeampte, Graan SA alzena@grainsa.co.za

Die Graanprodusent van die jaar-toekenning vir uitmuntende graanproduksie is ’n gebeurtenis van groot betekenis in Suid-Afrika, met ’n ryk geskiedenis wat oor 22 jaar strek. Hierdie toekenning deur Graan SA erken die mees effektiewe en doeltreffende graanprodusente in die land en gaan veel verder as net landbou. Die toekenning beklemtoon ook die be­langrikheid van ’n produsent as rolmodel en sy/haar vermoë om winsgewende en volhoubare graanproduksie te bevorder.

Sedert die aanvang van hierdie toekenning het Graan SA homself beywer om produsente te betrek en bowenal hul uitkyk te verryk tydens die nominasie- en beoordelingsproses. ’n Kundige paneel van beoordelaars, insluitend ’n agronoom, ’n landbou-ekonoom en ’n grondkundige, is betrokke – en dit is duidelik dat hierdie paneel die professionele en effektiewe bestuur van hulpbronne op elke gebied waardeer. Die finaliste word nie net op graanproduksie beoordeel nie, maar ook op ander aspekte van boerdery, insluitend diversifikasie, algehele bestuur van die boerdery-eenhede asook hul betrokkenheid in die landbougemeenskap.

Die fokus van die toekenning is op effektiewe en doeltreffende graanverbouing en dit herinner aan die noodsaaklikheid van volhoubare graanproduksie. Produsente word op grond van ’n reeks kriteria gemeet, insluitend hul bestuur van hulpbronne, finansies, bemarking, agronomie, produksiepraktyke, plaag- en onkruidbeheer, meganisasie en arbeidsbestuur. Dit is ’n omvattende evaluering wat die veelkantige aard van suksesvolle graanproduksie in Suid-Afrika erken.

Hierdie toekenning bied aan Graan SA ’n unieke geleentheid om aan die publiek te toon wat van ’n suk­sesvolle graanprodusent verwag word. Dit gaan verder as net die landbousektor en het ’n groter impak op die samelewing as geheel. Dit beklemtoon die uitmuntendheid van produsente wat dien as rolmodelle vir die jonger geslag en ’n bron van inspirasie is vir almal. Dit is ’n viering van die professionele en moeilike werk wat agter die skerms gedoen word om graanproduksie in Suid-Afrika te bevorder.

Die afgelope paar jaar was nie sonder uitdagings nie, veral as gevolg van die Covid-19-pandemie. Hierdie toekenning het nie net oorleef nie, maar het ook ’n manier gevind om aan te pas en produsente te erken vir hul volgehoue toewyding en prestasies … ’n noodsaaklikheid vir die voortbestaan van die landbousektor, vir nasionale voedselsekerheid en die ekonomie.

Hierdie prestasies is ’n viering van die harde werk, toewyding en passie van graanprodusente in Suid-Afrika. Dit beklemtoon die professionele, gesofistikeerde en inspirerende aard van graanproduksie in die land en is ’n herinnering dat sukses nooit maklik kom nie, maar altyd vol hoop is. Die toekenning en erkenning van hierdie prestasies is ’n manier om die beeld van die graanprodusent na buite te bevorder en om die publiek bewus te maak van die ongelooflike prestasies en bydraes van hierdie produsente. Graanproduksie in Suid-Afrika is ’n bedryf wat trots aan die breër publiek bekendgestel moet word, met hierdie toekenning wat ’n sleutelrol in die proses speel. Dit is ’n viering van die hartklop van die landbousektor en die belofte van ’n voorspoedige toekoms vir graanproduksie in Suid-Afrika.

Geniet die uitstappie na ons 2023-finaliste en hou gerus die November-uitgawe van SA Graan/Grain dop vir ’n kykie na die galatoekenningsaand vol swier en prag. Ons bedank hiermee ook ons jare­lange borg wat sedert die instelling daarvan bydra tot die sukses en voortbestaan van die gesogte toekenning.
Ons stel met trots ons 2023-finaliste voor:

  • Andries Els van Bothaville in die Vrystaat
  • Pieter de Jager van Albertinia in die Wes-Kaap

Andries Els, Bothaville

Andries Els het al diep spore in georganiseerde landbou en sy gemeenskap getrap. In 2001 is hy aangewys as Heilbron Landbou-unie se Jongboer van die Jaar en in 2005 as Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar.

