Hoe verander grondchemie met presisiepraktyke?

Gepubliseer: 4 Julie 2023

361
Dr John Tolmay, Nitrophoska
Karen Truter,
Buro vir Voedsel- en Landboubeleid; Stellenbosch Universiteit
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Die gebruik van presisiestelsels vir grondchemiereg­stellings in Suid-Afrikaanse boerderye is reeds ’n gevestigde praktyk. Sommige produsente is al in hul tweede of derde siklusse van regstellings op dieselfde grond. Dit is interessant om terug te kyk na wat oor die lang termyn gebeur wanneer die toekomstige rondes beplan word – en om te sien hoe die prentjie verander.

Doel van presisieregstellings
Die doel van grondchemieregstellings deur presisiepraktyke is om kalk, gips en ander produkte so akkuraat as moontlik toe te dien, teen die regte hoeveelheid en op die regte plek – vandaar die algemene verwysing na presisieregstellings. In die proses word grondchemiedata op ’n voorafbepaalde GPS-gekoppelde ruitbasis gemonster en die inligting word dan met behulp van geografiese inligtingstelsels (GIS) in kleurvolle chemiekaarte omskep. ’n Goeie voorbeeld van die proses is op die plaas Tarka in die Oos-Vrystaat waar presisiegrondmonsters in 2019 en 2022 geneem is (Figuur 1 en Figuur 2).

’n Landboukundige gebruik dan die kaarte en die laborato­riumdata om aanbevelings vir elke GPS-punt op die gegewe land te maak. Die veranderlike regstellings word gewoonlik vir kalk, gips, fosfaat en kalium gemaak, maar ’n groot verskeidenheid ander produkte kan ook op dieselfde wyse toegedien word. In die Tarka-voorbeeld is daar gemiddeld 1,9 t/ha dolomitiese kalk in 2019 benodig (Figuur 3) om die pH reg te stel en suurversadiging aan te pak. In plaas daarvan om breedwerpig ’n gemiddeld van 2 t/ha toe te dien, word die voorgestelde kalk versprei soos aangedui in die hoeveelhede soos benodig per spesifieke punt.

Figuur 1 en 2: Presisie-pH-kaarte vir die plaas Tarka in 2019 (1) en 2022 (2).
Figuur 3 en 4: Voorgestelde kalkregstellings vir Tarka in 2019 (3) en 2022 (4).

In praktyk beteken dit dat daar GPS-punte was waar daar meer as 2 t/ha toegedien sou word, maar terselfdertyd was daar GPS-punte waar minder as 2 t/ha nodig was. Soortgelyk kan fosfaatvlakke waar nodig ook reggestel word. Die aanbevelingskaart(e) word ook in elektroniese formaat aan die kliënt verskaf wat dan leesbaar is deur die presisie-uitstrooitoerusting om die regstelling(s) veranderlik op plaasvlak toe te dien.

Die hoër kalkhoeveelhede hou direk verband met areas op die pH- en suurversadigingskaarte waar pH laer en suurversadiging hoër is. Dit sluit aan by die beginsel van presisiepraktyke: toedienings teen die regte hoeveelheid en op die regte plek.

Langtermyneffek van presisieregstellings
Presisieregstellings is nie ’n eenmalige proses nie – afhangend van die grondtipe en omgewingstoestande word dit elke drie tot vier jaar herhaal. ’n Opsomming van toepaslike inligting van lande waar meer as een ronde presisie gedoen is, word in Tabel 1 aangedui. Op die plaas Arcadia in die Sentraal-Vrystaat is die grond voor 2018 op die standaard- breedwerpige manier bekalk. Die gemiddelde pH in 2018 was 5,05 en bekalking is gedoen na ’n mikpunt van 5,50 deur die gebruik van ’n gemiddelde peil van 1,7 t/ha. Met die daaropvolgende monsterneming (2022) het die gemiddelde pH verbeter na 5,15 en die daaropvolgende bekalkinggemiddeld het afgekom na 1,1 t/ha.

Op ’n ander plaas in dieselfde distrik (Skeba) het die gemiddelde pH baie na aan dieselfde gebly, maar die gemiddelde kalkbehoefte het met 700 kg/ha gedaal, vanaf 1,6 na 0,9 t/ha. Dieselfde tendens is waar­geneem by Anyskop op kamp TL04 in die Swartland waar die gemiddelde pH oor tyd van 5,16 na 5,70 gestyg het en die kalkbehoefte afgeneem het vanaf 1,3 na 0,8 t/ha. Al hierdie lokaliteite het ’n gunstige aanvangs-pH (pH>5) gemeen en bekalking was hier meer vir onderhoud van grondvrugbaarheid as vir regstellings van ernstige grondsuurheid­probleme.

In teenstelling hiermee, was die gemiddelde pH op die plaas Tarka in 2019 slegs 4,35 (Figuur 1). Met die tweede monsterneming in 2022 het dit verder gedaal na 4,26 (Figuur 2) ten spyte van die feit dat die kalk veranderlik toegedien is. Die kalkbehoefte het ook in ooreenstemming hiermee verhoog vanaf 1,9 na 2,7 t/ha. Op die oog af is dit teleurstellend, aangesien ’n mens sou verwag dat die grondvrugbaarheid sou verbeter en nie agteruitgaan nie. As die grondkaarte verder bestudeer word, kom ’n mens egter agter dat ’n groot gedeelte van die plaas (36%) uit ligte gronde met lae KUK-waardes (katioon­uitruilkapasiteit) van tussen 2 en 3 bestaan wat vinnig kan versuur na bekalking. Op dié tipe ligte gronde kan ’n mens slegs beperkte hoe­veelhede kalk suksesvol op ’n slag toe­dien. Indien daar in die periode tussen die twee monsternemings goeie reënval voorgekom het en uitstekende opbrengste verwyder is, is vinnige herversuring oor ’n driejaarperiode (soos in hierdie geval) heeltemal verklaarbaar.

