Buiteland wink vir dié wat landbou neem

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 9 Junie 2023

510

Hoërskole begin toenemend om landboustudierigtings aan te bied en vele van hulle doen dit in same­werking met organisasies in die privaat sektor.

So het Hoërskool Martin Oosthuizen hande met Raisins SA gevat om ’n wynakademie in die Kakamas-omgewing op die been te bring. In die Vrystaat het Hoërskool Reitz in samewerking met vele rolspelers, waaronder Graan SA, ’n landbou-akademie gevestig.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het onlangs bevestig dat die huidige groeikoers van leerders wat minstens een tegniese landbouvak neem, 3,26% is. Die jaarlikse doelwit is 2%. Dié departement het sedert 2015 reeds 25 skole gevoeg by dié wat landbougerigte vakke aanbied.

EP Nel, die onderwysdepartement se vakadviseur vir landbou in die Vrystaat, bevestig dat skole toenemend landbouvakke aanbied omdat al meer Suid-Afrikaners glo dat hul heil in die landbou lê. Daar is vanjaar nagenoeg 125 300 matriekkandidate landwyd wat landbouwetenskap, 5 700 wat landboubestuurspraktyk en 2 800 wat landboutegnologie neem. Die Hoër Volkskool Potchefstroom het vanjaar landboubestuurspraktyk en landboutegnologie begin aanbied. Hulle het voorheen ’n tegniese baan gehad wat vakke soos sweis- en metaalwerk asook houtwerk ingesluit het. Hierdie vakke kon in kombinasie met wiskundige geletterdheid geneem word.

Johan Herbst, departementshoof: Landbou by hierdie skool, vertel dat die onderwysdepartement sowat vyf jaar gelede die besluit geneem het dat tegniese vakke voortaan in kombinasie met wiskunde geneem moet word. “In ons geval het dit beteken dat ons getalle van 38 leerders per klas na sowat ses gedaal het, wat gevolglik nie meer die tegniese baan regverdig het nie.”

Dié skool faseer dus nou hul tegniese rigting uit en vervang dit met landbouvakke. Herbst is bewus van sowat sewe skole in hul onmiddellike omgewing wat dieselfde roete volg.

Leerders van die Hoër Volkskool Potchefstroom het onlangs Agricol se Groendag bygewoon. Dit is die eerste jaar dat landbou as vak by dié skool aangebied word.

Buiteland
Volgens Nel behoort landbouvakke aan leerders voldoende insigte in die bedryf te gee om na skool regstreeks tot die landbousektor toe te tree. Dit is waar, veral as gekyk word na die gewildheid van Suid-Afrikaners wat op buitelandse plase gaan werk. Nel meen vakke soos landboubestuurspraktyk en landboutegnologie gee aan jongmense die vermoë om self pro­bleme op te los en selfwerksaam te wees wat bydra tot hul gewildheid as plaaswerkers oorsee.

Frikkie van Zyl, departementshoof: Landbou by Hoërskool Trio in Kroonstad, sê hulle sien ’n groot aantal leerders wat landbouvakke geneem het wat na die buiteland – ver­al die VSA – gaan om daar op plase te werk. Hy meen vele van hierdie mense kom wel terug na Suid-Afrika.

“Die meeste van hulle gaan daarheen om geld bymekaar te maak met die doel om met hul terug­keer by een of ander landbouge­rigte onderneming betrokke te raak.”

Ook Nel bevestig dat hier­die mense na Suid-Afrika terugkeer en by land­boubedrywighede betrokke raak. Hyself weet van heelwat jongmense wat terugkeer, vee aankoop en daarmee begin boer.

Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp bied reeds sedert 2013 drie landbougerigte vakke aan. Hul departementshoof: Landbou, Johan Louw, vertel dat dié skool met agt graad 10-leerders begin het. Tans is daar ongeveer 20 leerders per klas.

Henk Boonzaaier, Werner Kruger, Elbé van der Walt en Kara Muller van Schalkwyk (huidige graad 12-leerders van Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp) het die Nasie in Gesprek-sessie oor “Die toekoms van landbou: ’n nuwe generasie” by NAMPO 2022 bygewoon.