Andries Els het einde 1994 saam met sy pa in die Heilbron-distrik begin boer en beskou dié geleentheid as ’n absolute voorreg. Met sy pa se betrokkenheid by verskillende landbou-organi­sasies het die jong Andries die vryheid gehad om homself uit te leef in sy passie vir boerdery en hy kon enige tyd by sy pa aanklop vir raad. Na ’n moeilike eerste jaar as produsent met ’n hele oes wat vir kuilvoer afgesny is, het Andries en sy pa hande gevat en die pad saam aangepak. Alhoewel dit nie die veronderstelde “ideale” begin vir ’n vuur-en-vlam jong produsent was nie, het dit Andries in die beginjare nederig gehou en telkemale sy seëninge laat tel.

Hy het met sy eerste Safex-verhandelingsnommer in 1995 ’n omwenteling ervaar en met die vryemarkstelsel het die geleenthede gewink. Pas getroud met Marize en ’n paar uitbreidings in die Heilbron-omgewing later, het Andries watertafelgronde in Bothaville aangekoop. Hy was vasberade om nie ’n “dooigat” te wees (soos sy pa sou sê nie) en ’n sukses van die graanboerdery te maak. Met genade van Bo, harde werk en deursettingsvermoë pluk die Else vandag die vrugte. Al was die aanpassing groot as gevolg van radikaal verskillende bewer­kingspraktyke, was dit op sigself ’n groot en lekker uitdaging.

Andries het mielies, sonneblom en ’n klein persentasie koring geplant, maar ’n uitermatig nat seisoen het die oeste laat versuip en diversifikasie op die jong produsent afgedwing, waarna hy ’n varkboerdery oorgeneem het. Hy het die varkboerdery begin met ’n visie om sy eie bemarkbare diere te teel en dit is vandag ’n suksesvolle verlenging van sy waardeketting. Met die geleentheid om deel van die Golden Breeders Group te wees, het Andries goue en koningswildebeeste sowel as swart en swartrugrooibokke in sy wildkudde gehad, wat die saaiboerdery ’n goeie hupstoot gegee het. Toe die wildbedryf ietwat begin taan, het Andries sy fokus na ’n intensiewe beesboerdery met Bonsmaras verskuif.

Die boerdery verbou wit- en geelmie­lies, sojabone en sonneblom in ’n jaarlikse wisselboustelsel op droëland. Grondvogbestuur word elke seisoen toegepas wat die daaropvolgende oorlêsiklus bepaal. Minimumbewer­kings­praktyke word toegepas met diep rip-op-ry as primêre bewer­king om die watertafelgronde ten volle te benut. Die rip-rigting word ook gedraai om so­doende die grond­oppervlak oor tyd heeltemal op te breek en om grondstowwe en mikro-elemente meer gebalanseerd oor die oppervlakte te versprei. Lande word skoon gehou en voor planttyd gerolstaaf.

Bloemzicht Trust se veefaktor behels ’n Bonsmara- en Veldmaster-kudde vir speenkalfproduksie, ’n voerkraal en die bemarking van genetika. ’n Kommersiële skaapkudde volg ook die speenlamproduksiestelsel. Die veeboerdery integreer goed met die saaiery. Grond is ’n saaiboer se belangrikste hulpbron met beter opbrengste direk gekoppel aan dit wat die grond kan bied. Andries sit jaarliks ongeveer 20% meer terug in die grond as wat hy afhaal om ontginning te verhoed en die grond te bewaar vir die nageslag. Hy pas veel eerder ’n streng vogbestuur­stelsel as ’n oorlêstelsel toe.

Die kundige span beoordelaars wat Andries besoek het, was Jan van der Merwe (agronoom), Kobus van Zyl (landboukundige, Omnia), Michael van Rooyen (bestuurder: Adviesdienste, NWK), Deon Bergh (Graan SA-hoofbestuurslid), Andries, Jozeph du Plessis (Graan SA-hoofbestuurslid), dr Dirk Strydom (Graan SA) en Christiaan Vercueil (Graan SA).

Gewaskeuses word gedoen volgens kultivars wat konstant presteer en topopbrengste lewer sowel as gesonde plante met ’n hoë siekteweerstand. Saadkultivarproewe word jaarliks aangeplant om plaaslike presteerders te identifiseer wat goed by die omgewing aangepas is en stremming kan hanteer. Andries het in 2006 met presisieboerdery begin en het na 17 jaar genoegsame data ingesamel wat gebruik word om elke grondsone maksimaal te laat produseer met die regte voedingstowwe. Hierdie tegnologie is van onskatbare waarde waar graan te midde van ’n kosteknyptang verbou word.

