NW-produsente pas noodgedwonge aan by verandering

Gepubliseer: 12 Junie 2023

527
Petru Fourie,
landbou-ekonoom,
Agri Manage Solutions Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Aanpasbaarheid is ’n ononderhandelbare eienskap vir produsente wat volhoubaar wil bly produseer en voortbestaan.

Die westelike gedeelte van Noordwes (wes van Lichtenburg) is bekend as ’n streek waar die klimaatsomstandighede baie wissel. Soms is dit ongunstig, met ’n uiters negatiewe uitwer­king op gewasverbouing, maar net so kan dit ook gunstig wees met groot oeste. Weens die wisselvalligheid van die reënval in hierdie area word produsente ge­dwing om vinnige veranderings te maak om die risiko van die boerdery te beperk.

Sommige jare kom die lentereën laat en dan moet daar van mielies na sonneblom of ander gewasse oorgeswaai word. (Genadiglik het die produ­sente in hierdie area die moontlikheid om nog te kan oorskakel.) Sommige jare – veral na ’n misoes – moet produsente ook bedag wees en kyk na watter alternatiewe gewas vir hulle die hoogste rendement op belegging kan bring. Dit is hier waar die aanplantings dalk weer geskommel kan word.

In Grafiek 1 word die mielie-, sonneblom- en sojaboonaanplantings sedert die 2012/2013-produksie­jaar getoon.

Grafiek 1: Die mielie-, sonneblom- en sojaboonaanplantings van die westelike gedeelte van Noordwes (wes van Lichtenburg) vanaf die 2011/2012- tot die 2021/2022-produksiejare.

Hieruit is dit duidelik dat mielie-aanplantings in hierdie area oor tyd gedaal het. Sonneblomaanplantings het relatief konstant gebly, met sojaboonaanplantings – alhoewel klein – wat ’n positiewe groeitendens toon.

Wat het gelei tot hierdie verloop van sake? Lentereën, gewaswinsgewendheid, gewassekerheid en talle ander faktore kan ’n rol speel in produsente se besluit om spesifieke gewasse aan te plant.

Winsgewendheid
Grafiek 2 dui die werklike produksiekoste van sonneblom en mielies aan. Volgens die grafiek is dit duidelik dat sonneblom goedkoper as mielies verbou kan word. Hierdie feit maak dit vir produsente wat onder finansiële druk verkeer moontlik om dalk hul hele plaas vol te plant. As mielies eerder as sonneblom verbou sou word, kon daar 25% minder hektare verbou word. Die verskil in inkomste vir so ’n produsent is beduidend en boonop is die risiko by mielies groter.

In Grafiek 3 word die winsgewendheid van die mielie- en sonneblomvertakkings getoon.

Grafiek 2: Die werklike produksiekoste van mielies en sonneblom vir die Noordwes vanaf die 2010/2011- tot die 2021/2022-produksiejaar.
Grafiek 3: Winsgewendheid van mielies en sonneblom vanaf die 2010/2011- tot die 2021/2022-produksiejare vir die Noordwes.

Die Noordwes (veral die westelike gedeelte van die provinsie) het moeilike jare beleef in die verlede, wat verskeie produsente in ’n ernstige finansiële verknorsing gelaat het. Gronde was swaar belas en produsente moes die gordels styf intrek. Veral na die 2012/2013- en die 2014/2015-produksiejare was die gebied onder geweldige druk. Mielies het in hierdie jare groot verliese getoon, terwyl die sonneblomme omtrent gelykgebreek het. Sonneblom is bekend dat dit swaar jare beter hanteer as mielies en nie sommer ’n reuse­verlies maak nie, alhoewel dit kan gebeur soos in die 2020/2021-seisoen gesien kan word. Oor hierdie twaalf jaar het die sonneblomwins die mieliewins met ongeveer 20% geklop. Winsgewendheid verdui­delik in ’n groot mate die daling in mielieverbouing en die toename in sonneblomverbouing in 2013/2014 en die toename in die 2015/2016-produksiejaar.

Klimaat
Verder dwing klimaat produsente ook om hul aanplantings aan te pas. 2017/2018 was ’n produksiejaar gekenmerk deur laat reënval. Die lentereëns was laat en baie produsente kon nie mielies plant nie, met die gevolg dat meer sonneblom aangeplant is. Die enigste rede hiervoor was die feit dat daar tydens plant nie vog was nie.

Baie produsente in hierdie area is ook veeprodusente en die mielieoesreste is uiters belangrik vir die beeste se voervloei. Produsente sal bereid wees om mielies teen ’n verlies te verbou net om die mielie-oesreste in die winter vir die vee beskikbaar te hê – hulle is eintlik verplig om mielies te plant.

Produsente het hier ook oor tyd aangepas. Permanente aangeplante weiding word met groot sukses in kombinasie met gewasse verbou en sodoende word die boerdery se risiko ook heelwat verminder.

Wat gebeur in die res van die Noordwes-provinsie? Deur die oesskattingskomitee se jaarlikse aanplantings te ontleed, kan interessante feite waargeneem word.

In Figuur 1 word die verandering in die gewasverbouingspatrone oor die laaste 31 jaar aangedui.

Figuur 1: Persentasiebydrae tot totale oppervlakte in die Noordwes vir somergraanaanplantings.

Gedurende dié tydperk kan ’n afnemende tendens (%) van witmielieverbouing waargeneem word. Witmielies, wat groten­deels in die Noordwes aangeplant word, het 64% van die totale somergraanaanplantings in 1990 uitgemaak, terwyl dit afgeneem het tot 52% in die 2021-produksieseisoen. Geel­mieliehektare het sowat 24% van die oppervlakte uitgemaak, waarna dit stelselmatig afgeneem het tot 16% in 2010 en 11% in 2021. Die bydrae van sonneblomhektare tot totale somergraanaanplantings in die Noordwes het toegeneem vanaf 10% in 1990 tot 25% in 2010, waarna dit stelselmatig begin afneem het tot 22% in 2021.

Sojabone se persentasiebydrae tot die totale somergraanmandjie ten opsigte van hektare was weglaatbaar in 1990 en 2000. Volgens die grafiek het sojabone sowat 2% van die totale hektare in 2010 beslaan en het dit tot 12% in 2021 toegeneem!

So is dit ’n mite dat produsente aanpasbaar is? Beslis nie, daar is genoeg bewyse dat produsente proaktief optree om sodoende hul boerdery se voortbestaan te verseker.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.