Bly weg van pikloram … beheer skraalhans eerder só

Gepubliseer: 31 Augustus 2023

922
Dr Maryke Craven,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Dr Gerhard Verdoorn, bedryfs-en-rentmeester-skapbestuurder,
CropLife SA

Skraalhanse is geharde, semihoutagtige, hoofsaaklik winteronkruide wat laat in die seisoen ontkiem wanneer gewasse al fisiologies ryp, maar nog voor oes is (Foto 1).

Wat veral in hierdie onkruid se guns tel, is sy harige blare wat die opneem en binnedring van onkruiddoders bemoeilik. Frustrasie onder produsente rakende gebrekkige skraalhansbeheer wat soms verkry word met geregistreerde onkruiddoders, het sommiges genoop om te kyk na pikloram as ’n moontlike oplossing in hul spuitprogramme. Daar is egter ’n hele paar probleme wat met hierdie gebruik verband hou.

Bietjie meer oor pikloram
Pikloram is ’n sistemiese onkruiddoder wat geleidelik via die vaatbundels na die res van die plant versprei word en dan, soortgelyk aan 2,4D, as ’n sintetiese groeihormoon optree wat onbeheerde en gedisoriënteerde groei bevorder. Normaalweg word pikloram-bevattende produkte ingespan om diepgewortelde kruidagtige en houtagtige plante in die bosboubedryf, bewaringsgebiede asook in weivelde te beheer.

Skraalhans-saailinge wat laat in die seisoen ontkiem het.

Hierdie middel is hoogs wateroplosbaar, weerstandig teen biotiese en abiotiese afbrekingsprosesse en is een van die beweeglikste onkruiddoders in die grond. Dit word baie stadig in die grond afgebreek, met halfleeftye wat wissel van een maand tot etlike jare. Omdat pikloram verder nie baie sterk aan grondmolekules bind nie, loog dit besonder vinnig en maklik vanuit die grondprofiel. Geen verdere afbreking vind plaas wanneer dit in grondwater beland nie en dit kan vir jare in die water teenwoordig wees. Pikloram hou dus ’n uiters groot gevaar in met betrekking tot grondwaterbesoedeling en daaropvolgende skade aan aangrensende lewende plantegroei weens afloop of drywing. Dit kan ook uit behandelde plante se wortels na die grondprofiel toe uitlek en weer deur naburige plante opgeneem word. As gevolg van hierdie inherente eienskappe van pikloram, is dit nie geregistreer vir gebruik op enige plaaslike gewasse nie.

Tog poog sommige produsente om skraalhanse te beheer deur tenkmengsels van glifosaat gemeng met 10% pikloram toe te dien. Hierdie praktyk is nie net onwettig nie (strydig met etiketvoorskrifte), maar is ook baie gevaarlik omdat dit nou in produksiegebiede toegedien word. Gevolglik is daar al verskeie gevalle aangeteken waar gewasskade voorgekom het. Waar indringerbome byvoorbeeld langs waterbronne met pikloram behandel is en die water vir besproeiing op sagte gewasse soos tamaties en soetrissies gebruik is, het die plante bloot net koppe omgedop by ’n groeihoogte van 5 cm en geen verdere groei getoon nie. In ander gevalle het opvolggewasse soos sojabone erge fitotoksiese skade gekry of swak ontkiem. Pikloram het dus die potensiaal om breë­blaargewasprodusente in die toekoms groot skade op die hals te haal. Produsente word ten sterkste afgeraai om enigsins van pikloram op gesaaides gebruik te maak.

Plaaslike navorsingsbevindings rakende skraalhansbeheer
As alternatief is daar baie inligting beskikbaar wat deur plaaslike ou­teurs oor effektiewe skraalhansbeheer gepubliseer is. Almal is dit eens dat ’n geïntegreerde benadering gevolg moet word vir die beheer van skraalhanse wat wisselbou, grondbewerking, gewaskeuse en chemiese beheer insluit. Verder is produsente reeds goed vertroud met die beginsel dat ouer onkruide aansienlik moeiliker beheer word as saailinge en dat onkruide meer effektief beheer kan word as hulle aktief groei en nie onderworpe is aan stresfaktore soos droogte nie.

Skraalhanse kan effektief deur grondbewerking beheer word, maar dit is uiteraard nie ’n voorkeuropsie vir produsente wat bewa­ringspraktyke toepas nie. Vir hierdie produsente is daar egter steeds wisselbou, kultivarkeuse en chemiese onkruidbeheer beskikbaar om hierdie spreekwoordelike bul by die horings te pak. Waar skraalhanse egter heeltemal buite beheer is, kan dit help om wel die eg deur die land te trek. So ’n bewerking sal ook bydra om laatseisoenoordrag-insekeiers en -larwes te vernietig.