Andries se veefaktor behels ’n Bonsmara- en Veldmaster-kudde vir speenkalfproduksie. ’n Kommersiële skaapkudde volg ook die speenlamproduksiestelsel.

Met driejaarlikse grondontledings, beide bo- en ondergronds, gevolg deur presisietoediening en regstellings met bemesting, sorg die span van Bloemzicht Trust dat maksimum opbrengste verseker word.

Die bemestingsbeleid is geskoei op driejaarlikse grondont­ledings, beide bo- en ondergronds, gevolg deur presisietoedie­ning en regstellings met bemesting. Mikro-elemente word tydens plant toegedien, gevolg deur topbemesting ses weke daarna en ’n hoogloopspuit word gebruik vir blaarvoedingregstellings. Realistiese opbrengsmikpunte word voor plant bepaal deur middel van opbrengskaarte, grondontledings en grondvogtoestande.

’n Streng wisselboustelsel word toegepas om winderosie teen te werk en optimale opbrengste te verkry. Sojabone, wat elke vier­de jaar met mielies opgevolg word, help met onkruidbeheer. Die wisseling tussen gras- en penwortelgewasse dra tot ’n sinergistiese verwerking by wat werksdruk tussen gewasse ook beter versprei. Verskeie navorsingsproewe word aangeplant met verskillende plantestand-, plantdiepte- en bemestingsproewe, sowel as onkruid- en insekproewe. Verder word bewerkings- en kunsmistoedienings­proewe ook uitgevoer.

Die plaagbeheerstrategie sluit voorkomende bespuitings in voordat plae en siektes kan kop uitsteek. Onkruidbeheer behels aanvanklike bespuiting direk na plant vir gras- en breëblaarbeheer. Opvolgbespuiting en kolbespuiting word waar nodig ook teen onkruide ingespan.

Andries se beginsels vir finansiële bestuur behels tydige en berekende besluitneming ten opsigte van geleenthede wat hulself voordoen. Rekordhouding en beplanning is grotendeels afhanklik van tydigheid en akkuraatheid van inligting. Finansiële rekordhouding word maandeliks op datum gehou met die insameling en vaslegging van toepaslike inligting. Nuwe projekte en uitbreidings word met sorg beplan en in ’n landbou-ekonomiese konteks geïnterpreteer. Andries vorm deel van ’n studiegroep en sy boerdery word jaarliks per vertakking ontleed om tendense en gemiddeldes van die afgelope jare uit te wys. Die vergelykings plaas hom deurlopend in ’n goeie posisie om spesifieke boerderyvertakkings ten opsigte van die sektor te vergelyk en gereeld tydige en berekende besluite op grond van die beskikbare inligting te neem.

Bloemzicht Trust se meganisasiebestuur loop soos die spreekwoordelike “goed geoliede masjien”. Noukeurige rekords word van elke trekker se dienste en reparasies gehou en werktye word deurlopend deur John Deere se operasionele sentrum by­gehou. Bykomend tot die plaas se toerusting, word kontrakteurs slegs uit noodsaak gebruik, soos in die geval van lugbespuiting. Vervoerkontrakteurs help ook tydens strooptyd om graan na die verwerkingspunte weg te ry.

Die boerdery verbou wit- en geelmielies, sojabone en sonneblom en gewaskeu­ses word gedoen volgens kultivars wat konstant presteer en top­opbrengste lewer.

Die boerdery in sy totaliteit het ’n sterk arbeidsmag en maak gebruik van deeltydse arbeiders tydens planttyd wat aangewend word volgens bekwaamheid en belangstelling. Andries, tesame met sy drie plaasbestuurders, is verantwoordelik vir besluitneming en uitvoering in die besigheid.

Andries hanteer self die bemarking van sy produkte, want dit bepaal die inkomste van elke afdeling. Graan word deur verskeie makelaars verhandel en daar word van opsies sowel as deurlopende bemarking deur die seisoen gebruik gemaak. Bemarkingsbesluite word beïnvloed deur plaaslike en internasio­nale weerstoestande, wêreldgraanvoorraadvlakke, Amerikaanse graanpryse en wisselkoerse. Verskeie graanhandelaars speel ook ’n rol in die bemarkingstrategie.

