Aanpasbaarheid onder die loep by Nasie in Gesprek

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 3 Julie 2023

244

Verskeie hoogs insiggewende gesprekke en paneel­besprekings is tydens NAMPO by Nasie in Gesprek op NAMPO Park aangebied. Die tema, “Verander of sneuwel”, het die tafel gedek vir gesprekke oor onder andere klimaatsverandering, voedselsekerheid en die kragkrisis wat dreig om die landbousektor te kelder.

Die besprekingspunte, met die fokus op veranderende omstandighede wat landbourolspelers dwing om aanpasbaar te wees, is deur Senwes bedink en gedryf.

Anlie Hattingh, eNCA-nuusanker, en Theo Vorster, HUB van Galileo Capital, was die fasiliteerders tydens die gesprekke. Dit is die elfde bestaansjaar van dié landbougespreksforum wat deur Graan SA en Senwes op die been gebring is.

Aanpasbare families
Die eerste gesprek het die belangrikheid van opvolgbeplanning vir familieboerderye uitgelig. Gerhard Bruwer, produsent van Genade Boerdery naby Douglas, het gesels oor sy ervaring as produsent en die noodsaaklikheid om elke rolspeler/familielid se sterkpunte in die besigheid te benut. Dr Stefan Strydom van SS Wealth en ’n spesialis op die gebied van trusts en boedels, het gesê produsente moet waak teen emosionele besluitneming en moet die familieboerdery so professioneel moontlik bestuur.

Tony Belshaw van VOS Quantum Solutions, kundige en toonaangewende konsultant op die gebied van familiebesigheid, het vertroue en vertrouensverhoudings voorop gestel om te verseker dat ’n familieboerdery volhoubaar bly. “As gesinne nie opvolgbeplanning as noodsaaklik beskou nie, sal die onderneming nie die generasies oorleef nie,” het Vorster bygevoeg.

Theo Vorster, dr Louis de Kock Jr, Francois Strydom, Cyril Prinsloo, Theo Boshoff en dr Pieter Taljaard tydens die sessie oor veranderende waardekettings.

Wanneer die klimaat verander
Klimaatsverandering kan ’n kontroversiële onderwerp wees met uiteenlopende sieninge. Tydens die paneelbespreking oor die onderwerp het Agri SA se Janse Rabie (’n lid van die presidensiële klimaatskommissie), gesê dat die regering klimaatsverandering ernstig opneem. Hy meen egter dat daar met groter erns na die impak daarvan op water, kos en energie gekyk moet word.

Volgens Gerhard van der Burgh, landbou-ekonoom by die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), mitigeer produsente die effek van klimaatsverandering al die afgelope 150 jaar, maar is die impak daarvan nog nie ten volle meetbaar nie. Graan SA-voorsitter, Derek Mathews, stem saam dat klimaat al vir jare verander en fluktueer en dat produsente geleer het om aan te pas. “Klimaatsverandering is niks nuuts nie, produsente verstaan hoe belangrik gesonde grond is,” het hy gesê.

Die paneel het saamgestem dat daar nog baie navorsing gedoen moet word om die impak van klimaatsverandering op volhoubare boerdery te verstaan.

Opheffing van landelike gebiede
Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem, het tydens die gesprek oor landelike ontwikkeling en herstel gesê een suksesverhaal lei tot meer suksesverhale. “As jy mense vandag kos gee, sal jy hulle môre moet voed. Mense in landelike gebiede moet nie net oorleef nie, maar floreer. Aan die einde van die dag dra baie klein stukkies by tot iets groots.”

Nick Serfontein van die Sernick-groep het die rol wat landbou in die heropbou van landelike gebiede speel, beklemtoon. Hy het uitgelig dat landbou tydens Covid-19 met 15% gegroei het. “Landbou dra 8% by tot die BBP en het 890 000 mense in diens. Jy hoef nie Einstein te wees om te weet dat landbou een van die belangrikste dele van Suid-Afrika se ekonomie is nie.”

As voorbeeld van hoe landelike dorpe opgehef kan word, het André van Pletzen van Ignite and Revive Kroonstad vertel hoe hulle die verval van dié dorp aktief teengewerk het. Volgens hom sou Kroonstad teen 2016 geen water gehad het nie en dat die gemeenskap ingespring het om die situasie te beredder. Jeremia Mathebula, Graan SA se visevoorsitter, het die gedagte ondersteun deur gemeenskapslede aan te moedig om betrokke te raak. “Gaan net uit en doen die regte ding. Laat ons nie wag nie. Maak seker Suid-Afrika se ekonomie floreer,” het hy bygevoeg.