Wisselbou gee nie net die geleentheid dat daar verskillende on­kruiddoders gebruik kan word nie, maar dit kan ook ’n herfsbespuiting moontlik maak in gevalle waar ’n hoogloopspuit nie beskikbaar is nie. Plaaslike navorsing met spuitprogramme wat deur die onkruideenheid van die LNR-Graangewasse uitgevoer is, het bevind dat in 73% van die spuitprogramme waar daar tydens April (2022) ’n herfsbespuiting op ’n glifosaatweerstandige skraalhanspopulasie toegedien is, daar steeds teen Februarie (2023) effektiewe skraalhansbeheer verkry is. In Foto 2 kan gesien word hoe skraalhanse steeds teen planttyd (in Oktober 2022) beheer was. Die herfsbespuiting is moontlik gemaak deur ’n kortgroeier-sojaboonkultivar wat teen April (2022) geoes kon word en makliker toegang tot die jong skraalhans-saailinge verleen het. In hierdie geval het gewas- en kultivarkeuse bygedra tot beter skraalhansbeheer.

Beheer van glifosaatweerstandige skraalhanse in Oktober 2022 in ’n geenbewerkingsland na ’n herfsbespuiting in April van dieselfde jaar. Die groen bane verteenwoordig die kontrolepersele waar daar geen doder toegedien is nie.

In teenstelling is swakker skraalhansbeheer met lentebespuitings (September 2022) verkry omdat die skraalhans-plante teen daardie tyd al groter en meer gehard was met beter ontwikkelde wortelsisteme (Foto 3). Met die lentebespuiting het een of twee toedienings tussen 80% en 90% skraalhansbeheer gegee tot met nege weke na toediening. Dit was ook nodig vir ’n dubbele toedieningstegniek (double knock) soos byvoorbeeld om parakwat toe te dien sewe dae nadat ’n glifosaat plus 2,4D-tenkmengsel toegedien is.

Skraalhans-plante in ’n geenbewerkingsland tydens September 2022 voordat ’n lentebespuiting gedoen is.

Produkte se etikette moet noukeurig nagevolg word met tenkmengsels, dosis­se, toedieningsvolumes en toedieningsmetodes. Hergroei van skraalhanse kan na ’n aanvanklike bespui­ting (Foto 4) verder beheer word deur parakwat toe te dien teen hoë watervolumes (300 ℓ/ha). Atrasien en 2,4D-tenkmengsels kan ook ingespan word mits die etiketinstruksies nagevolg word en die residuele effek van atrasien vir opvolggewasse in gedagte gehou word.

Groen hergroei wat gedurende die lente met parakwat beheer kan word.

Een van die groot haakplekke met laatseisoen-skraalhansbeheer is wanneer produsente wat glifosaatweerstandige mielies produseer, vliegtuie inspan om glifosaat en selfs die onwettige glifosaat/pikloram-lugbespuitings oor die glifosaatweerstandige mielies te doen. Daar is geen glifosaatbevattende onkruiddoders wat geregistreer is om glifosaat met lugtoediening oor volwasse of amper-ryp mielies toe te dien nie.

Verskeie kwelvrae hang oor dié kwessie waarvan die eerste is of glifosaat effektief deur die blaredak van mielieplante kan dring om die onkruide op die grond te bereik. Die effektiwiteit van so ’n toedie­ning sal dus afhang van hoe dig die plante geplant is en die vlak van afdroging van die gewas tydens toediening (met ander woorde die omtrek rondom die plant wat deur sy blaarmateriaal opgeneem word wat die onkruiddoder sal onderskep).

’n Tweede vraag is of daar ’n onaanvaarbare residu van glifo­saat (en pikloram) op die mielies agterbly. Derdens is daar die netelige kwessie van onkruiddoderdrywing wat tydens lugbespuiting plaasvind as daar nie by die reëls en riglyne gehou word nie. Daar is jaarliks verskeie insidente waarin produsente wat gewone mielies plant, uitwissende gewasskade ondervind as gevolg van drywing vanaf glifosaatbestande mielies se glifosaatbespuiting. Sou daar nog boonop pikloram by wees, is sulke produsente se landerye vir gewasrotasie gedoem omdat pikloram teen ’n baie lae konsentrasie ’n ouksieneffek op breëblaargewasse het.

Navrae kan gerig word aan dr Craven (083 366 3662) of dr Verdoorn (082 446 8946).