Louw sê hulle merk ook dat al meer leerders wat landbouvakke neem, na matriek buiteland toe gaan. Hy meen dat die praktiese kort kursusse wat Hoërskool Wesvalia saam met strategiese vennote soos Senwes asook die Simmentaler- en Dorpergenootskappe aanbied, hul leerders ’n bykomende voordeel bied.

Ekonomie
Netwerk24 het in April vanjaar berig dat die aantal jongmans wat as plaasarbeiders in Amerika gaan werk in die laaste 20 jaar met 470% gestyg het. Suid-Afrikaners is, naas die Meksikane, die grootste groep buitelandse werkers in die VSA.

Daar word beraam dat hierdie migrantewerkers die Suid-­Afrikaanse ekonomie met miljarde rande verstewig. Die feit dat die werkers se H2A-werksvisum hulle nie in staat stel om ’n Amerikaanse bankrekening te open nie, lei daartoe dat die meeste hul salarisse na Suid-Afrika terugbring. Neil Diamond, voorsitter van die Suid-­Afrikaanse sakekamer in die VSA, bereken dat ’n seisoenale plaaswerker tussen $40 000 en $60 000 met ’n sesmaandekontrak kan verdien.

’n Leerder van Hoërskool Trio in Kroonstad lei haar skool se kampioen-Santa Gertrudis-bul deur die ring by verlede jaar se NAMPO Alfa.

Doelwit
Op sy beurt beraam Louw dat ’n persoon na ses maande in die VSA om en by 50 beeste van goeie gehalte kan aankoop. “Indien so ’n persoon vyf keer kontrakwerk doen, kan hy ’n kudde van ongeveer 250 beeste opbou.”

Hy maan egter dat die jongmense wat hierdie weg volg ’n plan, doel en spesifieke ingesteldheid behoort te hê en ook dissipline aan die dag moet lê. “Hulle moet besef dat hulle arbeiderswerk gaan doen en spaarsamig met hul geld te werk moet gaan om hul doelwit te bereik.”

’n Verdere voordeel is dat hierdie jongmense van die vaardighede wat hulle in die buiteland aangeleer het, kan aanpas en in die Suid-Afrikaanse omgewing kom toepas.

Leerders van Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp spog met hul miniatuur­perde by NAMPO Alfa se junior byeenkoms. Hulle is Marizelle Erasmus, Sonell du Preez en Dioné Killian.

Jeugskou
Die Nasionale Landbou-jeugskou, wat ’n inisiatief uit die geledere van landbou-organisasies is, het in 1999 die lig gesien. Die doel is om ’n affiniteit jeens landbou by leerders te kweek, die geleentheid vir hulle te skep om aan buitekurrikulêre landbou-aktiwiteite deel te neem en ’n stel vaardighede te ontwikkel.

Hoërskool Wesvalia was verlede jaar die wenner in Noordwes en Louw beaam dat hierdie blootstelling aan leerders bykomende vaardighede gee om suksesvol in die (buitelandse) landbousektor te wees.

Landbouvakke op skool
Leerders kan in hierdie stadium die volgende landbou­gerigte vakke op skool neem: landbouwetenskap, landboubestuurspraktyk en landboutegnologie.

Landbouwetenskap fokus op die produksieprosesse, boerdery en ander elemente van landbou. Dit sluit die prosesse van alle landboubedrywe in en bespreek die aard van die landbou-onderneming, wetenskap, tegnologie en ingenieurswese.

Landboubestuurspraktyk (voorheen: akkerbou en veekunde) is ’n studie van die verwantskappe tussen grond, plante en diere, asook ’n studie van die produksie en verwerking van voedsel en ander landbou-aktiwi­teite soos die ekonomiese, estetiese en kulturele waarde van alle natuurlike hulpbronne.

Landboutegnologie fokus op tegnologie wat in die landbou gebruik word. Die vak dek die kennis hoe pro­sesse, gereedskap, toerusting, strukture en vaardighede deur produsente benut word om landbougrond te bewerk en voedsel en produkte te produseer.

Leerders kan een, twee of al drie van hierdie vakke as deel van hul keusevakke neem.