Wees ingelig oor sojas se onttrekkingsyfers

Gepubliseer: 3 Julie 2023

671
Derick Wessels, landboukundige, Omnia Nutriology

Sojaboonaanplantings het die afgelope twee seisoene uitstekend in die Vrystaat presteer. Die La Niña-weerverskynsel het oor groot dele van Suid-Afrika se saaigebiede vir bo-normale reënval gesorg. Produsente het dus sojabone geplant aangesien dit versuiptoestande beter hanteer as ander gewasse soos mielies.

Hoëpotensiaal-watertafelgronde het in die 2022/2023-somer­seisoen in ’n risiko ontaard. Die grondprofiele is reeds vol na versuipskade en oordragvog vanaf die vorige seisoen. Weens die penwortelstelsel, hoër plantestand en agronomiese eienskappe, kon sojabone die versuiptoestande beter hanteer.

Die geweldige styging in insetkoste was ’n verdere motivering vir produsente om na alternatiewe gewasse te kyk. Vir heelwat produsente was dit die eerste keer dat sojabone geplant is. Gaan dit ook die laaste keer wees? Die meeste van die nuwe toetreders tot die sojaboonbedryf was bewus van al die uitdagings, soos om die korrekte entmiddel te gebruik asook die potensiële probleme tydens strooptyd. Desnieteenstaande het produsente uiters goeie opbrengste behaal.

Wisselbou tussen sojabone en mielies hou ook groot voordele vir die produsent in. Ten spyte van al die voordele van sojabone, is daar ’n paar aspekte wat in gedagte gehou moet word. Hoeveel voe­dingstowwe onttrek sojabone uit die grond en hoe kan dit vervang word? Hierdie is uiters belangrike vrae wat beantwoord moet word.

Onttrekking van voedingstowwe
In Tabel 1 word die onttrekking van voedingstowwe volgens die Bemestingshandleiding van Suid-Afrika voorgestel. Op internasio­nale vlak wys ’n navorsingstudie deur die Universiteit van Michigan in die VSA (2017), dat sojabone 5,8 kg fosfaat/ton en 19,2 kg kalium/ton onttrek. Indien sojabone se onttrekking vergelyk word met ander gewasse soos mielies en sonneblomme, is dit duidelik dat sojabone ’n hoër onttrekking het van beide fosfaat (P) en kalium (K). Indien die oesreste van die land af verwyder word, is dit selfs van groter belang dat hierdie voe­dingstofverwydering in gedagte gehou word. Die impak van voedingstowwe se verwyde­ring op die grondstatus is deurslaggewend en kan deur presisiegrondontleding bestuur word. ’n Soja­boonopbrengs van 4 t/ha kan teoreties die kaliumstatus met tot 32 mg/kg verlaag.

Sandgronde het ’n lae vashouvermoë van katione soos kalium, kalsium en magnesium. Alhoewel die meeste plaaslike gronde voldoende hoeveelhede kalium bevat, kan sojabone hierdie vlakke baie vinnig verlaag na selfs onder die norm. Fosfaat is onbeweeglik in die grond en kan daarom oor tyd “opgebou” word tot gewenste vlakke. Fosfaat is ook die duurste element wanneer dit by kuns­miskoste kom. Alhoewel die impak van fosfaatonttrekking minder is as ’n element soos kalium, bly dit steeds uiters belangrik om ook fosfaat te bestuur.

Om werklik terug te sit wat deur ’n 3 t/ha­-sojaboonoes onttrek word, moet daar 120 kg kalium/ha en 27 kg fosfaat/ha toegedien word. Die persepsie is dat sojabone nie bemes hoef te word nie, maar die produsent moet bewus wees daarvan dat sojabone wel baie voedingstowwe opneem en dit dus deur die oes verwyder word. Om sojabone werklik op lang termyn deel van ’n boerdery se wisselboupraktyk te maak, moet grondvoedingstatus noukeurig bestuur word.

Figuur 1 is ’n voorbeeld waar grondmonsters getrek is voor en na twee jaar van soja­boonoeste en een mielieoes. Dit is duidelik dat sojabone die fosfaatstatus in die grond met 11 mg/kg verlaag het. Op nog ’n plaas in die Bultfontein-distrik het die kaliumstatus met 10 mg/kg verlaag na twee sojaboonoeste in ’n wisselboustelsel met mielies wat goed bemes is asook een jaar oorgelê het (Figuur 2). Deur gebruik te maak van presisieboerderypraktyke kan produsente voedingstowwe teen die regte peil en op die regte plek toedien. Grond- chemiese ontledings en stroperdata is twee bronne van inligting wat baie waarde kan toevoeg tot regstellings.

Figuur 1: Die verskil in fosfaatstatus na twee sojaboonoeste en een mielieoes.
Gemiddelde fosfaatstatus het vanaf 38 mg/kg na 27 mg/kg verlaag.
Figuur 2: Die verskil in kaliumstatus na twee sojaboonoeste afgewissel deur mielies en een jaar se oorlê. Die gemiddelde kaliumstatus het vanaf 134 mg/kg na 124 mg/kg verlaag.

Dit is ook belangrik om te onthou dat 80% van die fosfaat en 30% tot 40% van die kalium wat deur die plant opgeneem word in die saad opeindig en verwyder word. Dit beteken dat 20% van die fosfaat en 60% tot 70% van die kalium in die plantmateriaal vasgevang is en deur mineralisasie weer in die voedingsiklus hersirkuleer word (Mosaic, 2014). Baie van die kalium word uit die ondergrond onttrek en die plantreste wat mineraliseer bly in die bogrond agter.

Bestuur van die ondergrondchemie is net so belangrik om optimale opbrengs in die toekoms te verseker. Navorsing in Brasilië het bewys dat Roundup Ready-groep 2-kultivars 15% meer fosfaat en 21% meer kalium onttrek as nie-Roundup Ready-kultivars (Fillipi et al. 2021). Kultivars word al hoe beter daarmee om voedingstowwe meer optimaal te benut. Plaaslike navorsing op moderne kultivars is egter noodsaaklik om die nuutste riglyne in die bemestingshandleiding te ondersoek.

Bronne

  1. Bemestingshandleiding van Suid-Afrika, 8ste hersiene uitgawe, 2016
  2. Mosaic, AgriSight, The impact of high yields on deficient soils, 2014
  3. Filippi et al. 2021. Concentration and removal of macronutrients by soybean seeds over 45 years in Brazil: a metal-analysis.
  4. Silva G. 2017. Michigan State University Extension, Nutrient removal rates by grain crops. 2017