Bo en behalwe vir die boerdery wat sy tyd in beslag neem, speel Andries ’n aktiewe rol in georganiseerde landbou en verskeie gemeenskapstrukture. Aangewys in 2001 as Heilbron Landbou-unie se Jongboer van die Jaar en toe in 2005 as Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar, het Andries vroeg reeds diep leierspore begin trap. Hy is ’n groot voorstander van mentorskap en onderrig en glo ’n lede-organisasie se waarde lê daarin om te verhoed dat sekere kwessies nie buiten­sporig op produsente afgedwing word nie.

Andries glo die bevrediging van die graanbedryf lê daarin dat daar oor geslagte heen altyd “ruimte vir verbetering en vernuwing” sal wees en dat “optimale wins” uiteindelik die resultaat van ’n reeks kleiner, kumulatiewe suksesse oor die lang duur is – eerder as dit wat in ’n revolusionêre moment geskep word. Sy langtermynbeplanning sluit die uitbreiding van die saaiery in sowel as groter winsgewendheid om stygende insetkoste te troef. Beleggings in beter genetika sal in die beeskudde beter vroulike diere teel, met genetika ook hoog op die agenda in die wildvertakking om so­doende goeie horinglengtes te verkry vir die jag- en teelmarkte. Sy planne vir die skaap- en varkvertakking sluit vir beide volhoubare groei in – wat Bloemzicht Trust net tot verdere hoogtes kan neem.

Wat meganisasie betref, word noukeurige rekords gehou van elke trekker se dienste en reparasies en werktye word deurlopend deur John Deere se operasionele sentrum bygehou.

Pieter de Jager, Albertinia

Pieter de Jager boer sedert 2003 in die Albertinia-omgewing. Hy glo dat die landbousektor geleent­hede skep wat produsente toelaat om proaktief op te tree.

Pieter de Jager het laat in 2003 by die familieboerdery aangesluit na voltooiing van sy meestersgraadstu­dies in Landboubestuur. Hulle het die plaas Wiehmansfontein naby Albertinia gekoop waar hulle vandag steeds woon. Aanvanklik was wolskape, volstruise en dekriet die boerdery se primêre inkomstebron, terwyl vleisbeeste en kleingraan slegs ’n klein deel van die omset uitgemaak het. Tussen die twee De Jager-broers is die bestuur van die veevertakkings verdeel, aangesien hulle rondom verskillende boerderyeenhede woonagtig was.

Vanaf 2010 het Pieter met al hoe meer ywer op die graanvertakking begin fokus met die oog op beter winsgewendheid. Vandag maak graan ongeveer 80% van die boerdery uit, met wolskaap en vleisbees 20%. Alhoewel diversifikasie be­langrik is, is die De Jagers se fokus op her­investering in hul landboubedrywighede.

Hulle verbou kontantgewasse op ongeveer 3 900 ha droëland waarvan koring die grootste aanplantings verteenwoordig, gevolg deur kanola, radyse en lupiene. Weiding en aangeplante weiding maak die som van die boerderybedrywig­hede op. Die veefaktor behels ’n kommer­siële wolskaapboerdery vir slaglamproduksie en ’n kleiner vleisbeesboerdery vir speenkalfproduksie.

Produksiepraktyke behels ’n langtermynwisselboustelsel op hoërisikogronde met vyf jaar se lusern as weiding en drie jaar kleingraan. Op gronde met laer risiko word ’n continuous cropping-stelsel gebruik waar lande elke jaar geplant word sonder enige rusfase. Hierdie lande word tipies met breëblaar- en grasgewasse afgewissel, byvoorbeeld koring en kanola. Grondhulpbronne word vir optimale opbrengs bestuur om volhoubaarheid na te streef. Kleingraangewasse word op alle gronde behalwe laepotensiaalgronde geplant. Daar is dus nie spesifieke grond vir spesifieke gewasse geoormerk nie.

Aangesien die oorgrote meerderheid hektare as ’n continuous cropping-stelsel bestuur word, is wisselbou uiters belangrik. Die afwisseling van gewasse onderbreek die siektesiklus aangesien die verskillende gewasse nie dieselfde siektes opdoen nie. Buiten kanola se penwortelstelsel, het dit ook ’n natuurlike berokingseffek op die grond wat grondgesondheid bevorder.

Die De Jagers verbou droëlandkontantgewasse op ongeveer 3 900 ha, waarvan koring die grootste aanplantings verteenwoordig, gevolg deur kanola, radyse en lupiene.

Gegewe die klimaat is gewaskeuse redelik beperk, alhoewel die wydste moontlike spektrum gebruik word om die volle voordeel van wisselbou te benut.