Pas aan met min krag
Die gesprek oor die energiekrisis het baie belangstelling gelok en die Nasie in Gesprek-ateljee was stampvol toe paneellede Jan Oberholzer (groepbedryfshoof by Eskom), Eugene Booysen (HUB van die Kaapstadse Aandelebeurs), Cor Kraamwinkel (Webber Wentzel), Rudi Dicks (NECOM) en Nico Liebenberg (Greenpak & Senwes) die netelige saak bespreek het.

Liebenberg het die finansiële druk op produsente weens kragonderbrekings uitgelig en vertel dat sy boerdery 100% op kragopwekkers kan funksioneer. Dit kos hom egter R1,5 miljoen per maand indien die opwekkers agt ure per dag aangeskakel moet word. Hy het bygevoeg dat die koste om alternatiewe energie te installeer ongeveer R1 miljoen per 100 kVA uitwerk.

Oberholzer het die versekering gegee dat Eskom ten alle tye ’n reserwe van 2 200 MW het. “Sodra die kapasiteit nie genoeg is vir die aanvraag nie, die 2 200 MW-reserwe ingesluit, word die beurtkragfase verhoog om ’n blackout te voorkom,” het hy verduidelik.

Kraamwinkel het op sy beurt oor die belas­tingvoordeel vir investering in alternatiewe energie gepraat. “Ná die minister se aankondiging vroeër vanjaar kan jy nou die hele kapitaalbedrag in die eerste jaar met ’n bykomende 25% aftrek,” het hy gesê. Lees ook sy raad aan produsente op bladsy 96.

Dink nuut oor finansiering
Antois van der Westhuizen (John Deere Financial), John Hudson (Nedbank), Wikus Grobler (Grainlink), Werina Griffiths (Adams & Adams) en Abrie Rautenbach (Absa) was op die paneel wat landboufinansie­ring bespreek het. Die vraag wat hulle moes beantwoord was: Moet daar ’n gedagteverandering kom wat landbou­finansiering betref?

Daar is uiteindelik tot die vergelyk gekom dat soos wat tegnologie aanpas om landbou te verbeter, so moet landboufinansiering ook aangepas word om volhoubaarheid te waarborg.

In die verlede het agribesighede as ‘n bank vir die kliënt opgetree om sy aankope te finansier. Grobler het verduidelik dat dit nie meer die geval is nie: “Kapitaal het veral die afgelope twee jaar baie skaars en duur geword. In die toekoms sal maatskappye en banke al hoe meer saamwerk om sekere aankope van kliënte te finansier. Dit sal beslis ook die geval wees met landboumaatskappye,” het hy bygevoeg.

Besoekers aan NAMPO kon elk van die agt gespreksessies bywoon en deelneem deur vrae te vra.

Veranderende waardekettings
Waardekettings verbind die produsent en verbruiker en moet voortdurend in stand gehou word. Só is die sessie oor die volhoubaarheid en deursigtigheid van die waardeketting ingelyf. Paneellede in hierdie gesprek was: Francois Strydom (Senwes), dr Pieter Taljaard (Graan SA), Louis de Kock Jr (Nile.ag), Cyril Prinsloo (onafhanklik) en Theo Boshoff (Agbiz). Tydens die gesprek het dit duidelik geword dat beter kommunikasie nodig is om waardekettings deursigtig te hou.

Dr Taljaard het die drie bedrywe binne die graanwaardeketting opgesom, naamlik die insetverskaffingsmaatskappye, die produ­sente en die afnemers. Hy het die belangrikheid van bekostigbare voedsel uitgelig.

Strydom het verduidelik dat sowat 40 hoofkommoditeite in Suid-Afrika geproduseer word. Meer as die helfte hiervan word uitgevoer. “Daar is groot geleenthede binne die landbou. Die ingeligte verbruiker wil al hoe meer weet wat werklik in die hele produksieproses gebeur. Ons moet kyk na meer gesofistikeerde waardekettings en nie net bly by persepsies waarmee ons grootgeword het nie.”

Opnames van die gesprekke is beskikbaar op www.nationinconversation.co.za.