Was dit dan wel die moeite werd om op hierdie lande presi­sieregstellings te doen? Ja, beslis! Die situasie sou heelwat erger gelyk het as dit nie die praktyk was nie. Die beste manier om hierdie tipe herversuringsituasies te bestuur, is om meer gereeld grondmonsters te neem. Veral in gevalle waar die produksievermoë van die grond verbeter as gevolg van die regstellings en daarmee saam die opbrengste van gewasse verhoog, wat dan terselfdertyd die versuring van die grond versnel.

Winsgewendheid
Wanneer daar verwys word na die winsgewendheid van presisie­kalktoediening, is daar gereeld twyfel by produsente of dit werklik die moeite werd is. Dit is nie goedkoop om grondmonsters op ’n ruitbasis te laat ontleed nie en ook nie om kalk met ’n veranderlike strooier toe te dien nie. In sommige gevalle is dit groot hoeveelhede kalk wat aangekoop en uitgestrooi moet word – veral in die beginstadium van die opname van presisiepraktyke. Die vraag bly dan steeds of die somme klop en of dit enigsins finansiële voordele vir die produsent inhou.

Die gevallestudie by Tarka se opbrengste was per land beskikbaar vir interpretasie gedurende die periode van monsterneming. Oor die hele plaas het die mielie-opbrengste in die tydperk met ongeveer 25% verhoog, terwyl die sojaboonopbrengste met ongeveer 18% verhoog het. Wanneer ons na ’n spesifieke land verwys, Tarka T1 (Figuur 3), dan het die land se mielie-opbrengs met ongeveer 53% verhoog, terwyl die sojabone met ongeveer 5% verbeter het. Hierdie verbetering kan toegeskryf word daaraan dat die kalk op die regte plekke teen die regte hoeveelhede toegedien is. Oorspronklik moes die land ’n gemid­deld van 2,5 t/ha kalk gekry het, maar met veranderlike toediening is daar onderskeidelik ongeveer een derde teen 2 t/ha, een derde teen 2,5 t/ha en een derde teen 3 t/ha Calmasil toegedien (Figuur 3).

Indien die winsgewendheid van die aksie gemeet word, het die 53%-verhoging in opbrengs op Tarka T1 ’n addisionele inkomste van R6 900/ha gelewer (teen ’n mielieprys van R3 000/ton). Die uitgawes vir kalk wat uitgestrooi is asook die presisie-ontledings en uitstrooi­koste was ongeveer R2 770/ha. Dit beteken dat Tarka T1 ’n wins van R4 100/ha gerealiseer het. Indien die hele plaas ontleed word, neem die opbrengs met 18% toe en die wins per hektaar verhoog met R1 800. In totaal, oor die hele 135 ha van die plaas, was daar dus ’n addisionele inkomste van R243 000 gewees.

Gevolgtrekking
’n Mens verwag dat grondvrugbaarheid normaalweg sal verbeter soos wat die siklusse van presisieregstellings herhaal word. Dit is nie altyd die geval nie. Die doelwit is juis om ’n vlak van onderhoudregstel­lings te bereik waar slegs klein regstellings gemaak moet word om die vlakke by die optimale norme vir gewasproduksie te hou. In gevalle waar daar ’n agterstand met regstellings is, of groter probleme is as wat aanvanklik deur ’n enkele (eerste) ronde reggestel kan word, blyk dit dat dit langer neem om onderhoudstatus te bereik.

Grondchemiese regstellings op ’n presisiebasis bly steeds die akkuraatste manier om toediening van duur insette soos kalk en fosfaat te bestuur. Hierdie metode gebruik die nodige grondchemiese data om die beste moontlike oplossing te verskaf waarvolgens elke situasie bestuur moet word. Alhoewel daar baie gevalle is waar insette soos kalk, gips en fosfaat mettertyd afneem, moet die doelwit eerder wees om die nodige regstellings op die regte plek teen die regte hoeveelheid toe te pas.

Op die duur moet daar gestreef word om deur middel van ver­anderlike regstellings die variasie in grondchemie oor lande te verminder of meer uniform te kry. Uniforme grondchemiese ontledings vergemaklik dan die res van die seisoen se gewasbestuur, verhoog effektiwiteit en verminder moontlik oor die lang termyn ook die variasie in opbrengs. Hierdie voordele is wel nie net gegrond op die agronomiese voordele van die proses nie – selfs vanuit ’n ekonomiese oogpunt maak veranderlike toediening van kalk sin.

Neem wel in ag dat dit nie nét grondchemie is wat veranderlik deur presisiepraktyke reggestel kan word nie, maar ook sommige grond- fisiese eienskappe. Hierdie eienskappe het óók ’n invloed op die opbrengs van gewasse. Beter verspreiding van beperkte en duur hulpbronne, verbetering van gewasse se vermoë om verskillende stresfaktore te hanteer en verhoging in opbrengste regverdig die addisionele ontledings- en toedieningskoste. Met die oog op die lang termyn en die volhoubaarheid van ’n landboubesigheid maak hierdie praktyk deur en deur sin.

Vir meer inligting kan dr John Tolmay by 082 562 7987 of Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Die publikasie van die inligting is moontlik gemaak deur die beskikbaarstelling van inligting deur Corné Rossouw (TL Precise), tesame met die toestemming van Kynoch en Nitrophoska vir gebruik en saamstel van die bogenoemde inligting.