Pieter het vanaf 2003 stelselmatig na geenbewerking begin oorskakel en sedertdien is konvensionele bewerking nog nooit weer toegepas nie. Hy verbou graan in ’n marginale reënval­area waar vogbewaring in die somer van kardinale belang is vir wintergewasse. Oesreste word oopgesprei tydens die oesproses en someronkruid word chemies beheer om grond onversteurd te laat – wat verder verhoed dat grondvog verlore gaan. Hierdie tipe bewerking behou die grond so naby as moontlik aan die natuurlike toestand wat struktuur, grondlewe, organiese materiaal en grond­gesondheid betref. Pieter glo die bewerkingstelsel het ’n groot rol in die sukses van die graanboerdery gespeel.

Presisieboerdery word reeds vanaf 2008 toegepas toe daar begin is om kalk en fosfate veranderlik toe te dien. Jare se dataversameling het Pieter in staat gestel om alle kunsmis en kalk veranderlik toe te dien volgens grondchemie, stroperdata en satellietbeelde. Alle planters, spuite en strooiers dien kunsmis en chemie veranderlik toe. Hy streef daarna om elke vierkante meter van die grond individueel te bestuur om sodoende die grond so produktief moontlik te benut. Alhoewel tegnologie ’n duur uitgawe is, is dit volgens hom deur en deur die moeite werd en word dit as ’n langtermynbelegging gesien.

Die bemestingsbeleid bepaal dat elke voedingstof in die grond bo sy kritieke waarde moet meet. Ruitpatroonontledings word dus vier- tot vyfjaarliks op elke grondeenheid gedoen met kalk wat dan veranderlik toegedien word. Fosfate word geleidelik in die vier jaar tot die volgende ontleding veranderlik toegedien volgens wat die plante gaan onttrek tesame met dit wat nodig is om bo die kritieke vlak te kom. Kalium word veranderlik gestrooi na aanleiding van ruitpatroongrondontledings en stikstof word veranderlik gestrooi volgens gewas, reënval en opbrengspoten­siaal gebaseer op grondligging en historiese opbrengsdata. Aangesien feitlik alle oesreste op die grond gelos word en mikrobe-aktiwiteit deur middel van die geenbewerkingspraktyk bevorder word, dien dit as ’n mate van organiese bemesting.

Kultivarkeuses word bepaal na aanleiding van opbrengs van ’n spesifieke kultivar, wat die grootste rol speel naas siekteweerstand. Verder word die groeitydperk van verskeie kultivars ook in ag geneem. Tipies word langgroeikoringkultivars eerste geplant om ryp te vermy. Kanolakultivars word aangeplant om die blomtyd van die totale kanola-aanplanting te verleng om swambespuiting en die oesproses te vergemaklik. Die area het ’n groot variasie in opbrengs van jaar tot jaar aangesien dit droëlandverbouing is met variërende reënval. By gronde met ’n laer risiko wat ’n beduidende langtermyn- bruto marge het, word ’n continuous cropping-stelsel gebruik waar slegs kontantgewasse verbou word sonder enige oorlê- of weidingsfases met 80% van die gewasse wat bestaan uit kanola en koring wat jaarliks gewissel word. Op hoërrisikogronde word van ’n langtermynwisselboustelsel gebruik gemaak waar kontantgewasse vir drie jaar geplant word, waarna dit vir vyf jaar onder lusern gevestig word vir die wolskape om te benut.

Plaagmiddels teiken spesifieke plae en word afgewissel om weerstand te voorkom.
Vir die kanola gebruik Pieter ’n unieke bemarkingsplatform waar verskillende prysingsmodelle gebruik word.
Op die plaas Wiehmansfontein naby Albertinia maak graan ongeveer 80% van die boerdery uit en wolskaap 20%.

Navorsing is vir Pieter uiters belangrik en ’n perseel word jaarliks beskikbaar gestel vir die Wes-Kaapse Departement van Landbou waar Sclerotinia-monitering en -navorsing gedoen word. Pieter self en die departement het weerstasies op die plaas waarvan die data spesifiek vir siektemodelle beskikbaar gestel word. Kultivarproewe is ook al aangeplant sowel as proewe vir kultivarevaluasies en bemesting.

