Wanneer familie saam boer

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Junie 2023

557

Deel 5 – Oorwin persepsies en floreer

Die laaste onderwerp in die reeks oor familie wat saam boer, handel oor finansiële risiko’s wat uniek aan familieboerderye is. Soos dit is hou boerdery vele finansiële risiko’s in – wat strek van die onvoorspelbaarheid van die natuur tot politieke onstabiliteit. Daarby is egter ook risiko’s wat die familie as sodanig betrek en waarvoor beplan moet word sodat dit nie die boerdery aan bande lê nie.

Navorsing toon dat familieboerdery ’n suksesvolle besigheids­model kan wees mits dit reg bestuur word, sê Yolandi Kruger, direkteur en landbou-adviseur by Dunamus Agri Advisory en dr Johan Beukes, direkteur van Authentic Living Learning.

Tog oorleef min familieboerderye tot na die tweede geslag. Die persepsie bestaan dat familiewelvaart in een generasie geskep word, deur die volgende uitgebrei of gehandhaaf word en deur die derde generasie verloor word. Die sukses van familieondernemings word aan die onderneming se finansiële welstand of dié van die familie gekoppel.

Prof John A Davies, ’n internasionaal erkende pionier en ge­saghebbende op die gebied van familieondernemings het oor jare navorsing gedoen om te bepaal hoe welvaart geskep en behou word en het ook die bogenoemde “driegenerasie-persepsie” getoets.

Hy het ’n raamwerk ontwikkel om die vloei van familiewelvaart oor tyd te illustreer (Figuur 1). Volgens hom word familiewelvaart gewoonlik deur die eerste of tweede generasies geskep en uitgebrei, waarna dit een van drie roetes kan volg:

Figuur 1: Vloei van familiewelvaart.

Roete 1 – Welvaart neem natuurlik af
’n Familieonderneming kan binne drie generasies welvaart skep, ontwikkel en verloor. Die onderneming of boerdery volg hierdie roete wanneer 1) die familie die boerdery se bates vinniger opgebruik as wat hulle bates bymekaarmaak, 2) die boerdery in ’n veld sake doen wat nie meer relevant is nie, of 3) die boerdery nie bybly met tegnologiese ontwikkeling nie.

Roete 2 – Welvaart neem vinnig af
Die redes vir vinnige afname van welvaart is dieselfde as die redes vir Roete 1, met bykomende risiko’s wat opduik, soos die volgende:

  • Die familie neem swak besluite en stel die onderneming aan risiko’s bloot wat tot groot finansiële verliese lei.
  • Familiebates moet weens konflik soos egskeiding, onverwagse dood van kernrolspelers of ’n regsgeding verdeel word.

In sulke gevalle kan familieondernemings hul welvaart in ’n kort tyd verloor en moet bates verkoop en verdeel word of aangewend word om skuld te delg.

Roete 3 – Welvaart neem toe (volhoubare groei)
Families met die vermoë om finansieel goed te vaar en welvaart oor generasies te behou en te laat groei, is op die roete van “volhoubare groei”.

Uit prof Davies se navorsing slaag families wat die volgende filosofieë volg en praktyke in hul ondernemings beoefen:

  • Belê in ’n sterk bestuurder of span wat operasionele aktiwi­teite lei.
  • Bly eensgesind binne die familie en bewaar die eenheid.
  • Bly gefokus op die familie se visie en missie.
  • Bestuur leefstyluitgawes noukeurig.
  • Diversifiseer op die regte tye.
  • Ontwikkel die familie se talente en vaardighede, insluitend elke generasie se vermoë om geld te maak en welvaart vir die familie te skep.

Aan die hand van prof Davies se navorsing is dit duidelik dat finansiële risiko’s wat nie bestuur word nie, ’n snelle ondergang vir die onderneming kan beteken.

Die teendeel is ook bewys. Wanneer hierdie risiko’s goed bestuur word, stel dit die familie in staat om die boerdery vir volhoubare groei oor generasies heen te bestuur.

Volgens die boek Familieboerderye in Suid-Afrika deur Elmarie Venter, Theo Vorster en George Robertson, is geldelike risiko’s iets waarmee produsente van dag tot dag saamleef. “Aan sommige daarvan (soos natuurrampe) kan niks gedoen word nie, maar goeie beplanning kan help om baie ander risiko’s te verminder.”

Die skrywers raai produsente aan om kundige raadgewers te nader om die verskillende risiko’s in ’n familieboerdery te identifiseer sodat die regte bates deur die regte ondernemingsvorme besit word. Só kan verhoed word dat die familieboerdery ondergaan wanneer dinge begin skeefloop.

Yolandi Kruger en dr Johan Beukes kan by die volgende e-posadresse bereik word – landi@dunamus.co.za en 1johanbeukes1@gmail.com.