Inligtingstegnologie voeg al baie jare waarde toe in kommersiële landbou. Die moderne produsent het wegbeweeg van die tradisionele benadering dat die rekenmeester op die dorp verantwoordelik is vir boekhouding en administrasie.
Vandag is graanprodusente groot, suksesvol en dinamies en gebruik hulle alle vorme van tegnologie om hul besighede te bevorder. Tegnologie word gebruik in alle fasette van ’n landboubesigheid, met presisietegnologie wat aangewend word om grond voor te berei en gewasse te saai, te onderhou en te oes.
Brandstofbestuur is fundamenteel deel van hierdie tegnologiese revolusie en denkstroom. Die “internet van dinge” maak dit moontlik vir die masjien om op enige tyd en plek met die mens te kommunikeer. Dit word met groot vrug aangewend in die brandstofbeheerproses. Die massabrandstofstoortenk kan kommunikeer hoeveel brandstof ontvang en uitgegee is. Die pomp kan kommunikeer aan watter toerusting, hoeveel, aan wie, datum, tyd en plek. Die pomp kan ook verder kommunikeer vir watter land, gewas en aktiwiteit die diesel gebruik is.
Hierdie tegnologie kan vandag ingespan word om die beheer en bestuur van brandstof makliker en meer doeltreffend te maak asook om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) gelukkig te hou.
Klein jakkalsies
Tydige en akkurate brandstofbestuursinligting bly ’n kopseer vir baie graanprodusente. Papierrekords wat wegraak en foute met die neerskryf van uurmeterlesings, liters, datums, tye en drywers is en bly ’n probleem en bemoeilik bestuur en behoorlike beheer.
Die gemiddelde graanprodusent bestee tussen 11% en 13% van insetkoste aan brandstof. Wat die saak verder kompliseer, is die feit dat brandstof se prys nie afkom nie. Brandstofheffings word toenemend gebruik om die staat se boeke te laat klop.
As een liter brandstof wegraak, kos dit die produsent R22,50. As 100 ℓ wegraak, kos dit R2 250 en as daar 500 ℓ wegraak of kort afgelewer word, kos dit R11 250 of 3,5 ton mielies teen R3 200/ton.
Indien daar 500 ℓ met elke derde brandstofaflewering wegraak, kan dit tot R176 000 per seisoen verlore laat raak. Dit sluit nie eers in wat wegraak uit toerusting en/of vermors word deur slegte bestuurgewoontes nie. Dit is die klein jakkalsies wat die wingerd opvreet en hierdie klein jakkalsies word meer, slimmer en gulsiger.
Baie besighede is nog aangewese op die eerlikheid en integriteit van personeel, veral as brandstof gemeet word deur te “dip” en die lesings neergeskryf word. Die produsent is dan ook aangewese op die integriteit van personeel en akkuraatheid van inligting.
Wat die saak vererger, is die feit dat brandstof uiters verhandelbaar is op die informele mark. Indien daar elke dag 20 ℓ van ’n 380 ℓ-tenk afgetap word, sal die produsent dit nie maklik agterkom nie. Hierdie verliese kruip weg in gemiddelde brandstofverbruiksyfers.
’n Groot voordeel wat produsente het, is die dieselrabat wat hulle kan teruggeëis van SARS. Hiervoor is akkurate en deeglike brandstofbeheerrekords egter nodig aangesien SARS dit gereeld oudit.
Tegnologie tot die redding
Elektroniese brandstofbeheerstelsels en -toerusting kan aangewend word om hierdie probleme hok te slaan. Tegnologie stel produsente vandag in staat om self tydige, akkurate en relevante inligting te bekom – op die selfoon, tablet of skootrekenaar. Dit is moontlik om op enige stadium te sien hoeveel brandstof in watter massatenk oor is, wanneer daar bestel moet word, en die bevestiging van hoeveel werklik afgelewer is. Dit is ook moontlik om brandstofverbruik intyds te bepaal.
Die volgende beginsels moet toegepas word:
- Skakel alle geskryf uit.
- Brandstofbeheerinligting moet outomaties elektronies vasgelê word.
- Inligting moet intyds deurgestuur word na ’n sentrale punt.
- Akkurate uur- en odometerlesings is uiters belangrik.
- Gaan elke brandstofaflewering na en ontvang brandstof verkieslik voor 8:00 in die oggend.
- Rekonsilieer brandstofverbruik per massatenk, mobiele tenk en voertuigtenk.
- Gaan brandstofverbruik daagliks na.
- Indien moontlik, kontrakteer ’n onafhanklike party om brandstof te beheer en te bestuur.
- Die rede vir enige dieselgebruik moet akkuraat per voertuig vasgevang kan word.
Om te meet is om te weet … en om te weet stel die produsent in staat om doeltreffend te bestuur.