Plaagbeheer is van kardinale belang met ’n fokus op spesifiek slakke op die kanola. Die graad van infestasie van insekte op kanola en lupiene is heelwat groter as op koring en gars. As gevolg daarvan word so ver moontlik teikenspesifieke plaagmiddels ge­bruik om nie onskadelike of predatoriese insekte dood te maak nie. Aangesien die geenbewerkingstelsel ’n gunstige mikroklimaat en omgewing vir mikrobes skep, is dit ook die ideale omgewing vir sekere plae soos veral slakke, isopode en ander kewers.

Pieter self asook die Wes-Kaapse Departement van Landbou het weerstasies op die plaas waarvan die data spesifiek vir siektemodelle beskikbaar gestel word.

Plae word afsonderlik hanteer en beheer. Onkruide word chemies en nie meganies beheer nie en someronkruidbeheer neem ’n aanvang direk na die oesproses. Hy poog om onkruiddoders af te wissel om weerstand te voorkom.

Pieter bestuur die boerdery as ’n besigheid en alhoewel langtermynvolhoubaarheid nagestreef word deur in harmonie met die natuur graan te produseer, word feitlik alle besluitneming met winsgewendheid in gedagte geneem. Die bestuur van kontantvloei en korttermynskuld is deurslaggewend – die finansiële beplanning, betalings en sekere admini­stratiewe take word deur Pieter self bestuur om seker te maak die kontant­vloei word gemonitor. Die kontantvloeibegroting word konserwatief benader met akkurate rekordhouding die belangrikste aspek vir kort-, medium- en langtermynbeplanning om likiditeit en gesonde kon­tantvloei te bestuur. Agcommandor word daagliks gebruik om finansiële inligting, insetkoste en alle data in te voer vir die vergemakliking van bestuur. Die program gee ’n onmiddellike oorsig oor die bruto marge per hektaar, kamp, gewas, plaas en seisoen waarvolgens bestuurs- en beplanningsbesluite geneem word.

Meganisasiebestuur word op verskeie stelsels gemonitor en rekord word gehou deur die Afriklok-stelsel en John Deere se operasionele sentrum. Pieter verseker dat alle masjinerie in ’n goeie toestand bly om staantyd te voorkom, wat ’n gereelde vervangingsbeleid op masjinerie tot gevolg het. Kontrakteurs word slegs gebruik wanneer dit tot ekonomiese voordeel van die boerdery is en word meestal beperk tot lugbespuiting en vervoer van graan.

Pieter het ’n sterk arbeidsmag op die plaas vir die grane en die veekomponent, met deeltydse arbeiders wat slegs inge­span word wanneer nodig. Konsultasies vind daagliks plaas en senior arbeiders word by finansiële besluitneming betrek.

Wat bemarking betref, word die vee bemark wanneer slaggereed of wanneer uitgeskot word, met wol wat direk na skeer bemark word. Vir die kanola gebruik Pieter ’n unieke bemarkingsplatform waar verskillende prysingsmodelle gebruik word. Aangesien kanola reeds voor Desember verkoop word, word die koringbemarkingstrategie daarby aangepas. Koring word deur verskillende agente bemark om by ’n wyer inligtings­poel te baat. Lupiene word na oestyd aan medeprodusente of ander instansies verkoop. Graan word tydelik opgeberg in ’n graanhanteringsfasiliteit, hoofsaaklik om logistiek en lewering by landboube­sighede te vergemaklik.

Pieter dien al vir amper 20 jaar op die bestuur van die Albertinia-landbou­vereniging en verteenwoordig die distrik op verskeie oliesaadplatforms. Hy glo in die uniekheid van die landbousektor as gevolg van goeie leierskap en ’n positiewe gesindheid. Landbou is geneig om geleent­hede te skep om proaktief op te tree. Pieter is ’n toonbeeld dat sukses eerstens by die individu begin, maar dat ’n spreekbuis ononderhandelbaar is om namens die produsent op te tree waar elkeen individueel nie ’n impak op die makro-ekonomiese beleidsplatforms, die politieke veld, wetgewing of die bestuur van nasionale hulpbronne het nie. Hy het ten doel om verder in sy presisieboerdery te investeer wat sy arbeidsmag betref en om stelsels vir beter kommunikasie daar te vestig.

Met sy passie vir boerdery en ’n visie dat alle rolspelers in Suid-Afrika in harmonie saamwerk om die landbousektor van ’n volhoubare toekoms te verseker, lê daar ’n blink toekoms vir Pieter voor.

Meganisasiebestuur word op verskeie stelsels gemonitor en rekord word gehou deur die Afriklok-stelsel en John Deere se operasionele sentrum.