’n Nuwe seisoen

Gepubliseer: 31 Augustus 2023

362

Beste Grootneef

Die droë, wit seisoen van 2023 het plotseling tot ’n einde gekom. Die vorige week was daar nog soggens ryp oor die veld gestrooi met ’n yslaag op die waterkrippe. Skaars ’n week later is die dag- en nagtemperature se ysige snykante getemper met die lente wat moeiteloos oor die Vrystaatse vlaktes ingewig het.

Lente se warmer weer is eerste deur die brandveld met helder groen uitloopsels begroet. Net so die wilgerbome in die vlei – die droë, vaal winter­takke het begin bot met die helderste van groen. Wanneer graspolle in die veld oopgevou word, kan die nuwe spruite gesien word. Die veld en die diere van die veld het die lente met volle oorgawe begroet, in afwagting op die eerste reën om die vlaktes af te stof.

Augustus se winde het egter ook van tyd tot tyd vlamme teen die bulte uitge­dryf wanneer ’n oop vuur buite beheer geraak het. Ou Neef, dit vat net een vonk om vlam te vat – dan hardloop ’n vuur en spring bo-oor ’n pad.

Die brandvelde en die vlaktes wag vir die dans van die reën.

Ou Neef, net soos die veld in afwagting is op die nuwe seisoen se reën, so is boere ook aan die woel om lande betyds reg te kry vir someraanplantings. Die winteroes is af, die saad en kunsmis reeds bestel en die dieseltenks is vol. Planters word versien. Alles is reg om af te skop vir ’n somerdryfmaal om betyds die saad in die grond te kry. En dan volg boere se hoop dat die reën betyds en gereeld sal kom om die oes tot stroop­tyd deur te sien.

My potlood se punt vir die nuwe seisoen is reeds so skerp gemaak dat daar net ’n stukkie potlood oor is. In ons geweste, as jy grondvoorbereiding en bemesting doen vir ’n mielie-opbrengs van 4,5 ton per hektaar, gaan dit jou bykans R12 800 per hektaar kos. Om gelyk te breek – sodat almal betaal kan word – is ’n opbrengs van minstens 3,5 ton per hektaar nodig. Dis nou bereken op Julie 2024 se Safex-kontrak van R3 840 per ton.

Ou Neef, nie almal het aptyt vir sulke risiko’s nie. Om kos te produseer, sit nie in almal se broek nie. Sou jy mielies wou invoer, beloop die goedkoopste invoer­pariteitmielies vandag R5 115 per ton, vanuit Argentinië. En onthou, daardie is geelmielies en nie stapelvoedsel-witmielies nie.

Om dan te loop staan en sing dat boere wat voedsel vir die land produseer doodgemaak moet word, is gewoon onbesonne. Want die lied “Kill the Boer, kill the Farmer” kan in ’n oogwink in ’n treurmare van hongersnood verander. Dink so daaroor – as die landerye nie meer vol graanoeste staan nie omdat dié wat boer nie meer kan nie, of doodgemaak is soos in die lied gevra word, waar sal die land se brood, vleis en pap vandaan kom?

Ou Neef, mag dit ’n nuwe seisoen van voorspoed wees, met reën op die regte tye en met wysheid om betyds die regte besluite te neem. En sonder politiekery wat landbou onmoontlik kan maak.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.