Sclerotinia-stamvrot – so maak produsente

Gepubliseer: 12 Junie 2023

784
Lizette Nowers,
Wes-Kaapse Departement van Landbou

Die swam Sclerotinia sclerotiorum veroorsaak Sclerotinia-stamvrot (SSV) by kanola (Brassica napus). Dit is dieselfde patogeen wat ook stamvrot by sojabone en stam- en kopvrot by sonneblomme veroorsaak (Foto 1-3).

SSV is ’n sporadiese siekte wat seisoen en area betref. Die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WKDL), met die ondersteuning van die Olie- en Proteïensaadontwikkelingstrust (OPOT) en die Proteïennavorsingstigting (PNS), monitor jaarliks die voorkoms van die siekte op kanola in die Wes-Kaap. Die provinsie het in 2022 baie lae SSV-infeksiekoerse aangeteken – in skrille kontras met die hoë infeksiekoerse wat in 2021 en 2020 aangeteken is.

Foto 1-3: Sclerotinia sclerotiorum op 1) kanola, 2) sojabone en 3) sonneblom.

Groot kopseer
Daar is verskeie redes waarom SSV-beheerstrategieë besonder uitdagend is – van die uitdagings sluit die volgende in:

    • Hierdie swam produseer oorlewingstrukture genaamd sclerotia, wat vir baie jare in of bo-op die grond kan oorleef.
    • Meer as 400 plantspesies (meestal tweesaad­lobbiges) is vatbaar vir die swam, daarom is dit moeilik om te vermy.
    • Chemiese beheer is ingewikkeld weens die volgende redes:
      • Produsente kan nie wag totdat simptome verskyn nie, want swamdoders moet gespuit word vóór infeksie plaasvind (voorkomend).
      • Swamdoders se effektiewe periode is korter as die moontlike infeksieperiode (naamlik die hele blomperiode).
      • Die belangrikste infeksie-area is die hoofstam naby aan grondvlak, maar die digte groeiwyse van kanola bemoeilik effektiewe bespuiting op daardie teikenarea.
      • Geen geneties-weerstandbiedende kanolakultivars is tans beskikbaar nie.

Goeie “boereraad”
Franco le Roux, bestuurder van Klipdale Boerdery in die Klipdale-area van die Overberg-distrik, is welbekend met die verbouing van kanola (Foto 4). SSV is vir die afgelope klompie jare op sommige van sy kanolakampe gemonitor en die syfers is in Tabel 1 opgesom.

Franco le Roux, bestuurder van Klipdale Boerdery in die Klipdale-area van die Overberg-distrik.

Aangesien Le Roux ’n passievolle landbouer is met bewese insigte in die suksesvolle produksie van kanola, kan daar met aandag geluister word wanneer hy vertel oor sy ervaringe en idees rakende die bekamping van SSV.

  • Volgens Le Roux is beplanning die eerste stap tot sukses. Hy raai produsente aan om die uitgangspunt te hê dat daar wél Sclerotinia op die plaas teenwoordig is en dat hulle dus jaarliks voorbereid moet wees om dit in alle kanola-aanplantings te beveg.
  • Alhoewel hy wisselbou as ’n belangrike strategie beskou, beoefen hy tans ’n kort rotasie en maak staat op suksesvolle bespuiting met swamdoders.

    • Hy beklemtoon die prioriteit wat hy verleen aan swambespuitings tydens die kanolablomtyd deurdat hy koring- en garsaktiwiteite eers laat terugstaan totdat hy die SSV-bespui­tings afgehandel het.
    • Die aanbevole bespuitingstyd is tydens 30%-blomfase, maar aangesien dit moeilik is om te skat wanneer ’n aanplanting presies op daardie stadium is, begin hy spuit “as die kanola al lekker geel is voordat die blomme begin afval”.
    • Met verwysing na Tabel 1, vertel hy van sy 2020-ervaring toe hy twee swambespuitings drie weke uit mekaar toegedien het en steeds beduidende infeksie gekry het. Toe hy egter in 2021 ’n korter periode tussen bespuitings oopgelaat het, was sy infeksiekoerse aansienlik laer.
    • Hy plant ook verskillende kultivars in een seisoen en hier is dit belangrik om te onthou dat kort groeiers anders as lang groeiers hanteer moet word. (Hou in gedagte dat hoe langer daar kanolablomme teenwoordig is, hoe meer geleentheid is daar vir siekte-ontwikkeling.)
    • Sy tweede bespuiting volg vanaf twaalf dae na die eerste bespuiting vir die kort groeiers en 18 tot 20 dae later vir die langer groeiers.
    • ’n Verdere uitgangspunt is dat wanneer die opbrengspo­tensiaal in ’n gegewe seisoen hoog genoeg is, ’n derde be­spuiting nie sinvol sal wees nie en in marginale jare sal hy selfs volstaan by een bespuiting in totaal.
    • ’n Bonusvoordeel daarvan om swamdoders korrek te gebruik, is dat nie slegs SSV geteiken word nie – Alternaria en swartstam (Leptosphaeria maculans) van die boonste plantdele word ook beheer. Boonop het sommige middels addisioneel tot siektebeheer ook ’n positiewe vergroeningseffek op kanola.
    • Afgesien van die tydsberekening, is effektiewe bespuiting uiters belangrik, aangesien infeksie onder die digte kanola­blaredak plaasvind. Daar word baie klem gelê om met die regte druppelgrootte te spuit om effektiewe bedekking te kry. Volgens hom is die regte druppelgrootte en bedekking belangriker as net die hoeveelheid water wat per hektaar gespuit word.
    • Aangesien die Sclerotinia-swam so ’n wye gasheerreeks het, handhaaf hy streng onkruidbeheer. Sommige produsente bespuit selfs lupiene met swamdoder.
  • Hy plant nie plaasvervaardigde (teruggehoude) saad nie.
  • Geenbewerkingspraktyke word gevolg.

Ten spyte van sy daadwerklike aksieplanne teen SSV, ervaar Le Roux steeds uitdagings met hierdie siekte. Die feit dat kampe groot is, verskillende hellings het en soms onegalig blom, dra daartoe by dat egalige bespuiting moeilik is. Juis daarom is twee bespui­tings ’n goeie idee om suksesvolle beheer te probeer verseker.

Dit is met groot dank dat die WKDL kan saamwerk met Le Roux en ander produsente soos hy. Die alomteenwoordigheid van Sclerotinia asook die swam se besonderse vermoë om in die natuur te oorleef en beheerstrategieë te systap, noop produsente en navorsers om hul kennis en ervaring – op plaasvlak en uit proewe – te kombineer in die stryd teen hierdie potensieel vernietigende siekte.

Enige navrae rakende die voorkoms van SSV op kanola in die Wes-Kaap kan gerig word aan lizette.nowers@westerncape.gov.za.

Graan SA-fotokompetisie – Piet Lombard, Januarie 2021