Konstitusionele Hof bied sekerheid vir waterreghouers

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Junie 2023

303

Die Konstitusionele Hof het onlangs beslis dat water­reghouers wel daarop geregtig is om sodanige regte oor te dra ooreenkomstig die bepalings van die Nasionale Waterwet (Wet Nr. 36 van 1998). Die uitspraak het verder bevestig dat die ontvangs van finansiële vergoeding vir watergebruiksregte wat oorgedra word, nie verbied of onwettig in Suid-Afrika is nie.

Hierdie saak, met Lötter, Wiid en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Watergebruikersverenigings (SAAFWUA) as applikante, spruit voort uit ’n omsendskrywe wat in Januarie 2018 deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) uitgereik is en waarin die departement bepaal het dat watergebruiksregte nie oorgedra of verhandel kan word nie.

Die omsendskrywe was egter teenstrydig met die bepalings van Artikel 25 (1) en 25 (2) van die Nasionale Waterwet. Dit het verder die departement se aanvanklike vertolking van die wet asook sy vasgestelde praktyke in die oordrag van watergebruiksregte vanaf 1998 toe die wet in werking getree het en toegepas is, weerspreek.

Dit het daartoe gelei dat die applikante, met die ondersteuning van Agri SA, ’n aansoek by die Pretoriase Hooggeregshof ingedien het vir ’n verklarende hofbevel rakende die teenstrydige stellings in die omsendskrywe. Agri SA het fondse vir hierdie saak uit sy vrywillige waterfonds en regsfonds bewillig.

Die Hooggeregshof het egter op 19 Junie 2020 ’n uitspraak ten gunste van DWS gelewer waarna die applikante hulle tot die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein gewend het. Dié hof het op 8 November 2021 uitspraak gelewer dat waterreghouers wel die reg het om sodanige regte ooreenkomstig die Nasionale Waterwet oor te dra en dat dit nie verbode of onwettig is om handel te dryf met hierdie regte nie. ’n Kostebevel is ook teen DWS uitgereik. DWS het as laaste uitweg die Konstitusionele Hof genader om die saak op hersiening te neem. Die Konstitusionele Hof het egter in sy uitspraak op 15 Maart 2023 in ’n eenparige beslissing die Hoogste Hof van Appèl se beslissing ten gunste van die applikante gehandhaaf.

“Ten spyte van die uitspraak deur die Appèlhof ten gunste van Lötter, Wiid en SAAFWUA het Agri SA en die applikante ’n berede­nering in die Konstitusionele Hof verwelkom. Omrede water as ’n nasionale bate beskou word en Suid-Afrika oor skaars hulpbronne in dié verband beskik, was dit belangrik dat die Konstitusionele Hof in sy uitspraak ’n finale interpretasie moes lewer rakende die uiteenlopende standpunte ten opsigte van die handelsbevoegdheid van eienaars met waterregte ingevolge die Nasionale Waterwet,” het Agri SA se uitvoerende beampte van Regs- en Beleidsake, Janse Rabie, gesê.

“Die vermoë om sodanige regte te kan oordra van een persoon na ’n ander is egter nie net noodsaaklik vir die doeltreffende gebruik van water nie. Daar moet ook in gedagte gehou word dat toegang tot waterregte direk verband hou met die waarde van plaasgrond en die beginsel van eiendomsreg.

“Alhoewel die saak oor etlike jare gestrek het, was die positiewe uitkoms daarvan ’n regverdiging van die volgehoue verset teen die regering se negatiewe standpunt oor eiendomsreg. Die oppergesag van die reg het geseëvier en die land se boere kan dus voortgaan met hulle deurslaggewende rol om volgehoue voedselsekerheid vir die land te verseker.

“DWS het dan ook sedert Januarie 2018 geen aansoeke om oordragte van waterregte aanvaar of toegestaan nie. Dit het onder andere daartoe gelei dat selfs bemagtigingstransaksies ten opsigte van oordragte van waterregte nie kon plaasvind nie. Dit het tot groot verliese van waarskynlik miljarde rande in verbeurde ontwikkelings­geleenthede beloop omrede die toepassing van Artikel 25 van die Nasionale Waterwet, wat die mees effektiewe aanwending van water moontlik maak, nie kon plaasvind nie,” aldus Rabie.

Die finale en gunstige uitspraak deur die Konstitusionele Hof is ook deur die hoof- uitvoerende beampte van SAAFWUA, Nic Knoetze, verwelkom. “Dit stel besproeiingsboere, waterverbrui­kersverenigings asook besproeiingsrade in staat om voort te gaan om water effektief en volhoubaar op plaaslike vlak te bestuur,” was die mening van Knoetze.

Jaco Minnaar, voorsitter van Agri SA, het sy dank teenoor die applikante en hulle regspanne uitgespreek en die wyse waar­volgens hulle koers gehou het met hierdie belangrike saak. “Die Konstitusionele Hof se beslissing sal die landbousektor op verskeie fronte tot voordeel strek. Agri SA sal volhou om met die regering oorleg te pleeg en hom te beïnvloed om ’n regulatoriese en beleidsomgewing en samelewing te skep waarbinne al ons boere met sukses kan boer,” het Minnaar gesê.